Takke

KOM HANG AAN ’N TAK

By die ATKV se takafdeling word Afrikaans nie net beleef nie – hier word dit gelééf! Van die oggend tot die aand, van biltong tot beskuit, van Ingrid Jonker tot Koos Kombuis, van Langlaagte tot Londen, van Secunda tot Sydney.

Hier is kultuur ’n passie wat nie net by ’n harts-ding bly nie, maar vinnig in doen-dinge verander. Elke dag voeg ATKV-takke die daad by die woord met ’n program propvol landswye aktiwiteite en projekte.

Natuurlik word dit gedoen vir die pure toonkrul-lekkerte, maar ewe belangrik gaan dit oor die gebruik van kultuur om mense wyd en suid toe te rus met die vaardighede en kultuurdiepte om die land van rugby en sonskyn uit te bou tot die land van hoop en geleenthede!

Ons weet dat Afrikaanssprekendes plesierig is en daarvan hou om te kuier en dinge saam te doen – nie net binne gesin- of skoolverband nie, maar ook as vriende. Die ATKV-takke bestaan uit vrywillige ATKV-lede vir wie kultuurbeoefening so lekker is soos ’n yskoue gemmerbier op ’n snikhete dag! Terwyl jy in Afrikaans kuier, leef en sommer alles doen, ontmoet jy boonop wonderlike mense wat ’n positiewe verskil in jou lewe en in gemeenskappe kan maak.

Die ATKV het benewens die twee streekskantore by sy hoofkantoor in Randburg ook streekskantore in Bloemfontein, Stellenbosch, Pietermaritzburg en Port Elizabeth. ’n Streeksorganiseerder, wat ’n professionele kultuurfasiliteerder is, wag by elke streekskantoor op jou navraag om jou met die beste kliëntediens op jou kultuurroete te help.

HOE DOEN ’N ATKV-TAK SY DING

Elke tak doen sy ding deur verskeie innoverende en sigbare gemeenskapsgerigte inisiatiewe, projekte en veldtogte. ’n Tak se projekte en werksaamhede word bepaal deur die inisiatief van die taklede self en hul eie sowel as die gemeenskap se behoeftes. Daar is egter vier hoof-kultuurfokusse waarop takke hul projekte fokus:

TAAL verwys na die geskrewe en gesproke taal.

KUNSTE verwys na die skeppende en uitvoerende kunste.

GEMEENSKAPPE verwys na die omgewing, sosiaal-maatskaplike aspekte en gesinswaardes.

ONDERWYS het die ondersteuning en motivering van opvoeders, leerders en ouers ten doel.

STIG JOU EIE TAK

Is daar nie ’n tak in jou omgewing nie? Klim op die ATKV se 4×4 en stig een! Die takafdeling by die ATKV se hoofkantoor in Randburg sal jou met raad en daad bystaan. Kontak ons en jy is op die regte spoor.

 

Facebook

Twitter

YouTube