Voordele vir lede
Die grootste voordeel wat ’n lid geniet is om rustig te wees in die wete dat ons namens hom of haar die Afrikaanse taal en kultuur op nasionale vlak bevorder en aan hom/haar die geleentheid bied om in die pret te deel!
Ad hoc- voordele
Die ATKV poog deurlopend om vir sy lede kultuurvoordele te beding. Hierdie voordele is gewoonlik vir beperkte tye beskikbaar soos byvoorbeeld spesiale afslag op produksies, musiekaande en ander aktiwiteite. Sulke aanbiedinge word op ons webwerf gelys. Ons stel ook ons lede daarvan in kennis deur middel van e-pos en SMS’e.
Die Taalgenoot
Lede ontvang elke kwartaal gratis die ATKV-tydskrif, die Taalgenoot (TG). Hierdie pragpublikasie het reeds verskeie toekennings vir sy inhoud ingepalm en bestaan uit ’n verskeidenheid artikels en nuusberigte oor al die kultuuraktiwiteite waarby die ATKV landswyd betrokke is.
Tersaaklike rubrieke en aktuele oorsigte is aan die orde van die dag, asook fokusartikels oor mense wat in die brandpunt van Afrikaans en sy kultuurdampkring staan.
TG dien ook as amptelike spreekbuis van die ATKV. Die inhoud skets ’n kleurvolle prentjie van die Afrikaanse taal, kultuur, leefstyl en gemeenskappe. Terugvoer oor die ATKV se werksaamhede, standpunte oor aktuele sake, kennisgewings soos die verhoging van ledegeld, inligting oor die ATKV se algemene jaarvergadering en ATKV-voordele word ook deur middel van hierdie tydskrif aan die lede oorgedra.
Individue wat nie ATKV-Iede is nie kan ook inteken op TG. Die intekengeld is op aanvraag beskikbaar, asook by http://www.mysubs.co.za/Taalgenoot.
Sluit ook aan by TG se Facebook-blad: www.facebook.com/taalgenoot.
Om te verseker dat jy elke kwartaal jou TG ontvang, is dit noodsaaklik dat jou kontakbesonderhede by hoofkantoor korrek is. Adresveranderings moet asseblief aan die ATKV verskaf word. Besoek gerus ons webwerf by www.atkv.org.za vir adresveranderings.
Hoezit!
Die ATKV gee ook ’n Afrikaanse tydskrif vir laerskoolkinders uit. Hoezit! bestaan sedert Maart 2008 en is landswyd op winkelrakke beskikbaar.
Hoezit! gesels met ouens en meisies tussen 8 en 14 jaar. Lesers kan uitsien na nuus oor hul gunstelingsterre, -musiek en -flieks, interessante inligting oor die wêreld, kulture, diere en tegnologie, raad oor hulle emosionele welstand, soos hoe om boelies te benader, en artikels wat hulle kan help met skooltake.
Daar is ook pretdinge soos woordspeletjies en sudoku’s vir ure se vermaak. Hoezit! wil graag elke Afrikaanssprekende kind aan die lees kry, en ander lesers lus maak om die taal te leer! ATKV-lede kry afslag as hulle inteken op Hoezit!
Hoezit! is ook aanlyn beskikbaar by http://www.mysubs.co.za/Hoezit.
Sluit ook gerus aan by ons Facebook-blad: www.facebook.com/ATKVHoezit.
Boekvoordeel
Lekker Afrikaanse boeke is deel van ons kultuur en daarom word daar jaarliks gekyk na ’n boekvoordeel wat lesers kan geniet. Die doel van hierdie voordeel is om lees te bevorder. Hou jaarliks hier teen die derde kwartaal die TG dop om seker te maak dat u die boek van u keuse bestel.
Studielenings
’n Beperkte aantal studielenings word aan ATKV-Iede en hul afhanklike kinders toegeken vir studie aan ’n goedgekeurde tersiêre instelling. Aansoeke word geëvalueer waarvolgens punte toegeken word vir byvoorbeeld akademiese en kulturele prestasie, sportdeelname en finansiële behoeftes.
Die studielening beloop ’n maksimum bedrag van R15 000 per jaar vir die studietydperk. Uitbetaling is onderhewig aan die suksesvolle afhandeling van die betrokke studiejaar se voorgeskrewe vakke.
Rente op die studieleningsbedrag is maandeliks betaalbaar en word bereken teen drie persent gedurende die tydperk van studie (agt persent vir deeltydse studie) en agt persent ná verstryking van die studietydperk.
Die terugbetaaltydperk is een en ’n half keer langer as die aanvanklike minimum voorgeskrewe studietydperk. Die administrasieheffing word ingevolge die Nasionale Kredietwet gehef terwyl versekering met betrekking tot doodsdekking ook gehef word.
Aansoekvorms is jaarliks teen Julie by die ATKV-hoofkantoor beskikbaar. Volledig ingevulde studieleningaansoekvorms moet die ATKV voor of op 15 Oktober van elke jaar bereik.
Beurse
Die ATKV bied ’n beperkte aantal voorgraadse studiebeurse van R60 000 elk aan vir studente wat tersiêre studies wil onderneem. Die beurse is hoofsaaklik vir studierigtings in die onderwys en media.
Verder ken die ATKV een merietebeurs van R30 000 toe vir voltydse nagraadse studie aan ’n goedgekeurde tersiêre instelling.
Die Platinumbeurs word toegeken aan ’n student vir nagraadse studie aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir ’n meesters- of doktorsgraad. Die bedrag beloop R100 000 per jaar. Die studierigtings word jaarliks deur die ATKV bepaal.
Die beursvoorwaardes en bepalings word op die ATKV se webwerf by www.atkv.org.za geplaas en aansoekvorms is jaarliks vanaf Juliemaand af beskikbaar. Die sluitingsdatum vir voorgraadse en nagraadse beurse is 30 November, terwyl die Platinumbeurs se sluitingsdatum 28 Februarie is.
Skoolhulpfonds
Die ATKV stel beperkte finansiële hulp beskikbaar om behoeftige lede by te staan met die betaling van skoolfonds en die aankoop van skoolklere. Aansoekvorms is jaarliks van Augustus af by die ATKV-hoofkantoor beskikbaar en moet die ATKV voor 31 Oktober van die betrokke jaar bereik.
Sterftefonds
’n Lid kwalifiseer vir die ATKV se sterftevoordeel van R3 000 indien die lid by aansluiting jonger as 55 jaar was of is.
Die hele gesin van die lid word deur hierdie voordeel gedek. In die geval van kinders geld die dekking tot en met mondigwording van ’n kind of totdat ’n kind ’n voltydse betrekking voor mondigwording beklee.
Vir aansoek om die uitbetaling van sterftefondsvoordele moet die ATKV-lid die volgende dokumente indien:
ATKV-Iede se lidmaatskapgeld moet opbetaal wees alvorens die eis vir uitbetaling oorweeg word.
Voorkeurbesprekings
As lid is jy ook geregtig op voorkeurbesprekings by enige van die ATKV se sewe wonderlike vakansieoorde. Die periode vir voorkeurbesprekings vir ATKV-lede open op 1 Augustus vir die Aprilvakansie en Paasnaweek se besprekings en op 1 November vir die daaropvolgende jaar se Desembervakansie besprekings. Besprekings word by die oord van keuse direk gemaak maar daar is ook ʼn sentrale besprekingskantoor by die ATKV-Hoofkantoor waarby besprekings vir enige ATKV-oord gemaak kan word.
Spesiale pryse by ATKV-oorde
Die ATKV se moderne en voortreflike selfsorghuisvesting en woonwastaanplekke is veral uiters gewild binne seisoen. ATKV-Iede kwalifiseer vir spesiale pryse by die ATKV se sewe vakansieoorde. Om tariewe sakpas en mededingend te maak is daar vir ATKV-lede nou ʼn lidtariefstruktuur vanaf 1 Maart 2013 geïmplementeer. Om hiervoor in aanmerking te kom, moet die lid tydens verblyf by ’n oord self teenwoordig wees.
Klik hier vir die Lidgids
Geagte ATKV-lid
Die ATKV se voorkeurbespreking- en ledevoordelestelsels is effektief vanaf 1 Maart 2013 gewysig en besprekings vir die 2013/2014 vakansieseisoen word reeds sedert 1 November 2012 daarvolgens gedoen. Die ou stelsel het op 28 Februarie 2013 geëindig.
Na aanleiding van die werklike besprekings vir die 2013/2014 vakansieseisoen wat sedert 1 November 2012 tot 28 Februarie 2013 gemaak is, asook die insette wat van verskeie lede ontvang is, word die volgende verdere wysigings aan die stelsel gemaak.
Ons vertrou dat hierdie aanpassings groot byval sal vind en daartoe sal bydra dat soveel moontlik ATKV-lede die ATKV-ledevoordele, veral ten opsigte van plek by ATKV-oorde, kan benut.
Vir u gerief word die ATKV-ledevoordelestelsel, met die genoemde wysigings, hieronder aangeheg.
Japie Gouws
Besturende direkteur ATKV-groep
28 Maart 2013
ATKV-LEDEVOORDELE
a. Voorkeurbesprekingstelsel vir ATKV-oordbesprekings vir Paasnaweke en die Maart/April- en Desember/Januarie-skoolvakansies by alle ATKV-oorde, asook vir die Junie/Julie-skoolvakansies by ATKV-Eiland Spa.
Hierdie reëls geld vir besprekings wat ten volle of gedeeltelik binne die bogenoemde vakansietye val. Die skoolvakansies is die amptelike skoolvakansies soos van toepassing in die provinsie waar die betrokke ATKV-oord geleë is.
| i. | ATKV-lede kan jaarliks vanaf 1 Augustus tot 31 Augustus telefonies (en op ander wyses byvoorbeeld per e-pos, faks of brief) besprekings maak vir die volgende jaar se Paasnaweek en/of Maart/April-skoolvakansie by enige van die ATKV-oorde. | ||||||
| ii. | ATKV-lede kan jaarliks vanaf 1 September tot 30 September telefonies (en op ander wyses byvoorbeeld per e-pos, faks of brief) besprekings maak vir die volgende jaar se Junie/Julie-skoolvakansie by ATKV-Eiland Spa. | ||||||
| iii. | ATKV-lede kan jaarliks vanaf 1 November tot en met die dag in Januarie, net voor die eerste skole open, telefonies (en op ander wyses byvoorbeeld per e-pos, faks of brief) besprekings maak vir die volgende jaar se Desember/Januarie-skoolvakansie by enige van die ATKV-oorde. | ||||||
| iv. | Voorkeurbesprekings per e-pos, faks of brief sal slegs gehanteer word indien dit binne die tydperke soos in punte 1 (a) (i), (ii) en (iii) hierbo omskryf word, ontvang word en nadat telefoniese besprekings gehanteer is. Die voorkeurmetode vir besprekings is dus telefonies. | ||||||
| v. | Telefoniese besprekings vir ʼn spesifieke ATKV-oord kan direk by die betrokke ATKV-oord gemaak word. Besprekings vir enige van die ATKV-oorde kan ook weeksdae vanaf 08:00 tot 17:00 by die sentrale besprekingsnommer op hoofkantoor (011 919 9092) gemaak word. Die ure van die sentrale- en oordbesprekingskantore sal verleng word gedurende spitsbesprekingstye. | ||||||
| vi. | Besprekings word onmiddellik bevestig na gelang van die plekke wat beskikbaar is en die keuses wat ATKV-lede maak. | ||||||
| vii. | Geen minimum aantal dae geld vir besprekings ten opsigte van die Maart/April-skoolvakansie by enige ATKV-oord vir beide huisvesting en kampering nie. Indien Paasnaweek egter binne hierdie skoolvakansie val, geld die langnaweekreël dat besprekings vir die hele Paasnaweek gedoen moet word. | ||||||
| viii. | Besprekings ten opsigte van die Junie/Julie-skoolvakansie by ATKV-Eiland Spa kan vir minimum 5 dae gedoen word vir huisvesting en minimum 10 dae vir kampering. | ||||||
| ix. | Besprekings vir maandpakette ten opsigte van die Junie/Julie-skoolvakansie by ATKV-Eiland Spa moet vir ʼn minimum van twee maande gedoen word en is slegs geldig vir twee persone per bespreking. Besoekers tydens die bespreking betaal die normale tariewe vir ATKV-lede of nie-lede, soos van toepassing. | ||||||
| x. | Besprekings ten opsigte van die Desember/Januarie-skoolvakansie by enige ATKV-oord kan vir minimum 5 dae gedoen word vir huisvesting en minimum 10 dae vir kampering. | ||||||
| xi. | Besprekings kan net per hooflid (betalende lid) gedoen word en is nie oordraagbaar nie. | ||||||
| xii. | Die eerste deposito is betaalbaar teen 10% van die totale bedrag ten opsigte van die bespreking:
|
||||||
| xiii. | Die tweede deposito is betaalbaar teen 40% van die totale bedrag ten opsigte van die bespreking:
|
||||||
| xiv. | Indien die eerste of tweede deposito nie tydig betaal word nie, word die bespreking gekanselleer en ʼn kansellasiefooi gehef. | ||||||
| xv. | Die restant van die totale bedrag ten opsigte van die bespreking is betaalbaar:
|
||||||
| xvi. | Na afloop van bogenoemde voorkeurbesprekingstye vir ATKV-lede open die besprekings vir nie-lede asook vir ATKV-lede wat nie van die voorkeurbesprekingstelsel gebruik gemaak het nie. | ||||||
| xvii. | Die deposito vir bespreking by enige ATKV-oord vir tye wat nie binne bogenoemde voorkeurtye val nie, is betaalbaar teen 50% van die totale bedrag ten opsigte van die bespreking:
|
b. Tariewe
| i. | Tariewe bestaan uit 2 kategorieë, naamlik ʼn algemene tarief en ʼn ATKV-ledetarief. |
| ii. | Elke ATKV-oord se algemene tariefstruktuur word vasgestel na aanleiding van die markomstandighede in die omgewing van die betrokke ATKV-oord. |
| iii. | Die ATKV-ledetarief is in alle gevalle laer as die algemene tarief en word vasgestel na aanleiding van vraag en aanbod by die betrokke ATKV-oord. |
| iv. | Die tariewe word vasgestel met inagneming van seisoenale tendense en word beperk tot 4 vlakke naamlik hoogseisoen, mid-seisoen, laagseisoen naweke en laagseisoen weeksdae. |
| v. | ATKV-lede betaal die goedkoper ATKV-ledetarief en nie-lede die algemene tarief. |
| vi. | Die algemene- en ATKV-ledetariewe word jaarliks op 1 November bekendgemaak en geld vanaf 1 Maart die daaropvolgende jaar. |
c. Lojaliteitstelsel
| i. | ʼn Lojaliteitstelsel vir ATKV-lede wat by ATKV-takke betrokke is, maak voorsiening vir die toekenning van tjiengelieng-korting. | ||||||
| ii. | Die waarde van 1 tjiengelieng is gelyk aan R 1,00 se korting. | ||||||
| iii. | ATKV-lede (lede wie se ledegeld op datum betaal is) wat by ʼn ATKV-tak ingeskakel is, gereeld takvergaderings bywoon, aan die takprojekte deelneem en wie se naam in die amptelike taklederegister aangeteken is, ontvang jaarliks, teen ongeveer die einde van Maart, 1 200 tjiengelieng per hooflid (betalende lid) ten opsigte van die vorige finansiële jaar. Hierdie toekennings is nie van toepassing op meewerkende en nie-betalende lede nie. Die toekenning word ook beperk tot een lid per betalende gesin. | ||||||
| iv. | Hierdie tjiengelieng-korting verval aan die einde van Februarie in die daaropvolgende jaar indien dit nie gebruik word nie en is nie oordraagbaar vanaf die betrokke hooflid nie. | ||||||
| v. | Die tjiengelieng-korting kan aangewend word vir:
|
||||||
| vi. | ATKV-lede wat van die ATKV se korttermynversekering en/of huisverbandsamewerkingsooreenkomste gebruik maak, ontvang voortaan tjiengelieng (voorheen VakansieRande). |
2. Ander aspekte van belang
| a. | ʼn ATKV-lid kan enige spesifieke plek wat beskikbaar is, bespreek en sodanige plek word dadelik tydens die bespreking bevestig. |
| b. | ʼn Groepbespreking kan tydens die voorkeurbesprekingstyd vir ATKV-lede gemaak word, maar net vir ATKV-lede (d.w.s. nie vir nie-lede nie). Een persoon met die besonderhede van al die ATKV-lede van die groep kan inskakel, die betrokke plekke kies, waarna die besprekings dan per ATKV-lid vir die betrokke plekke gemaak word. Elke ATKV-lid is daarna individueel verantwoordelik vir die maak van deposito’s en ander toepaslike voorwaardes. |
Enige navrae oor die ATKV-ledevoordele kan gerig word aan die lede-afdeling by e-pos ledesake@atkv.org.za of by telefoonnommer 011 919 9000.
Klik op die prentjie vir ‘n groter weergawe
Vanaf 1 Maart 2013 is ledegeld as volg:
Maandeliks – R63
Kwartaalliks – R189
Halfjaarliks – R378
Jaarliks – R756
Bankbesonderhede waarin ledegeld betaal kan word.
Bank: Absa
Rekeningnaam: ATKV-lede
Rekeningnommer: 017-016-6779
Takkode: 632005
Verwysing: Lidnommer of hooflid se Identiteitsnommer
ATKV-lede kwalifiseer vir 30%-afslag wanneer jy inskryf op die onderstaande tydskrifte! Kliek op ‘n tydskrif en teken aanlyn in!
![]() |
![]() |
![]() |
| ___________________________________________________________________________________________ |
|
Spesiale aanbod vir ATKV-lede: sluit aan by PRAAG se ebiblioteek Enkele maande gelede het PRAAG die boekpryse vir die Laventelbossie-tak se opstelwedstryd aan die Wesrand geborg. Onder andere het die graad-7-wenner ‘n Prestigio e-leser ontvang. Die ATKV doen wonderlike werk om Afrikaans te bevorder en LAPA se kinderboeke en gewilde fiksie verkoop soos soetkoek. Iemand moet egter in Afrikaans die hele eboekrevolusie lei en daarom het PRAAG dié tegniese en literêre uitdaging aangeneem. Ons ervaring met webwerwe het ons in staat gestel om ook eboeke met groot sukses vir Afrikaanse lesers aanlyn beskikbaar te stel. Pleks van eboeke te hoef te koop, kan lesers hulle nou net soos ‘n gewone biblioteekboek by http://www.praag.org.za/ uitneem. Spesiale aanbod aan alle ATKV-lede: u kan teen slegs R30 per maand by PRAAG se ebiblioteek, Klub digiTAAL, aansluit. Vul die vormpie in by digitaal.org.za of stuur ‘n epos aan inlig@praag.org. Daarmee kan u ‘n onbeperkte aantal eboeke uitneem, en dra u ook by tot die skepping van nuwe Afrikaanse eboeke. |
| ___________________________________________________________________________________________ |
| Spesiaal vir ATKV-Lede |
![]() |
| ___________________________________________________________________________________________ |
| Skouspel 2013 afslag vir ATKV-lede! |
![]() |
| ___________________________________________________________________________________________ |
| Wen ‘n Jurgens waentjie vol Campworld Produkte! |
![]() |