Paul - Kolskoot vir die lewe
03/01/2005
Breker met ’n sagte hart Kort voor die onderhoud met Pasella-man Paul Rothmann lees ek ’n boek oor onderhoudtegnieke. Om beter onderhoude te voer, is een van my voornemens vir die nuwe jaar. Volgens kenners moet ’n joernalis die persoon met wie die onderhoud gevoer word vooraf op sy gemak stel deur met ’n soort ysbreker weg te spring. “Vra iets oor die persoon se stokperdjie. Dit stel hom op sy gemak en wys ook dat die joernalis haar huiswerk en navorsing gedoen het,” sê die boek. Paul is my egter een voor. Hy moet immers ook mense op hul gemak stel tydens die onderhoude wat hy vir die joernaalprogram Pasella doen. Tydens die fotosessie vertel hy sommer self van sy versameling van ongeveer veertig messe en swaarde wat teen sy slaapkamermuur in sy ouerhuis in Waterkloof pryk. “Ek ly deesdae aan slaaploosheid. En nou die aand was die weer so swaar dat ek gesukkel het om te slaap. Toe die weer ’n bietjie bedaar, hoor ek ’n kriek buite my kamervenster. Toe die kriek stil is, hoor ek skielik iets onder my bed. Toe is dit só ’n groot slangetjie.” Hy beduie met sy hande ’n liniaallengte uitmekaar. “En wat doen jy toe met die arme ou slangetjie?” wil ek weet. “O, ek het een van my swaarde van die muur afgehaal en dit middeldeur gekap. Dit was eintlik maar ’n ou klein slangetjie, so toe bly daar net twee klein stukkies slang oor.” “Maar kan slange nie nog steeds seil nie, selfs al is hulle in twee gedeel?” wil ek nuuskierig weet. “Wel, van hierdie slangetjie het te min oorgebly. Die ironie is toe dat die kriek net daarna weer begin lawaai het.”
Tussen Oos en Wes Of miskien probeer hy nie eers om my gerus te stel nie. Is maar net die jintelman wat hy elke keer oor die foon klink. Seker dié dat ek nie so lekker die verskillende aspekte van Paul se persoonlikheid kan versoen nie. Aan die een kant die swaargewig-skopbokswêreldkampioen wat swaarde versamel en ’n slang middeldeur kap. En aan die ander kant die Patrick Daniel Mansmodel van die Millennium, sjarmante televisieaanbieder en ’n man wie se gunstelingvak op skool kreatiewe skryfkuns was. Vir Paul is dit nie moeilik om die verbintenis tussen die gevegkuns, swaarde en die sagte deel van sy persoonlikheid te maak nie. “Ek hou in die eerste plek van swaarde omdat dit vir my esteties mooi is en omdat elke swaard ’n persoonlikheid het; nie omdat ek ’n begeerte het om iemand daarmee te gooi nie. Dit is selfs ’n kuns om die swaard of die mes uit die skede te trek. Hulle noem dit die dissipline van staal. Dit kom daarop neer dat die swaard ’n verlenging van jouself word en dat jy absolute beheer daaroor het.” As Paul in ’n ander tyd op ’n ander plek kon leef, sou dit in Japan in die tyd van die Samoerai-vegters gewees het. “Japannese mense is oor die algemeen meer bedagsaam, meer nederig, meer hoflik en hoewel almal sekerlik nie so is nie, streef die meeste Oosterse filosofieë na ’n balans tussen die geestelike en fisieke sy van die mens.” Ook iets soos meditasie is nie vir hom ’n volksvreemde begrip nie. “My definisie van meditasie verskil sekerlik van meeste ander mense s’n,” verduidelik hy. “Om te bid of Bybel te lees, is ook ’n vorm van meditasie. Dit gaan daaroor om te fokus. “Ek dink dit is miskien hoekom ek so mal oor Thaiboks is. Wanneer jy binne die kryt klim, dink jy nie aan wat jy môre of gister moet of moes gedoen het nie. Jy konsentreer net op nou en jou enigste doelwit is om die objek voor jou te elimineer.” Met dié woorde demonstreer hy een van sy hoogskoppe. Ek besluit dis maar beter om die gesprek op ’n veilige afstand verder te voer voor ék die objek van eliminasie word.
Half Kubaans, half Sjinees Van kleintyd af is Paul en sy ouer broer Sebastiaan aan verskillende kulture blootgestel. Hy is in Tel Aviv in Israel gebore en het vier jaar in Argentinië gebly. “Ek is mos half Kubaans en half Sjinees, maar my van is eintlik Duits,” skerts hy. En net toe dit lyk of die stilis hom gaan glo, verduidelik hy. “Nee man, ek is ’n boerseun. My ouers het vir nasionale intelligensie in die buiteland gewerk. Ons het net een jaar in Israel gebly voor ons vir vier jaar in Buenos Aires in Argentinië gebly het.” Hy kan tog iets uit sy kinderjare onthou: “Ek kan die Guache-restaurant in Buenos Aires onthou. ’n Mens het veral vleis daar geëet en in Argentinië noem ’n mens ’n filet ’n lomo. Toe ons terug is in Pretoria kon mense nie verstaan as ek ’n lomo bestel nie. Ek kan ook onthou ons het ’n paar maande in die Sheraton-hotel in Buenos Aires gebly tot ons huis reg was om in te trek. Dit was nogals iets om in ’n vyfsterhotel te bly.” Sy pa Sebastiaan, wat deesdae ’n afgetrede diplomaat is, is een van sy grootste rolmodelle. Hy vertel ’n staaltjie van hoe sy pa op ’n keer vir hom ’n swaard in 42nd Avenue, New York, gekry het. “Toe hy uit die winkel kom waar hy die swaard gekoop het, is daar ’n sakkeroller wat ’n sakkie geld uit my pa se sak gesteel het. My pa lyk soos ’n slot en ek kan my net indink hoe die mense voor hom padgegee het toe hy daardie swaard uit die koerantpapier waarin dit toegedraai was, haal. Na ’n jaagtog het hy die man verloor, maar besef hy moet so gou as moontlik van hierdie swaard ontslae raak voordat die polisie hom daarmee sien. Toe hy die swaard in sy sak terugsit, vra die mense langs hom of hy van plan was om die man dood te maak. ‘No, I only wanted to scare him a bit,” was sy antwoord. Ma Sylvia is ’n dosent in kwantitatiewe bestuur by Unisa en Sappi. “Sy is eintlik ’n ekonoom en was interessant genoeg die eerste vroulike ekonoom wat vir nasionale intelligensie gewerk het. Dit is hoe sy en my pa ontmoet het.”
Mnr. Veelsydig Na vyf jaar in die buiteland het die Rothmanns teruggekeer na Pretoria. Hier het hy uiteindelik by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer waar hy in 1996 ook as die veelsydigste Affie aangewys is. ’n Goeie keuse as jy weet wat die man al in sy lewe aangepak het. Sport is ’n groot liefde in Paul se lewe, maar op skool was rugby sy groot passie. Hy het as slot vir Noord-Transvaal B uitgedraf en het op sy tyd selfs teen Springbokslot Victor Matfield gespeel. “Op skool was rugby my sport. Dit was my lewe, maar deesdae kyk ek dit glad nie behalwe as die Springbokke speel.” Hoewel hy sy lewe lank verskillende vorms van karate beoefen het, het hy uit noodweer begin om skopboks te doen. “My broer Sebastiaan is ’n wêreld-swaargewigbokskampioen en hy het my om elke hoek en draai getik. Ek moes iets doen om myself te verdedig,” onthou Paul. “Een van die hoogtepunte in my lewe was toe ek as wêreld-swaargewigkampioen vir die World Professional Kickboxing Association (WPKA) in Augustus 2001 aangewys is. Hierna het ek ’n ruk lank opgehou omdat ek nie genoeg tyd gehad het om te oefen nie. In Oktober verlede jaar het ek weer professioneel begin Thaiboks doen. En nee,” erken hy, “my meisie, Monique Joubert, hou nie daarvan as ek boks nie, maar sy weet ook dit is deel van my. Dat daar ’n leemte in my is wanneer ek dit nie doen nie.” Maar wanneer sy gesig nie te veel verrinneweer is nie, is hy een van die vooraanstaande manlike modelle in Suid-Afrika. Paul het met modelwerk begin as ’n manier om vir sy studies (hy het ’n LLB aan Unisa verwerf) te betaal. In 1999 is hy aangewys as Patrick Daniel se Millennium-model van die jaar – ’n kompetisie waar nege van die land se vooraanstaande mansmodelle om dié titel meegeding het. Hoewel hy homself nie as ’n modekenner beskou nie, het hy wel sekere idees oor die voorkoms van die Afrikaanse man. “Wel, eintlik is dit nie vir my regverdig dat daar onderskeid getref word tussen Afrikaanse mans en die res van die Suid-Afrikaanse manlike bevolking nie. Net soos dit nie regverdig is dat daar onderskeid getref word tussen Afrikaanse musiek en ander genres soos pop, rock en country nie. Maar tog dink ek daar is verskillende uiterstes wat die Afrikaanse man se voorkoms betref. Daar is mans wat baie funky is, maar dan is daar diegene wat nog nie veel van styl geleer het nie. En dan praat ek nie eers van die kouskambrigade nie. Nee, daar is iets veel erger!” verklaar hy dramaties. “Ek praat van gelapte leerbaadjies en kakieklere wat van verskillende kleure gemaak is. Soms is daar 36 mans op ’n braai wat almal dieselfde lyk. Hi Tech-skoene, bruin blokkieshemp of kakiehemde in verskillende kleure. Maar alle Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) mans is definitief nie so nie en dit is onregverdig om sulke veralgemenings te maak.” Vandag bevind hy hom nie meer aktief in die modewêreld nie, maar hierdie kompetisie het wel die deur oopgemaak vir sy rol as Pasella-aanbieder, wat hy sedert 1999 met grasie vervul. “Ek het nooit in my lewe gedink ek gaan ooit op die kassie beland nie. Met Pasella probeer ons ligte vermaak aan mense op ’n Sondagaand verskaf. Dit gaan oor aspirasie en ons probeer mense wys wat hulle kan doen, wat hulle kan bereik. Ek is iemand wat daarvan hou om dinge te sien, dinge te doen. Ek sal byvoorbeeld eerder reis om dinge te gaan doen as om dinge te sien. Maar wat die grootste invloed op my het, is die mense wat ek in die proses ontmoet. Jy kan die hele wêreld vol reis, maar elke mens het ’n unieke enigma, iets wat hom dryf, sy eie stuk wysheid. En om dit in elke mens wat ek ontmoet, te ontdek, is wat my werk vervullend maak. ’n Mens moet elke dag leef asof dit jou laaste is. En daarom moet jy aanhou soek na ’n werk of iets binne jou werk wat jou roeping is.”
10 dinge wat jy nie van Paul geweet het nie 1) “’n Onderhoud met kaptein Mulaudzi in Venda was een van die interessantste stories wat ek al gedoen het, want ek het baie meer oor tradisionele Afrika-kulture geleer.” 2) “My lewe is soms een groot gejaag. Ek moet altyd gereed wees.” 3) “Ek het twee boerboele, Tyson en Bekkie, en ’n basterbrak, Oertel.” 4) “Meditasie, lees en oefen is van my lekkerste tydverdrywe.” 5) “Ek hou nie van infomercials en die Macarena nie.” 6) “Tommy Hillfiger is my gunsteling-parfuum.” 7) “Sheryl Crow, Linkin Park en Smashing Pumpkins is die soort musiek waarna ek luister.” 8) “Ek is mal oor kos. Van pap tot soesji.” 9) “Angelique Hall is vir my een van die beste modelle.” 10) Gunstelingaktrise: Julia Roberts.
|
|