General
    ATKV Members
    ATKV Projects
    ATKV-DAMES
    ATKV Branches
    TG (Taalgenoot)
    ATKV Taaldiens
    LAPA Publishers
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

Heléne en nog bekendes oor moederskap

05/01/2005

Ligdraer
Eerste aan die beurt is voorbladnooi en 7de Laan-sepiester Heléne Lombard, oftewel Sandra Stutterheim, en haar man Craig. Hoewel Craig ’n gekwalifiseerde prokureur is, is hy deesdae betrokke by ’n maatskappy wat batebestuurders van eiendomme is. Dié twee is nou al agt jaar getroud en het ontmoet toe hulle albei na ’n partytjie van gemeenskaplike vriende genooi is. Heléne was laat en die enigste oop sitplek was die een langs Craig. Volgens Craig was daar onmiddellike aantrekkingskrag. “Heléne het teruggekeer van haar studietyd in die VSA, waar sy by die American Academy of Dramatic Arts drama gestudeer het, en sy het my van New Orleans vertel. Ons het eers New Orleans gepraat, toe New Orleans gesoen en toe New Orleans getrou.” Die smeulende donkerkop en praktiese blonde man maak ’n mooi paartjie. Soos wanneer hulle dans. Heléne dans sedert haar hoërskooljare in professionele produksies, maar saam maak dié twee ’n gedugte span. Craig vertel: “Ek dans ook, maar ek is soos ’n totempaal waarom sy dans...”
Voor Craig in verdere besonderhede kan ingaan, keer Heléne hom. Sy vertel van die skivakansie in Oostenryk waarheen sy en Craig juis die volgende oggend op pad is. Die kleine Lucien, wat op 12 Mei verlede jaar gebore is, gaan vir die week by Heléne se ma kuier. “Hy kan nog nie ski nie,” lag Heléne. “Wel, hy kan nog nie eers loop nie,” merk Craig droog op. “Ons gaan na ’n plek in Oostenryk waar beide van ons twintig jaar gelede was toe ons mekaar nog nie geken het nie. Nou gaan ons weer, maar hierdie keer net saam,” vertel Craig.
En anders as baie ouerpare voel hulle nie skuldig dat hulle Lucien by die huis los nie. “Ek het nog altyd baie goeie familiebande gehad. Ek wil hê Lucien moet die tradisie voortsit,” verduidelik Heléne. “En ons glo nie daaraan om ons kind in isolasie groot te maak nie. Hy moet aan soveel invloede moontlik blootgestel word. Daarom probeer ons ’n punt daarvan maak om hom by sy ouma en oupa en niggies en nefies en sy ooms en tannies te laat bly. So kan hy verskillende plekke sien en verskillende invloede leer ken en verskillende mense in sy lewe hê.
“Daarom laat ons hom by verskillende mense bly en ook sosialiseer met kinders, want kinders leer by ander kinders,” borrel Heléne verder. “Hy is byvoorbeeld mal oor my suster se drie dogters. En hulle speel baie erg met hom. Veral die agtjarige dogtertjie speel lekker met Lucien pop.”
Soos Craig en Heléne nie hul kind oorbeskermend grootmaak nie, het hul ook met die keuse van ’n geboorteproses die natuurlike watergeboorte gekies. “Wel, dit was nog steeds pynlik,” vertel Heléne. “Maar die momentum van die water het my liggaam gehelp met die geboorteproses. Of wat sê jy Craig?” wil sy by manlief hoor. “Ja, ek dink dit was definitief minder skokkend vir die kind. Want die water is dieselfde temperatuur en van die selfde substans as die water binne die baarmoeder. Hoewel ons steeds na die ginekoloog gegaan het, was daar met die geboorte drie vroedvroue teenwoordig wat Lucien deur die water gehelp het. Hy sluk nie die water nie, want hy dink hy is nog in die baarmoeder,” vertel Craig.
Met die geboorte het Craig vir die musiek, die kerse en aromaterapie gesorg. O ja, en dan was hy baie rustig van die kalmeermiddels wat eintlik vir Heléne bedoel was. Behalwe vir die kerse kon Heléne egter niks van hierdie moeite onthou nie. “Ek was heeltemal in ’n trans, maar hoewel ek heeltemal deurmekaar was, weet ek daardie oomblik was ongelooflik. Die grootste wat ’n vrou kan ervaar. Volgens my is dit die rede waarom vroue gebore is – om kinders voort te bring. Ek onthou die dag toe ek getrou het, het ek na my asem gesnak toe die kerkdeure so voor my oopgaan, maar hierdie oomblik was vir my groter.”
Terwyl ons nog aan die gesels is, veroorsaak ons groepie konsternasie toe Lucien koeldrank op Heléne se rok uitmors. Ek keer vir my diktafoon, Heléne keer vir haar rok en kelners spaander rond op soek na ’n lap of ’n afdroogding. Op ’n afstand staan Craig die spulletjie só en bekyk. “Ja, dis een van die maniere hoe my lewe verander het. Voorheen was ek altyd ’n skoon en netjiese man.”
Ná die konsternasie en tuis by ’n ander tafel vertel Heléne hoe sy moederskap geniet. “Vreemd, voor ek getroud is, het ek nooit eers gedink ek gaan trou nie. Wat nog te sê van kinders. Maar vir nou geniet ek dit verskriklik. En in hierdie stadium het ek nie eers ’n vreeslike ambisie om terug te keer na die verhoog of televisie nie. Ek voel ek het gedoen wat ek wou doen. Ek het nie meer daardie hunkering dat ek iets moet doen nie. Daardie brandende ambisie van my jong dae is verby.
“Aan die begin was moederskap vir my problematies omdat almal probeer raad gee en ek so onseker gevoel het,” erken Heléne. “Maar Craig vergelyk dit met gholf: Almal is kenners en almal wil raad gee, maar op die ou einde moet jy jou eie swing vind. En ja, ek het myself in die proses verloor, maar ek kry myself nou weer. Elke dag tel ek ’n stukkie van myself weer op.”
Die een wysheid wat Craig Lucien graag op ’n vroeë ouderdom wil wys, is die verskil tussen goed en sleg. “Ek het in my lewe al intense ervarings gehad en om iemand leierskap te gee is belaglik, leiding is optimisties, maar ek kan wel aan Lucien kennis gee.”
En jy? wil ek by Heléne hoor. Wat is die een unieke ding wat jy aan jou kinders sal kan oordra. Craig tree tussenbeide en antwoord dié vraag namens sy vrou: “Heléne is iemand met intense emosies. Sy het ’n intense liefde vir mense. Sy sal Lucien kan leer hoe om lief te hê.”

Godin en geskenk van God
Dit is vroeg op ’n Saterdagoggend dat ek die Williams-gesin by die Balalaika-hotel in Sandton ontmoet. As afrigter van die Cats-span kan ’n mens die spanning duidelik op Chester se gesig sien. En toe ek hom na die identiteit van sy span se teenstanders vir die middag vra, kan hy nie help om die afgryse oor my onkunde te toon nie. Maar wanneer die pragtige tweeling Chloë en Matthew in sy arms gesit word, word hierdie man so sag soos ’n lammetjie. Die trots en ingenomenheid met sy seun en dogter van elf maande kan hy nie wegsteek nie.
“Ek sal doeke omruil as hulle natmaak, maar nie andersins nie,” erken Chester met ’n verleë laggie. Sy blonde vrou, Maria, sluit haar by haar man en kinders aan. “Ja, maar die twee aard baie na hul pa. Matthew is baie vriendelik en saggeaard, maar Chloë het Chester se frons wanneer hy ernstig is.”
Dié tweeling is op 15 Junie verlede jaar met ’n keisersnee gebore,” vertel Maria. “Hulle was 2,6 kg en 2,9 kg – nogal swaar om te dra. ’n Tweeling verg seker ’n bietjie meer aandag, maar ’n mens raak gou gewoond daaraan. En dié tweetjies is regtig soet babatjies.”
Gelukkig het Maria, wat halfdag as promosiebestuurder van ’n sportenergiedrankievervaardiger werk, ’n groot ondersteuningsbasis. Behalwe die voltydse oppasser, Rosy, is Chester en Maria se ouers en ’n groot netwerk vriendinne daar om Maria by te staan. En dan is daar natuurlik Chester. Volgens Maria verstaan hy dat sy soms alleentyd nodig het. “Chester laat my toe om tyd vir myself te hê. Hy vat die kinders sodat ek my naels kan laat doen of saam met ’n vriendin kan gaan koffie drink.”
Vir Chester is dit heerlik om by die huis te wees as hy in die Kaap is. Hoewel hy die Cats-afrigter is, is sy kantoor en huis steeds in die Kaap. Boonop is die Williamse ook nie van plan om Johannesburg toe te trek nie.
“Miskien sien ek wel my kinders minder as wat ander pa’s doen, maar ek probeer wel om hulle een keer ’n week te sien,” erken Chester. “Ek lê dan gewoonlik maar saam met hulle op die grond en speel. As ek in Johannesburg is, sal ek gaan fliek. Drama, nooit komedie nie, en selfs ’n aksiefliek moet darem ’n storie ook hê.”
En soos Chester na ’n droom van ’n man klink wat drama bo aksie verkies, so is Maria se liefde vir rugby ook iets wat menige man sal waardeer. “Ek is baie sportief deur na rugby te kyk. Ek het selfs baie daarvan gehou voordat ek Chester leer ken het.”
Maar rugby is definitief nie iets wat hy sy seun Matthew sal dwing om te doen nie. “As hy wil speel, is dit goed, maar ek sal eerder wil hê my kinders moet verder gaan studeer omdat ek nooit daardie kans gehad het nie.”
Verantwoordelikheid is wel iets wat Chester wil hê sy kinders moet hê. “Hulle moet self verantwoordelik wees vir wat hulle in die lewe wil hê en nie op ons staatmaak nie. Hulle moet self vir hul geluk werk.”
As multikulturele gesin het hulle tot dusver geen direkte vooroordele teenoor hulle ervaar nie. “Nee wat, vir ons is dit net belangrik dat ons as gesin gelukkig is. Ons vriende en familie ondersteun ons en verder steur ons ons ook nie eintlik aan mense nie,” gesels Chester op sy rustige manier.
Wat vir baie hersaamgestelde gesinne ’n probleem is, probeer die Williams-gesin met eerlikheid en kommunikasie tot die minimum beperk. Die dertienjarige Ryan, Maria se seun uit ’n vorige huwelik, bly saam met die Williamse. “Gelukkig is hy ook erg oor die tweeling,” vertel Maria. “En dit help dat ons pêlle is,” beaam Chester. “Hy is ’n groot sokkerman, ’n Beckham-aanhanger, maar dit maak nie saak nie. Solank ons net reguit, eerlik is en met mekaar kommunikeer.”
Kommunikasie is ook die groot wens wat Maria haar kinders toewens.“Ek wil hê my kinders moet gelukkig wees en dat hulle nie altyd kry wat hulle wil hê nie omdat dit nie noodwendig vir hulle goed is nie. Ek wil hê hulle moet weet die grootste les wat ’n mens kan leer, is dat jy nooit geluk buite jouself kan vind nie. En eers wanneer jy gelukkig is, kan dié geluk na ander deursyfer. Ek wil ook hê hulle moet weet ons is hier vir hulle, dat hulle met ons kan kommunikeer en dinge vir ons vertel pleks daarvan om dit van ons weg te hou. En dat ons altyd hier is vir hulle.”

Waterdraer
Wanneer ek Ingrid Paulse, oftewel Vanessa van 7de Laan, en Denver Vraagom, oftewel Sheldon ontmoet, is dit Ingrid se dag af op stel en is die drietjies op pad Magaliesburg toe vir die naweek. Voor ons die foto’s by The Castle @ Kyalami gaan neem, maak ons eers ’n draai op stel. Die ses maande oue Skye trek aandag waar sy kom. Akteurs soos Vinette Ebrahim en Bertha le Roux kan nie anders nie as om eers om en oor die kleinding te kloek voor hulle gereed maak vir hul sessies voor die kameras.
As ’n ongetroude paar, was die aanvanklike nuus ’n groot skok, vertel Ingrid: “Ek het vir drie weke aanmekaar gehuil. Daar gaan so baie dinge deur ’n mens se kop, maar dit was die beste besluit nog om vir Skye te hê.”
Maar volgens Denver het hulle nie té veel teenkanting en vooroordele ervaar nie. “Mense het verander. Ek dink ons leef in so ’n soort samelewing waar daar in elk geval so baie egskeidings is. Voor sy gekom het, het ons al besluit om te trou, maar het dit twee keer uitgestel. Sy was net die bonding message.”
Dié paartjie, wat beplan om op 28 Mei te trou, vertel dat die geboorte nie te moeilik was nie. Ingrid vertel: “So twee weke voor die geboorte vat hulle jou vir ’n toer deur die hospitaal vir as daar ’n noodgeval is. En ek onthou hulle het die kamer vir my gewys en ek het vir hulle gesê maar dit lyk kleiner as op televisie. En alles is so rustig. Hulle hardloop nie rond soos op televisie nie.”
“Ja,” onthou Denver, “die susters praat oor die seun wat nie so goed doen in Wiskunde nie en allerhande sulke goed.”
Denver was ook daar, met kamera en al. “Ironie is, toe Skye haar verskyning maak, toe gaan die videokamera af. So, ek het nooit die oomblik vasgevang nie. Eers so tien sekondes later het die videokamera weer aangegaan.”
Maar Ingrid kan klein Skye se gesig voor haar baie goed onthou. “Die dokter het haar so uitgelig en vir ons gewys. Sy het vir ons gekyk.” “Ja, sy het ons een kyk gegee en toe begin skreeu,” laat Denver ook van hom hoor.
’n Baie traumatiese voorval het die paartjie oorgekom toe Denver omtrent drie dae ná Skye se geboorte na die Boereworskompetisie in Port Elizabeth is en daar aangerand is. Hy praat moeilik daaroor. “Soos enige Kapenaar wou ek ’n entjie langs die see gaan stap. Die aanvallers het my nog op my naam gegroet en ’n paar minute later het hulle my oorrompel. Ek het skaafmerke orals oor my lyf gehad en het in ’n stadium flou geraak. Toe ek wakker word, het ek hotel toe gegaan en in die hotelkamer verder gaan lê. Ek het Ingrid eers die volgende oggend gebel, want ek wou haar nie deur die nag ontstel nie. Hulle het net ’n bietjie geld in my beursie en my selfoon gesteel.”
Denver en Ingrid se reëlings rondom Skye pas aan by die tipiese rol van die moderne man. Aangesien Denver op ’n vryskutbasis werk, het hy vir die eerste paar maande ná Ingrid se kraamverlof na die kleinding omgesien. Denver vertolk sy pa-rol immers so goed dat hy aan die begin al een was wat doeke omgeruil het. “Ná ’n paar weke moes ek ook maar inspring,” vertel Ingrid. Denver vertel dat hy van die oudstes in sy familie was en nog altyd gehelp het om doeke om te ruil. “Ek het ook baie Disney-movies gekyk,” spot hy.
Hulle beplan nou om haar na ’n dagmoeder te neem. En hoewel Denver se familie ver in die Kaap is, is veral Ingrid se ma tog te gretig om na die kleinding te help kyk.
Die grootste aanpassing vir Denver is om terug te gaan werk toe. “Ons twee het so gewoond geraak aan mekaar. Ons vertrou mekaar al so baie. Sy het my so baie van myself geleer,” vertel Denver. “Ek is meer gefokus en baie minder selfsugtig. Ek het baie rustige tye saam met haar en ek skryf selfs makliker. Ek weet nie hoe ek sonder haar gaan klaarkom nie.”
Oor wat sy wil word, is daar nie spesifieke voorskrifte nie. “Ons los dit maar vir haar,” glo Denver. “Ons gaan haar nie push nie, maar ek glo tog sy sal ’n goeie gimnas wees. En miskien ’n ballerina.”
En as hulle die fee in die Slapende Skoonheid-sprokie is, sou Denver haar geluk en vrede toewens. “Ek wil hê sy moet leer om saam met ander mense te leef, maar ook haarself leer ken op haar eie tyd,” sê Ingrid. “Ek wil hê sy moet leer uit haar eie foute en sy moet weet sy mag maar foute maak. En ek wil hê sy moet weet ons is daar as sy ’n fout maak.”


 


[Previous page][Top]


 

Quick links

ATKV Resorts > ATKV Resorts
See what our seven lovely resorts offer you!
 
ATKV Members > ATKV Members
Change your members details!
 
Membership Application Form > Membership Application Form
 
Mission and Values > Mission and Values
 
Resort Reservation Request > Resort Reservation Request
 
Cyber Friends > Cyber Friends
Have a look at other Afrikaans websites!
 
ATKV Branches > ATKV Branches
Find a branch in your area
 
ATKV in the media! > ATKV in the media!
Where did you here about us?
 
Friends of the ATKV > Friends of the ATKV
 
ATKV Newsletter > ATKV Newsletter
 


Designed, developed & hosted by eliance