Jan Blohm - Musikale rigtingwyser
06/01/2005
As jy weier om geklassifiseer te word, goeie lirieke dorstig indrink en dink terwyl jy luister, is Jan Blohm, wenner van drie GMT-toekennings, se musiek vir jou bedoel. Want dié man sing nie net nie, hy tóór. Boonop, het Marlize Leyden uitgevind, weet hy hoe om ’n kompas te lees.
Verandering is deel van die lewe. En so het elke geslag sy pioniers, sy grensverskuiwers, sy profete, sy rigtingwysers. Vir Afrikaanse musiek was daar eers mense soos Silwer de Lange, Chris Blignault, Nico Carstens, selfs die Briels. Van 1979 tot vroeg in die jare tagtig het die Musiek-en-liriekbeweging doelbewus gepoog om veral met hul woorde verandering te bring. Kunstenaars soos Anton Goosen, Laurika Rauch, Mynie Grové, Sias Reyneke en ander help om die sogenaamde luisterliedjie te vestig en poog so om die naïwiteit van vroeëre Afrikaanse lirieke tot volwassenheid te dwing.
In die laat jare tagtig neem die Voëlvrybeweging met Johannes Kerkorrel, Bernoldus Niemand en Koos Kombuis die land op horings. Nie net word daar revolusionêre rock en roll en blues gemaak nie, maar deur hul lirieke verset hierdie kunstenaars hulle teen ’n sosiaal-politieke stelsel. “Wanneer musiek eers met ’n woord soos alternatief geklassifiseer moet word,” sê Jan Blohm, “is dit tyd vir verandering, vir ’n nuwe Afrikaanse musiekbeweging.”
En dié Jan behoort te weet waarvan hy praat, want nie net word sy talent besing deur musiekgeeste soos Koos Kombuis, Anton Goosen en Amanda Strydom nie, maar hy was vanjaar ook die ster by die jaarlikse GMT-toekenningsgeleentheid toe hy met drie toekennings – vir album van die jaar, liedjie van die jaar en as nuweling van die jaar – bekroon is.
Saam met kunstenaars en groepe soos Karen Zoid, ddisselblom, Klopjag, Gian Groen, Jak de Priester, Réana Nel, Riku Latti en Lize Beekman het Jan Blohm nie te lank terug nie begin om nuwe lewe in die Afrikaanse musiekbedryf te blaas. En dit is nie ’n ligte asemteug waarmee ons hier te doen het nie. Die energie en geesdrif waarmee hierdie nuwe generasie sing oor dinge wat vir hulle saakmaak, dreig om in ’n orkaan te ontaard. Mmm, dit is miskien ’n bietjie drasties gestel, maar die nuutste roeringe op die Afrikaanse musiekfront kan ten minste as ’n musikale revolusie beskryf word waar daar nie meer oor apartheid en die verlede gesing word nie. “As ek ’n profesie oor die Afrikaanse musiektoekoms kan waag, sal ek sê ons betree ’n spirituele, geestelike era. Mense begin na hulself omsien. Ek skryf byvoorbeeld oor die struggles in my, nie oor die politieke struggle van ’n paar jaar gelede nie. Mense, kunstenaars wil net vry wees, vry wees om te skryf waaroor hulle wil. Ek is moeg om voorgesê te word, om oor oorlog te sing. Jongmense en Afrikaanssprekendes is moeg om vir die verlede se sondes te betaal. Mense gaan dood aan vigs, dwelms vernietig mense, talle vlug oorsee, dit is die issues waaroor vandag se kunstenaars wil sing.”
WARE NOORD IS ’N RIGTING Die toekennings wat Jan Blohm agter sy naam kan skryf, is geen geringe prestasie nie. So dikwels is nuwe kunstenaars geneig om in die voetspore van ander te volg, met ander vergelyk te word, maar dit is iets wat nie met hierdie blonde krulkop gedoen kan word nie. Daar was nog nooit so ’n klank in Afrikaans nie. “Folky, en meestal bluesy, grungerige, elektriese poetry, wat lekker luister in ’n trok op pad na nêrens nie (maar altyd op pad), terwyl die stof jou oor die vlaktes jaag,” is die manier waarop Jan sy eie musiek beskryf. “Ek dink nie dis reg as resensente my musiek as blues kategoriseer nie. Ek het nog nooit in my lewe ’n suiwer blues-song geskryf nie. My musiek bevat wel elemente van Jimi Hendrix en Johnny Hooker, maar ook van Bob Dylan en Tom Wyats, Pink Floyd en die Pixies.” Maar dat daar mense is wat vir sy rasperstem en eerlike lirieke geval het, is seker. Wie kan dan nou ook woorde soos die volgende weerstaan: “Maar laat wals my, my lief, laat my in angels belief. Ek’t gesê jy’s die song in Breyten se brief. Want hy maak ons huil, maar jy maak my sien.” Woorde om in te drink, op verlief te raak – ideaal vir nostalgiese Karoonagte by die vuur. Nie dat Jan self so liries oor sy eie werk raak nie. Inteendeel, soos sy groep se naam, Ware Noord, is hy altyd op pad êrens heen. “Ware Noord is nie ’n plek nie, dit is ’n rigting. Ek sal nooit voel ek het nou my doel bereik nie. Ek hoop mense kyk en sien dat ek met musiek en metrum en rym eksperimenteer en dat hulle na my vertonings toe kom om dit te beleef. Afrikaans is gebore in die kombuise en op straat. Dit is ’n jong taal, gemaak om mee te eksperimenteer.”
ONTVLUGTING, EGTHEID Dié boorling van Kroonstad het op sewe met musiek- en klavierlesse begin. “Ek het ’n crush op my musiekonderwyseres gehad. Sy was die rede waarom ek skool toe gegaan het. Haar reuk sal my seker die res van my lewe jaag. Ek kan onthou sy was lank en baie mooi. Sy het vir my biografieë van Mozart en Beethoven gegee om te lees. Toe sy weg is, het ek klavier en klassieke musiek opgegee.” Op hoërskool het hy in die kadetorkes gespeel, eers met sytrom, toe beuel en later trompet. Dit is eers later, toe hy in die lugmag was, dat hy ordentlik leer kitaar speel het. “My eerste kitaar het ek op agtien van my ouers gekry. Dié is later gesteel. Toe koop ek vir my een by ’n pandjieswinkel. En van die eerste dag wat ek my kitaar gekry het, het ek ’n gehoor gehad. En omdat ek mense gehad het wat na my luister, het dit my gedryf om nuwer en beter musiek te skryf.” Omdat hy nie gemaklik daarmee voel om ander mense se treffers te speel nie, was hy nooit ’n menasiegunsteling nie. “Ek weet nie hoekom nie, maar as ek nie my eie goed speel nie, voel dit nie eg nie.” ’n Tyd waaroor Jan nie graag praat nie, is sy tyd in die lugmag toe hy op ’n dag selfmoord probeer pleeg het. “Behalwe vir herinnerings, het die druk om te konformeer my gejaag. Ek is destyds lugmag toe om uit Kroonstad te kom. Die omgewing waarin ek grootgeword het, het geglo dat ’n man met sy hande werk. Om ’n kunstenaar vir ’n lewe te wees, was ietwat ondenkbaar. Die lugmag het my ’n geleentheid gegee. Gelukkig is ek ’n dromer. Ek kan iets met my lyf doen sonder dat my kop daar is. Op dié manier kon ek ontvlug.” In die lugmag het hy opleiding in radiokommunikasie ontvang, daarna vir ’n inligtingstegnologiemaatskappy selfoontorings uitgeklim. Dit was ’n goeie werk met goeie geld, maar op die dag voordat hy sy grootste bonus kon kry, was hy laat vir werk omdat hy die vorige aand by ’n vertoning was. Hy het ’n geleentheid gehad om sy eerste album op te neem. Hy het bedank en gery om Rooiwyn en Mary Jane – een van die treffers op sy album – te skryf. Sedertdien het hy nooit weer teruggekyk nie en sal hy ook nooit weer ’n gewone agt-tot-vyf-werk kan doen nie. “Ek is nie so ydel om te sê ek is hier op aarde om iets vir ander mense te beteken nie, maar as ek deur my musiek dit kan regkry om mense Breytenbach se boeke te laat koop of na blues te luister, voel ek ek het my deel gedoen.”
H VIR HEROÏEN, HOENDER OF HUIS Die bewondering vir Breytenbach kan ook in Jan, of Jorrie Kymdell soos sy gesin hom noem, se sangnaam gesien word. “Wanneer ek sing, speel ek miskien ’n bietjie toneel, neem ek ’n karakter aan. In graad agt was ek ’n biblioteekprefek. Een pouse het ek op ’n kopie van Breytenbach se bundel, Blomskryf, afgekom. ’n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Wat Jimi Hendrix vir musiek gedoen het, het hy vir Afrikaans gedoen. Een van die name waaronder Breytenbach skryf, is Jan Blom. My pa se naam is Jan en my ma is soos ’n aandblom, baie skaars en spesiaal. Jantjie Blom is ook ’n karakter wat in Anton Goosen se musiek voorkom. Die h is simbolies vir ’n tydperk in my lewe, ’n tyd toe heroïen ’n deel van my lewe was. Op die oomblik is dit simbolies van daardie tyd, maar volgende week kan dit iets anders beteken, vir huis of selfs hoender staan.” Hoewel hy nooit self dié dwelmmiddel gebruik het nie, nooit ’n verslaafde was nie, het hy ’n vriendin na aan hom gehad wat ’n heroïenverslaafde was. “Ek het saam met haar die pad vir vyf jaar gestap, gesien wat verslawing aan ’n mens kan doen. As daar een ding is wat ek eendag graag aan my kinders sal wil oordra, is dit die gevaar van dwelms. Ek sal by hulle pleit om hul kindwees, hul onskuld, langer te hou. Aan die ander kant sal ek hulle die wêreld wil gee en hulle die geleentheid bied om keuses uit te oefen.” Benewens meesters soos Breytenbach en Bukowski, inspireer sy gesin hom ook. Daar is sy twee jonger broers, Morné (24) en Jean (17). Maar dit is veral sy ma, Ronel, wat nog altyd in hom geglo het. “Sy het amper meer in my geglo as wat ek in myself geglo het. Elke mens het so ’n persoon in sy lewe nodig, want dit het my laat besef dat hoewel ek deel is van ’n paar miljard mense wat reeds geleef het en nog gaan leef, is my realiteit anders en uniek. “Ek het so ’n bietjie van my ma en pa in my. My pa is ’n baie sterk, nederige mens. Dit is amper asof sy stilte intelligensie het. Hy het hierdie wysheid aan hom. Soos my pa raak ek stil en ingekeer as ek kwaad is, want om kwaad te word, beteken om beheer te verloor. “Ek is glad nie ’n hartseer, depressiewe mens nie. Inteendeel, vir my is die lewe inherent goed en is mense uit liefde gemaak. Dit is wat my laat opstaan elke dag, my liedjies laat skryf en my kitaar laat speel in plekke waar niemand regtig wil luister nie. Die lewe op aarde is so kort, dit is soos ’n slukkie wyn. Hoekom wil jy ’n gal smaak in die mond van die ewigheid los.”
SÓ SÊ HULLE OOR JAN BLOHM Jan Blohm en sy groep Ware Noord het die musiek- en mediawêreld aan die praat. Hier is ’n paar uitlatings oor hierdie musikale rigtingwyser: • “Ek het die toekoms van Afrikaanse musiek gehoor. Sy naam is Jan Blohm. Nou kan ek in vrede sterf.” – Amanda Strydom by www.litnet.co.za • “Stevie Ray Vaughn meets Bruce Springsteen in Afrikaans.” – Cathrin Myburgh in Beeld. • “If Bruce Springsteen recorded his Nebraska Album in Afrikaans it would sound like this.” – MP3.com. • “Koos du Plessis met widerims en V8...” – Koos Kombuis in Rapport. • “Die blues drup soos heuning uit sy mond.” – Mariana Malan in Die Burger. • “Hoekom luister so baie mense na flouerige Afrikaanse musiek en nie na Jan Blohm nie?” – ’n Vraag wat Dana Snyman vir Madiba op sy verjaardag gevra het.
“Ons is met albinosiele gebore, jou senugoetertjies sit aan jou buitekant. Dit is hoekom die realiteit vir my so verskriklik skerp is.”
|
|