SPIEËLTJIE AAN DIE WAND
07/01/2005
|

|
Mej. Suid-Afrika Claudia Henkel is alles wat jy nie van ’n blonde skoonheid verwag nie. Slim, standvastig, beginselvas, ambisieus... Marlize Leyden het gaan nader kennis maak. |

|
Dit is vier dae voordat Mej. Suid-Afrika, Claudia Henkel, na Bangkok in Thailand vertrek vir die Mej. Heelal-kompetisie. Ek is vroeg vir die onderhoud en kyk van ’n afstand hoe sy die media en fotograwe hanteer. Met fyn stiletto’s en ’n ligblou, asemrowende aandrok flankeer sy speels met die kamera. Wanneer sy, nog steeds met stiletto’s, maar dié keer met ’n swart snyerspakkie voor my stelling inneem, is ek gefassineer deur haar oë. Kan nie heeltemal besluit watter kleur dit is nie. Suiwer blou is dit nie. Daarvoor is daar te veel grys en groen. Maar dat dit aandag trek, is beslis. Self dink sy ook dat haar oë van haar beste bates is. “Ek het al gesien as ek mense direk in die oë kyk wanneer ek hulle vir die eerste keer ontmoet, kry ek onmiddellik ’n warm reaksie, word ek dadelik verwelkom.” Claudia beskou haar lengte as nog ’n voordeel. Op 1,83 m is sy ná Mej. Pole die langste deelnemer in die Mej. Heelal-kompetisie. “Ek het nog altyd letterlik uitgestaan. Toe ek verlede jaar tydens die Mej. Suid-Afrika-kompetisie die Mej. Veet Bene-kompetisie gewen het, het ek gedink ek het verloor omdat niemand al ooit met albei titels weggeloop het nie.”
Wêreld ’n leerskool Dit is dan ook hierdie einste lang bene wat haar op vyftienjarige ouderdom die eerste keer modelwerk laat doen het. “Op sewentien het ek my skoolloopbaan tydelik onderbreek om in Milaan modelwerk te doen. Daar het ek baie dinge van die lewe gesien. My tyd daar was nie noodwendig ’n negatiewe ervaring nie, maar wel ’n leerervaring. Daar het ek besef hoe belangrik dit is om deur ’n ondersteuningsnetwerk omring te wees; hoe nodig ek my familie het. Ek het ook besef dat niks sonder harde werk kom nie, dat ek moet teruggaan Suid-Afrika toe en opleiding moet kry waarop ek kan terugval as ek nie meer modelwerk doen nie.” Dit is wanneer Claudia oor haar familie gesels dat sy begin borrel. Vir die eerste keer besef ek die stil, donker vrou wat Claudia vergesel, is haar ma, Linda (49). Dieselfde fyn, simmetriese gelaatstrekke, maar in teenstelling met die twee-en-twintigjarige se blonde elegansie het haar ma donker boeiende oë en hare. “My sussies is ook donker, maar my pa het dieselfde kleur oë en blonde hare as ek,” verduidelik Claudia. “My ma het ook blou oë gehad,” onthou Linda. Hoewel veral Claudia se pa, Irmin (53), ’n oor-neus-en-keel-spesialis van Pretoria, nie kort is nie, troon Claudia bo albei haar ouers uit. Saam kan ma en dogter nie haar lengte verklaar nie, maar dan onthou hulle van Linda se broer wat ’n outydse ses voet ses in sy sokkies staan. Besluit daar en dan dit is sy skuld dat Claudia so lank is. Claudia is die middelste, langste, blondste kind van drie susters. Linda is ’n tuisteskepper, ’n geesdriftige tuinier en die een wat haar kinders nog altyd na hoër hoogtes aangemoedig het. Haar susters Anica (25), ’n grafiese ontwerper, en Nicolai (20), ’n Tukkie-student in bemarkingsbestuur, is ’n belangrike deel van Claudia se lewe. “Natuurlik het ons ons rusies, maar ons kom altyd oor dit. Nie een van ons is eintlik al uit die huis uit nie en dit is steeds vir ons heerlik om dinge saam te doen.” “Dit was vir ons ’n oorweldigende gevoel toe Claudia se naam verlede jaar as Mej. Suid-Afrika uitgelees word,” onthou Linda. “Sy was nog nooit eintlik een om voor die spieël te draai nie.” Claudia beaam dit wanneer sy vertel hoe lekker dit vir haar is om haar gesin op hul kleinhoewe buite Pretoria te besoek. “Daar sal jy my kaalvoet, in jeans, buite tussen die diere kry. Ons het sewe Sharpei-honde, apies, ’n meerkat, slange, visse, voëls en ’n kat. Ek is mal oor verskillende soorte diere – of dit nou wilde of mak diere is.” In haar vrye tye hou sy daarvan om in die gimnasium te oefen, sy luister graag na musiek en sy is ’n ywerige leser. “Ek lees letterlik alles – van tydskrifte tot toiletpapieretikette. Selfs as ek in my kar ry, lees ek die hoofopskrifte van die koerante. Dit hou my besig en gee my genoeg om oor te praat wanneer ek mense by geleenthede ontmoet.”
Liefdes in haar lewe Hoewel sy die ondersteuning en aanmoediging van haar gesin met haar modelwerk gehad het, was die besluit om aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie deel te neem iets wat sy op haar eie gedoen het. “My ouers het my wel ondersteun in my keuse, maar as ek miskien twee maande voor die kompetisie besluit het om nie meer deel te neem nie, sou hulle my steeds ondersteun het. Dit is hoekom hulle so wonderlik is. Hulle begelei my op die pad, maar ek neem die besluite oor wat ek met my lewe wil doen. “Ek het vir Mej. Suid-Afrika ingeskryf omdat modelwerk alleen my nie genoeg bevredig nie. Mense sien jou as ’n kommoditeit – jy modelleer pragtige klere en dit is dit. As Mej. Suid-Afrika kry ek die geleentheid om ’n mening te hê, om iets te beteken, om menings te verander.” Dit is om dieselfde redes dat sy ’n graadkursus in die regte aan die Universiteit van Pretoria gevolg het. “Modelwerk maak iemand baie lewenswys. Iets wat baie nodig is wanneer jy as regspraktisyn met mense werk. As ek nie die ondervinding gehad het wat modelwerk my gegee het nie, sou ek ’n eensydige uitkyk op die lewe gehad het. Daarom is dit vir my so belangrik om die lewe met my verskillende ervarings te benader. Ek sou graag wou spesialiseer in menseregte en ander leer waarop hulle kan aanspraak maak.” Sy het as ’n topstudent haar tweedejaar in die regte voltooi, maar sy twyfel of sy na ’n lesinglokaal sal terugkeer. “Dit help nie om te jok en te sê ek gaan terugkeer universiteit toe nie,” vertel sy terwyl sy my reguit in die oë kyk. “My lewe het ’n ander paadjie gevolg. Ek sal wel my graad miskien deur afstandsonderrig voltooi. Om Mej. Suid-Afrika te wees, is egter ’n voltydse werk, maar volgende jaar, wanneer my program miskien nie meer so vol is nie, kan ek weer aandag aan my studies gee.” Die bekroning as die mooiste van die land het inderdaad Claudia se lewe drasties verander. Sy bieg dat dit vir haar die moeilikste is om van ander mense afhanklik te wees en nie presies te weet wat om altyd in ’n gegewe situasie te doen nie. “Van nature is ek ’n baie georganiseerde, gestruktureerde persoon. As ’n regstudent het ek ’n tydskedule gehad – geweet wanneer ons toets skryf, hoeveel sake ek moet lees en hoeveel tyd ek nodig het om voor te berei. Hoewel my werk baie uiteenlopend is, is die onsekerheid daarvan soms ’n bietjie moeilik. Niemand vertel jou hoe om Mej. Suid-Afrika te wees nie. Ek word sommige oggende wakker met die wete dat ek daardie dag byvoorbeeld ’n klomp eiendomsagente gaan toespreek oor ’n onderwerp waarvan ek niks weet nie. Op een dag het ek al Madiba en Tokyo Sexwale ontmoet. Vreesaanjaend soms, maar opwindend.” Sy ontken dat sy romanties verbind word aan 5 FM-aanbieder Gareth Cliff en verduidelik hoekom sy haar liefdeslewe vir ’n jaar lank op ys gesit het. “Ek het iemand spesiaal in my lewe gehad tot so twee maande voor die kompetisie. Die moeilikheid van hierdie situasie was nie dat ons opgehou het om lief vir mekaar te wees nie, maar my droom om Mej. Suid-Afrika te wees was groter as om ’n liefdeslewe aan die gang te hou. ’n Verhouding en my werk as Mej. Suid-Afrika neem albei ewe veel tyd in beslag en ek het gedink dit is onregverdig om ’n man vir ’n jaar lank aan ’n lyntjie te hou tot my termyn uiteindelik verstreke is.” Oor haar droomman het Claudia nie spesifikasies nie. “Ek gee nie om of hy blonde hare met bruin oë of donker hare met blou oë het nie, solank daar ’n verbintenis tussen ons twee is.”
Draadjie hoop genoeg “Die vreesaanjaendste gedagte wanneer ek aan die Mej. Heelal-kompetisie dink, is die feit dat ek deur 94 pragtige meisies omring gaan wees. Soos met die Mej. Suid-Afrika-kompetisie wil ek nie voor die tyd moontlike wenners aanwys nie. Ek het besluit om nie vooraf op die internet te lees wat ander mense sê nie omdat dit die fokus van my voorbereiding kan wegvat.” Dat sy saam met Mej. Venezuela en Mej. Puerto Rico die gunstelinge vir vanjaar se kompetisie is, blyk sy salig onbewus van te wees. “Ek wil net hê die beste vrou moet wen en as dit nie ek is nie, het ek steeds baie om na terug te kom. Ek het steeds wonderlike projekte en ’n fantastiese land om na terug te keer. “Ek hoop die deelnemers het soos met die Mej. Suid-Afrika-kompetisie opleiding om op terug te val en dat modelwerk alleen ’n stokperdjie vir hulle is. Tog weet ek dit is ’n kompetisie en ek berei my daarop voor dat daar jaloesie en nydigheid tussen die deelnemers kan wees. Om as die mooiste in ’n land soos Suid-Afrika gekroon te word, is reeds ’n wonderlike prestasie. Die Mej. Heelal-kroon sal net die kersie op die koek wees. “Dit is ’n hele pakket waarvan een deel uit persoonlikheid, een deel uit voorkoms, een deel uit selfvertroue en een deel interaksie met mense bestaan,” verduidelik Claudia haar definisie van ware skoonheid. “Ek bewonder mense wat met ’n draadjie hoop drome bou. Mense soos Charlize Theron en selfs prinses Diana. Toe sy in ’n adellike familie ingetrou het, het sy die keuse gehad om heel dag haar naels te laat doen, maar sy het nie. Sy het van dag een af uitgegaan en mense se lewens verander. Dit is presies wat ek wil doen. Ek wil uitgaan en die vaardighede wat ek geleer het, aanwend, sodat ek mense se lewens kan verbeter.” Mej. Heelal is vir Claudia iemand wat ’n fantastiese, onweerstaanbare teenwoordigheid het. “Sy moet ’n aura om haar hê. Goeie kommunikasie- en interaksievaardighede is ’n moet. Daar kan dikwels netelige situasies met politici en modeontwerpers opduik en dan moet sy te alle tye grasievol en vroulik bly.”
Suid-Afrikaanse kroondraers • Claudia Henkel is die eerste blondine in vyf jaar wat met ’n kroon weggestap het. Voor haar was dit Heather Hamilton (1999) en Diana Tilden-Davis (1991). • Vanjaar is dit die derde jaar dat Mej. Suid-Afrika van Pretoria is. Joan Ramagoshi (2003) en Cindy Nell (2002) was ook van Suid-Afrika se hoofstad. • In 1997 tot 1999 was die mooiste meisies van KwaZulu-Natal: Kerishnie Naicker (1997), Sonia Raciti (1998) en Heather Hamilton (1999). • Diana Tilden-Davis was die eerste Mej. Suid-Afrika wat in veertien jaar na die apartheidsjare aan ’n Mej. Wêreld-kompetisie deelgeneem het. Sy is as tweede prinses gekroon. • Diana Tilden-Davis se halfsuster, Janine Botbyl, is in 1988 as Mej. Suid-Afrika gekroon. Sy het die vorige jaar ook deelgeneem, maar het as tweede prinses ná Wilma van der Bijl geëindig. • Nog twee susters het aan die wedstryd deelgeneem. Odette Scrooby is in 1982 as Mej. Suid-Afrika gekroon, terwyl haar jonger suster, Olivia Scrooby, in 1990 as eerste prinses gekroon is. • Andrea Stelzer was nie net in 1985 Mej. Suid-Afrika nie, maar is in 1988 as Mej. Duitsland gekroon. • Penny Coelen is in 1958 as Suid-Afrika se eerste Mej. Wêreld gekroon. • Anneline Kriel is in 1974 as Suid-Afrika se tweede Mej. Wêreld gekroon. Sy was die laaste Suid-Afrikaanse skoonheid wat dit kon regkry. • Margaret Gardiner was in 1978 Suid-Afrika se eerste (en enigste) Mej. Heelal. • Laetitia Snyman was die naaswenner van Mej. Heelal 1984. • Diana Tilden-Davis is in 1991 as die tweede prinses in die Mej. Wêreld-kompetisie gekroon. • Jacqui Mofokeng was in 1993 die eerste prinses in die Mej. Wêreld-kompetisie. • In 1994 het Basetsana Makgalamele dit ook reggekry. • Cindy Nell is as tweede prinses tydens die Mej. Heelal-kompetisie van 2003 gekroon.
|
|