| |
Diaan se vele kante
09/01/2005
|

|
Ek ontmoet sepiester Diaan Lawrenson, oftewel Paula van 7de Laan, by dié SABC2-reeks se ateljee in Lonehill, Johannesburg. Wanneer sy by my aansluit, vergaap ek my aan haar kleredrag. Geklee in ’n toeknoopbloes tot onder haar ken met ’n blou kamee-borsspeld (van die soort wat my ouma gedra het), is nie hoe ek die blondekop se kleresmaak voorgestel het nie. “Nee sjoe, dit is vir die storielyn waarin ek nou is,” verduidelik Diaan. “Ek begin as ’n joernalis by die plaaslike koerant van 7de Laan, Hillside Times, werk, maar ek kry die werk onder andere deur die manier waarop ek aantrek. Ek word deur die meisies onder hande geneem en kamtig geleer om die regte goed se sê en te doen. Ek hou van mooi klere, maar rompe, toeknoopbloese en kameeborsspelde is nou nie heeltemal my smaak nie. Ek is meer ’n jean-en-t-hemp-meisie. As ek egter die dag moet mooi aantrek, hou ek van snyerspakkies. Dit voel of dit my mag gee.” |
Van ontkleedanseres tot bankkassier Nie dat die mooie Diaan enige hulp van buite nodig het om haarself te laat geld nie. Anders as die ambisieuse karakter wat sy in 7de Laan vertolk, het sy ietwat meer realiteitskontak plus ’n hele hoop toekennings wat sy op 27-jarige ouderdom reeds agter haar naam kan skryf. Hoewel sy nie uit ’n kunssinnige gesin kom nie, het haar liefde vir vermaak reeds kleintyd ontstaan. “Kersfeeskonserte by oupa Francois en ouma Ada in Bellville is van my mooiste kleintydherinneringe. Oupa het ons gevat om feetjies in die tuin te soek en Ouma het al ons Kersfeesstories op band geneem. Dit is miskien waar my liefde vir entertainment begin het.”
By die Nasionale Skool van die Kunste was sy onder andere saam met Karen Zoid op skool en na skool het Diaan besluit om AFDA (Suid-Afrikaanse Skool vir Film en Drama) by te woon. Reeds hier het sy haar staal gewys toe sy nie net die AFDA-eerbewys vir die beste filmaktrise in 1998 verower het nie, maar ook die ATKV-toekenning vir die beste eenbedryf gewen het. “Dit was in my eerste jaar by AFDA dat ek die eenbedryf geskryf het. As deel van ons kursus, het ons geleer om regie te doen, maar ook hoe om toneelstukke en draaiboeke te skryf. Deon Opperman het my aangemoedig om die stuk in te skryf. Die storie vir die ATKV se toneelkompetisie was op ’n ware verhaal binne ons familie gegrond wat gegaan het oor ’n man wat op ’n dag net spoorloos verdwyn het. Na twee jaar het hy sonder enige verduidelikings by die huis opgedaag. Sy vrou het hom weer in hulle lewe toegelaat en geen vrae oor sy afwesigheid gevra nie. Ek het die storie uitgebrei sodat dit oor drie sussies gaan.”
Diaan se veelsydigheid eindig nie by pryswennerdraaiboeke nie. Intussen het sy al in Deon Opperman se Requiem saam met onder andere Sandra Prinsloo, asook in Magspel saam met Frans Marx opgetree. Die rol van die ontkleedanseres Merle in Egoli, asook in Backstage en ’n klein rolletjie in die internasionale rolprent Stander het gevolg. “My rol in 7de Laan is vir my ’n hoogtepunt. ’n Mens maak wonderlike kontakte, maar ek het nie in ’n sepie begin speel omdat ek ’n ster wil wees nie. In die eerste plek is dit vir my ’n werksgeleentheid wat die rekeninge betaal, maar dit is ook ’n kans om in ’n ander soort medium as teater met van die land se beste akteurs en regisseurs te werk.”
Diaan erken dat sy as teaterakteur neergesien het op die sepiemeduim, maar dié idee, verseker sy gou, verdwyn vinnig wanneer jy jou op stel waag. “Tegnies is dit baie moeilik en die pas waarteen alles beweeg, maak dit baie senutergend. Met ’n verhoogstuk het jy ten minste drie weke om die woorde en die bewegings in te oefen, maar met ’n sepie het jy dikwels net ’n dag om jou woorde te leer. Om alles te kroon, moet jy steeds natuurlik lyk, pret hê en ’n oortuigende karakter skep waarvan die gehoor hou. Nie almal kan die pas en volume van ’n sepie hanteer nie.” |
’n Soen vir Madiba Asof die volume werk van 7de Laan nie genoeg is om Diaan se energie te absorbeer nie, het sy en ’n vriendin ook ’n industriële teatermaatskappy. “Ons het dit so vyf jaar gelede begin toe ons nog studeer het.” Sy verduidelik die konsep. “Met industriële teater word die medium van teater ingespan om sekere boodskappe en begrippe oor te dra. ’n Maatskappy sal ons nader om ’n interaktiewe produk aan mekaar te sit wat byvoorbeeld onderlinge vertroue in die werkplek uitbeeld. As ons nie self alles kan skryf nie, sal ons ’n regisseur nader. Dikwels tree ons dus as ’n tussenganger tussen die maatskappy en die kunstenaars op. Dit is ’n goeie inkomste.”
Een van hierdie projekte het Diaan die kans gegee om Nelson Mandela van nader te leer ken. “Ek het Mandela gesoen,” borrel sy. “Ek en ’n vriend is besig om hierdie dokumentêr oor Eddie Daniels – ’n man wat saam met Mandela op Robbeneiland was – te maak. Ons doen dit maar so stuk-stuk soos ons geld inkry. As deel van die dokumentêr reël ek toe ’n onderhoud met hom. Eintlik het ek net in ’n hoekie van die kamer gestaan, maar toe hy die vertrek instap, het alle clichés oor hom waar geword. Hy is enigmaties, ja. Hy straal energie uit, maar is tog sag. Hy het na my gestap en my behandel of hy my lank reeds baie goed ken. Normaalweg maak ek nie eintlik ’n ophef van bekende persone nie, ek glo nie in die konsep nie, maar met Madiba is dit anders. Hy is inspirerend.”
Een nadeel daarvan om ’n sepiester te wees, is dat die publiek soms nie kan onderskei tussen die karakter en die persoon nie. Vir Diaan is dit nie ’n onhanteerbare verskynsel nie. “Ek was onlangs in die Kaap met ’n vertoning wat ek daar gedoen het. Kort-kort was ek in die winkels om klere te kry en die mense aanvaar net bloot dat ek soos Paula is. Dat ek soos sy die winkels wil leegkoop, terwyl ek eintlik niks van inkopies hou nie. Hulle behandel my dan net soos hulle haar sou behandel. Dit is nogal ’n vreemde gevoel, maar ’n mens raak dit gewoond en leer hoe om dit te hanteer.” |

|
Tuis in die kombuis “Gelukkig ken ek nie mense soos Paula nie,” lag Diaan. “Ek het wel vriende wat eienskappe van haar het, maar ek dink ’n hele bondel Paula kan nogal uitputtend wees. “Soms dink ek dit moet lekker wees om soos sy deur die lewe te gaan en nie oor dinge bekommerd te wees nie. Nie om te gee wat mense van jou dink nie. Self is ek baie sensitief. Ek voel vir ander mense en ek ervaar dinge intens. “Daarom probeer ek wegbly van oppervlakkige, skynheilige mense. Van mense wat nie die volle prentjie sien nie. Ek probeer my omring met positiewe mense. Die lewe is te swaar om jou nog met negatiwiteit ook te omring.”
Tog is daar baie verskille tussen die blonde Paula van die kassie en die blonde Diaan van die regte lewe. Waar die bedorwe Paula van haar pa se kredietkaart afhanklik is, is Diaan van kleins af ’n onafhanklike persoon. En sy skryf dit nie net toe aan haar ouers se egskeiding toe sy veertien jaar oud was nie. “Ek dink ek was maar net van altyd af so. My ma het ons seker baie onafhanklik grootgemaak, maar ek het nog altyd dinge so op my eie gedoen.”
So het sy onlangs byvoorbeeld haar eie huis gekoop. Met twee uitgestrekte vingers so tien sentimeter uit mekaar beduie sy hoe groot die huis is. “Maar ek is baie trots op my woonstel. Ek het nog altyd met vriendinne gedeel, maar hierdie is my eie plek. Dit is ’n ou woonstel – van daardie soort met die mooi houtvloere en ’n hoë dak. Op die oomblik is ek besig om alles oor te doen. Ek laat die vloere afskuur en ek verf die plek uit. O ja, en ek het die mooiste kombuis...” Alles praat saam terwyl Diaan oor haar passie vir kosmaak gesels. “Ek is mal oor kook. Ek het nog nooit iets gebak wat suksesvol was nie, maar ek het vriende wat my leer om te kook. Jy weet, as jy ’n titseltjie van dié by ’n titseltjie van daardie bygooi, dan kry jy die heerlikste geregte.”
’n Ander talent waarvan min mense weet, is dat Diaan ’n uitstekende danser is. Haar rol as die ontkleedanseres in Egoli destyds was nie om dowe neute nie. “Ek dans al vir so veertien, vyftien jaar, maar in Egoli het ek saam met professionele mense gedans. Hoewel ek Spaans, Modern en Jazz kan dans, het die danseresse my baie touwys gemaak. Een van my drome is om eendag ballroom-danse te doen.” |
|

|
Moenie menswees verloor Sy verseker my dat geen deel van haar lyf ooit op kamera gewys het nie. Pure oëverblindery op die kassie, verduidelik sy. Verhoudings is egter ’n komponent van haar lewe waar Diaan probeer om absoluut eerlik te wees. Op die oomblik het sy niemand spesiaal in haar lewe nie, maar sy het wel baie uit vorige verhoudings geleer. “Een van die grootste lesse wat ek tot dusver geleer het, is om jouself nie in ’n verhouding te verloor nie. Dit is belangrik om altyd jou krag en identiteit binne ’n verhouding te hou. Selfs al is jy smoorverlief, is dit nie die moeite werd om jou menswees weg te gee nie.” |
| As sy nie as aktrise in die vermaaklikheidswêreld beland het nie, glo Diaan dat sy steeds op ’n manier by die bedryf betrokke sou wees. “Miskien agter die skerms. Iets soos hare of grimering, maar die vermaaklikheidswêreld is my passie.”
Destyds was daar die moontlikheid dat Diaan regte sou studeer, maar vandag weet sy dat die besluit om nie ’n prokureur te word nie heel moontlik een van die beste besluite van haar lewe was. “Om jou hart te volg is een van die moeilikste dinge wat ’n mens kan doen. Ander gee soms met die beste bedoelings raad, maar op die ou end is dit jy, en niemand anders nie, wat in die oggend moet opstaan en uitsien na dit wat jy daardie dag gaan doen. “Ek dink dit is baie maklik om iemand ander se raad te volg. So kan jy die skuld op ander mense plaas. Wanneer jy egter kies om jou eie hart te volg, het jy niemand om te blameer nie en jy moet die gevolge van jou eie keuses dra. Ek het met my lewe gekies wat ek wil doen en boonop geniet ek dit. Ek is nie vir een oomblik spyt oor die beroep wat ek gekies het om te volg nie.” |
|
|
|
 |
|
Quick links
|
> |
See what our seven lovely resorts offer you!
|
| |
|
> |
Change your members details!
|
| |
|
> |
|
| |
|
> |
|
| |
|
> |
|
| |
|
> |
Have a look at other Afrikaans websites!
|
| |
|
> |
Find a branch in your area
|
| |
|
> |
Where did you here about us?
|
| |
|
> |
|
| |
|
> |
|
| |
|
|