Soli(ed) oor die lewe
10/01/2005
Soli(ed) oor die lewe
“Aan die einde van die dag het my ouma my die kuns van lewe gegee. Sy het my laat besef die lewe is ’n kuns. Daar is ’n kuns in reg leef.” Só gesels die gladdebekaanbieder van die ATKV se Afrikiti en kykNET se Liriekeraai, Soli Philander, oor sy ouma Annie, wat hom en sy jonger broer, Virgil, vrou-alleen in Elsiesrivier op die Kaapse vlakte grootgemaak het. “My ouma is gelukkig dood. As jy reg leef, gaan jy reg dood.” Hierdie woorde is maar net een van die paar wyshede wat dié einste ouma Annie aan Soli oorgedra het. Vandag probeer hy dit deur ’n paar verskillende beginsels in sy lewe toepas...
Weet waar jy vandaan kom
Van Soli se kinderdae verstaan sy vier kinders nie veel nie. “Ek dink nie hulle kan hulle werklik indink hoe ons geleef het nie. Dit was ek, my broer en my ouma wat in ’n klein sinkhuisie met ’n buitekraan gebly het. Ons al drie het op een bed geslaap en as dit reën, moes ons onder plastiek lê omdat die dak gelek het.” Tog dink hy nie daaraan dat hy arm grootgeword het nie. “Ons was miskien fisiek arm, maar volgens my het ek nie ’n arm kinderlewe gehad nie. My ouma het ook altyd gesê dat jy nie ander mense verantwoordelik kan hou vir wat met jou gebeur en hoe jy die lewe hanteer nie. Sy het gesê jy kan arm wees, maar jy moet skoon wees en jy moet werk vir dit wat jy in die lewe wil hê. “My ma was ’n ongehude moeder. Destyds was dit mos ’n groot ding. Dit is toe dat my ouma my en my broer grootgemaak het,” verduidelik Soli die opset van sy kinderjare. “My ma was altyd vir my meer soos ’n ouer suster en ek het aan my ouma as my ma gedink.” Ouma Annie het van Barrydale se wêreld gekom. “Daai deel van Suid-Afrika maak so ’n ding in my wakker. Dit voel vir my of ek van daar af kom. Of my roots daar is. Die lewe het ook maar vreemde draaie met my ouma geloop. Sy was so vier jaar oud toe haar ma oorlede is. Die boer van die plaas, waar haar ma gewerk het, het ouma Annie in die huis geneem en grootgemaak. So het sy geleer om die huishouding te doen. Toe sy so agtien was, het sy weggeloop Kaap toe. Die boer het haar kom haal en met ’n sweep geslaan tot sy weer terug was op die plaas. Sy het altyd gelag as sy dié goed vertel en as ons haar vra hoekom sy lag, sê sy as ’n mens nie leer om vir goed soos dié te lag nie, sal die lewe jou altyd wen. “Sy het nog steeds ’n groot invloed op my lewe,” onthou Soli. “Soms ruik ek haar. Dan wonder ek wat sy nou vir my wil sê. Ek glo sy is soos ’n beskermengel vir my en my gesin. Ek dink sy sien en weet alles wat ons doen.”
Waardeer jou familie
As Soli ’n keuse moet maak tussen geloof, hoop en liefde, kies hy onwrikbaar die liefde. “Die liefde is vir my baie belangrik. Ek glo regtig die liefde kan enigiets doen, kan berge verskuif, maar sonder geloof en hoop beteken dit ook nie veel nie. Die liefde is die deel wat bo uitstaan, ondersteun deur die ander twee. “Jong, jy moet my broer ontmoet,” vertel hy oor die een familielid vir wie hy baie lief is. “Ek is die oudste, alhoewel die meeste mense dink hy is die oudste. Waar ek meer dinge in my kop beleef, is hy ’n man wat dinge dóén. Hy is die eintlike entertainer van die gesin. Jy moet hóm hoor stories vertel.” Verlede jaar het sy broer Virgil vir Soli benoude oomblikke laat beleef toe hy baie kritiek met tuberkulose in die hospitaal was. “Terwyl hy daar in die hospitaal gelê het, het ek gevra om ’n oomblik met hom alleen te gesels. Ek het daar ingegaan en hom vertel dat daar nie ’n manier is dat hy nou gaan nie. My kinders is te lief vir hom, ons het hom te nodig en hy beter homself regruk.” Virgil, wat ook die naam van ’n oud-Romeinse skrywer is, het vir Soli geluister. Vandag is hy volkome genees van tuberkulose en hy speel steeds so ’n belangrike rol in die Philanders se lewe soos hy altyd voorheen gedoen het. Vir sy vrou Tony is Soli ook ongelooflik lief. Dié twee is reeds twee dekades saam. Hy beskou sy ontmoeting met haar as ’n wonderwerk. “Ek bedoel, hier is hierdie vrou uit Kempton Park en hier kom ek uit Elsiesrivier in die Kaap en daar kruis ons paaie. Tony is my ruggraat, ek kan nie sonder haar nie.” Hy erken egter dat hul verhouding in die apartheidsera nie sonder probleme was nie. “Daar was tog maar die vooroordele en veral Tony se pa het aanvanklik gesukkel om die verhouding te aanvaar. Vandag is hy mal oor ons en die kinders, maar aan die begin was dit nie so maklik nie,” onthou Soli. “Omdat sy bang was vir haar pa se reaksie, wou Tony nie hul oudste dogter vir haar ouers gaan wys nie. Ek het net besluit my kind moet nie van haar ouma en oupa af weggehou word nie. Maar toe daardie kind op Tony se pa se skoot klim, was hy daarmee heen en is die potensiële konflik oor die kinders uit die weg geruim.” Alhoewel Soli weens sy werksomstandighede verplig word om baie te reis en al in lande soos Brittanje, Swede, Swaziland en Namibië gewerk het, beskou hy homself nie as ’n reisiger nie. “Ek hardloop soms so baie rond dat ek nie eers my eie van ken nie. Een van die lekkerste dinge in die lewe vir my is om by die huis te wees tussen my mense en my goed.” Die Philanders bly in ’n pragtige ou huis in Rosebank, Kaapstad. Dit is ’n huis met roetine, waar almal saans om ’n tafel eet, waar kinders respek vir ouer mense moet hê, maar tog hul sê mag sê. “Die probleem kom wanneer al vier kinders gelyk hul sê wil sê,” vertel Soli laggend. “Dan kom daar ’n stadium waar ek my voet moet neersit en sê dit is hoe ons iets doen en ek besluit so omdat ek die pa is en daarmee basta!” ’n Insident wat die Philander-gesin baie nader aan mekaar gebring het, was ’n motorkaping twee jaar gelede waarin Soli se gesin voor hul huis van hul motor beroof is. Die kinders het in die huis gehardloop, terwyl Tony die motorsleutel en haar handsak aan die rowers gegee het. Jinja, die gesin se hond, was die enigste een wat in die voorval beseer is toe hy deur die rowers met ’n mes gesteek is. “Ek was nie by nie, was op daardie oomblik in Johannesburg, maar toe ons uiteindelik by ’n terapeut kom om oor die voorval te praat, het ek vir die eerste keer agtergekom hoe lief ek vir my familie is, hoe lief hulle vir my is en hoe lief ons vir mekaar is. Hierdie negatiewe ding het ons uiteindelik laat besef hoe sterk ons oor mekaar voel. Ek het ook gesien hoe baie die gemeenskap vir ons omgee. Mense het sop aangedra en ’n vriend het selfs aangebied om vir ons ’n motor te huur tot ons ’n nuwe een het.”
Sweet vir dit waarin jy glo
“Ek was ’n baie stil kind, het nooit uit my beurt gepraat nie. Dis waar hoor,” verseker hy. “Behalwe as ons speletjies gespeel het. Dan kon ek lekker skel. Dié dat almal altyd in my span wou wees. Omdat ek so hard is as ek speletjies speel.” Ten spyte van mense se siening oor hom, beskou Soli homself nie as uitgesproke nie. “Ek sê net as ek iets sien wat nie reg is nie. As daar iets verkeerd is, sal ek sê wat in my gedagtes opkom, maar ek is beslis nie van nature uitgesproke nie.” Uitgesproke of nie, dit is ’n feit dat Soli ’n gawe het om ’n ding op die regte manier te sê. “Deur my werk wil ek mense aansteek met die pret van Afrikaans. Ek wil vir hulle wys hoe lekker dit is om Afrikaans te praat. Niemand moet gedwing word om ’n taal te praat nie, maar ek wil net vir mense wys hoe lekker kry ek in my taal. “Om ’n taal vir politieke foute te blameer, is vir my so verkeerd. Dit is nie reg dat apartheid voor die deur van Afrikaans gelê word nie. Dit is soos om te sê jy praat nie Duits nie omdat Hitler ’n Duitser was.” Soli gebruik sy bekendheid om grense tussen kulture af te breek. “In die tagtigerjare was daar ’n reeks met die naam Reflections op die kassie. In die program was ek die ligte Afrikaanse stem. Vandag nog herken mense in Soweto my. En die ironie is dat hulle almal na my kom en in Afrikaans, soms baie gebroke Afrikaans, met my probeer praat.” Vir Soli is daar nie ’n oomblik twyfel dat Afrikaans van eie bodem is nie. “Neem nou maar byvoorbeeld die Karoo. Kan jy dit enigiets anders noem? En die name van die bossies en die plantegroei? Kan dit enigiets anders genoem word? Die Afrikaanse name val so goed op die oor. Dit maak vir my net heeltemal sin om Afrikaans te praat. Solank ek leef, sal die taal bestaan.”
Sóé leef mens
“Ek dink glad nie ek is amazing soos party mense dink ek is nie. Ek leef maar net my lewe, doen maar net my ding. Ek staan maar net vir dit waarin ek glo.” Een van ouma Annie se wyshede was dat dit nie gaan oor dit waarteen jy baklei nie, maar oor dit waarvoor jy staan. Vroeg-vroeg het Soli al ondervind wat gebeur as jy op jou regte staan. “Ek was so nege jaar oud toe ek saam met my ouma na die slaghuis toe is om vir die man te vertel dat hy nie die regte kleingeld vir my ouma gegee het nie. Sy kon nie lees of skryf nie en haar Engels was ook nie so goed nie. Dis dié dat sy toe vir my vra om saam met haar te gaan. Ek onthou hoe bang ek was, hoe my kop skaars bo die toonbank uitgesteek het en hoe die man op die ou end wel die geld vir my ouma teruggegee het. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek my stem laat hoor het.” As daar een ding is waaraan Soli hom nie skuldig maak nie, is dit om oor dinge wat verby is, te dink. “Ek is nie ’n tobber nie. Ek beweeg aan. Ek maak vrede met hoe dit is en dan los ek dit daar. Dit help tog nie om aan die verlede te karring nie. Jy moet in die hede leef en vorentoe kyk.” Die seer en vernedering van apartheid het Soli nie regtig in sy kinderjare gepla nie. “Dit was net ek, my broer en my ouma. Ons het nie televisie gehad nie en nou en dan radio geluister. Omdat ons nie so baie kontak met die buitewêreld gehad het nie, het ons maar aanvaar dit is hoe dinge is. As jy nie sien hoe leef ander mense nie, dan pla jou eie omstandighede jou ook nie.” Dit was eers jare later, ook toe hy en Toni uitgegaan het, dat Soli ’n bietjie meer verstaan het oor apartheid. “Elke mens het mos maar sy eie storie, sy eie rede waarom hy dinge doen. Maar ek dink ’n persoon se menslikheid word gesien in jou medelye met ander. “Daar is net te veel mooi in die lewe om nog wrokke te dra. Ek huil nogal baie oor mooi goed. Ek kry sommer ’n knop in die keel as ek ’n ou man op ’n lughawe sy seun sien groet. Of die teerheid tussen twee mense sien. Die wysheid waarmee kinders vorendag kom, is ook vir my so spesiaal. “Ek glo sterk daarin dat die lewe jou goed bring en dat jy dan daaruit iets moet leer. As jy nie die eerste keer daaruit leer nie, gaan dit weer na jou gebring word. En dit sal elke keer erger word tot jy iets daaruit leer. Daarom is dit beter om die lewe met sy uitdagings die eerste keer so goed soos jy kan te hanteer.”
’n Lekker jol
Soli kan tot aan die einde van die jaar saam met medekunstenaars Nina Swart, Rina Hugo, Sibongile Mngoma en Hi-5 gesien word in Afrikiti, die feesproduksie waarmee die ATKV se 75ste bestaansjaar vier. Vir Soli beteken sy deelname aan die Afrikiti op ’n persoonlike vlak ook baie. “Vir die eerste keer voel dit vir my of ek deel van die ATKV en Afrikaans-wees is. Die wonderlike van die vertoning is dat daar geen politieke statements is nie, maar aan die einde voel die gehoor tog om op te staan en die volkslied te sing. Hopelik kry ons met Afrikiti dit reg om vir mense te wys hoe lekker dit is om in Afrikaans te jol. Aan die einde moet almal voel: Dit is ons land, ons taal en dit is lekker!” Hy geniet dit om saam met die mense van Afrikiti te werk. “Almal van ons leer in die proses iets nuut. Tog is dit ’n wonderlike groep mense bymekaar. En ons werk al so lank saam dat dit byna soos familie voel. Soms skel en baklei ons ook, maar meestal is ons baie erg oor mekaar.”
• Gaan na www.atkv.org.za om te sien waar die volgende Afrikiti in jou omgewing is of skakel telefoonno. 0800 002 209 vir meer inligting.
|
|