Plasjappie Ryk!
11/01/2005
Plasjappie Ryk
Die beste ding van Ryk Neethling (behalwe sy lyf, sy oë en windmakerkuif!) is dat hy steeds net ’n gewone ou is. Ten spyte van ’n wêreldrekord en Olimpiese goue medalje agter sy naam ondersteun hy steeds die Springbokke, kuier hy graag saam met sy familie en hunker hy na die grasvlaktes van die Vrystaat.
Vir ’n oomblik weet ek nie waar hy is nie. Sy lang 6 voet 5-gestalte het nog ’n paar sekondes terug vir my die parkeerplek by sy meenthuis in Sandton gewys. Toe is hy weg. Ek staan verdwaald in die parkeerterrein van die meenthuiskompleks en besluit om ’n kans met ’n oop deur die naaste aan my te waag. Snaaks hoe ’n mens altyd skuldig voel as jy iemand se huis sonder hul medewete betree. Ek soek rond na ’n teken wat wys dat daar ’n Olimpiese Spele-kampioenswemmer in hierdie huis bly, maar die verdwaalde gholfstok in die voorkamer verraai niks. Die televisieprojektor, sitkamerstel en boeke oor kunsvlieg en enkele reisgidse gee ook nie die geheim weg nie.
Ek besluit om ’n kans te waag en maak myself tuis. ’n Paar minute later maak Ryk weer geruisloos sy verskyning om te hoor wat ek wil drink. Hy verdwyn na agter om sy ontbyt klaar te maak, vermoed ek, maar kom sit later met ’n glas water vir my en ’n proteïendrankie vir hom.
“Is dit lekker?” beduie ek na die pienk, melkskommelagtige drankie in sy hand. Die gesig wat hy trek, spreek boekdele. “Ek gee nie eintlik om hoe dit proe nie. Kos is vir my ’n bron van energie. Ek vra altyd die volgende: ‘Gaan dit my energie gee? Gaan dit my laat sleg voel? Gaan dit my swaar maak?’”
Wanneer hy wel vir die lekkerte eet – hy is immers steeds ’n Vrystaatse boerseun met ’n gesonde eetlus – verkies hy Meksikaanse kos. “Maar soos hulle dit in Meksiko maak,” voeg hy vinnig by. Hier rond sal hy maar volstaan met soesji, seekos, ’n kruisskyf en rooiwyn. “In Arizona was ons so 45 minute se ry van Meksiko. Nie branderige kos nie, net lekker.”
Gesoek: onvoorspelbaarheid
Hy vertel my meer van die Tucson-universiteit waar hy sielkunde en sake as hoofvakke geneem het. “Arizona is in Amerikaanse terme klein, so 1 miljoen mense. Phoenix is die naaste ander groot stad met ongeveer 3 miljoen mense. Ek het daar so tuis gevoel soos ’n Bloemfonteinse outjie seker kan voel. Die plek is droog en lelik, maar ek het spesifiek Tucson-universiteit gekies omdat ek ’n Amerikaanse universiteitservaring wou hê. By Tucson is die studentelewe die middelpunt van die dorp se bedrywighede.”
“Soos Potchefstroom?” vra ek. “Nee, eerder soos Beaufort-Wes,” korrigeer hy. “Amerika is ’n groot plek, moenie ’n fout maak nie. New York is groot, maar Los Angeles amper nog groter omdat alles so uitmekaar versprei is. As jy na enige plek wil gaan, moet jy amper 45 minute op die snelweg sit. Daar is nege bane in een rigting en nege in die ander.”
Kos is egter een van die min dinge wat hy van sy tyd in die VSA mis. Hy was daar vir nege jaar, van sewentien tot ses-en-twintig, maar erken dat hy spyt is hy het nie vroeër teruggekom nie. “Die gebeure van 11 September was verskriklik, maar ek dink die Amerikaners het daarna ’n bietjie oorreageer. Dit is een van die redes hoekom ek bly is om terug te wees. Toe ek in November terugvlieg, het dit my twee ure gevat net om op die vliegtuig te klim. ’n Mens het nie meer privaatheid nie. Ek moes my gordel afhaal, my skoene uittrek, my baadjie en broek uittrek. Ek sê toe sommer vir die doeanebeampte daar: ‘I’m so glad I’m leaving.’
“In die VSA is die lewe so voorspelbaar, so gemaklik en as jy die Amerikaners uit hul gemaksone neem, freak hulle heeltemal uit. In Suid-Afrika weet jy nie wat gaan gebeur nie, met wie jy in aanraking gaan kom en hoe jy daardie persoon moet benader om te kry wat jy wil hê nie. En dit is hierdie onvoorspelbaarheid waaroor ek mal is.
“Kyk, die Amerikaners is nice mense,” sê hy met groenblou kykers wat onder sy oogbanke gluur. “Op die oppervlak is hulle vriendelik, maar ’n mens dring nie maklik tot hulle deur nie. In die nege jaar wat ek daar was, kan ek my vriende op een hand tel.”
’n Seun word ’n man
Tog was dit nie net sleg in die VSA nie. Hier het Ryk die kans gehad om intensief op swem te konsentreer en ’n man te word, soos sy pa met dieselfde naam dit stel. “Onthou, ek was hierdie Afrikaanse seun uit Bloemfontein wat nie eers Engels ordentlik kon praat nie. Die eerste ses maande het ek ook nie geld gehad nie. Ek moes elke sent tel en as daar ’n winskopie op worsbroodjies was, het ek dit gevat. Maar ek sal die hele ervaring nie vir enigiets anders verruil nie. Ten minste weet ek nou dat ek enige plek in die wêreld kan oorleef.”
Ryk se sportmanskap het selfs die Amerikaners beïndruk. Nie net was hy studenteleier nie, maar hy is ook aangewys as Tucson-universiteit se Sportman van die Eeu. “Al is Tucson een van die kleiner Amerikaanse universiteite, het dit steeds 40 000 studente. Ek was nogal trots op dié benoeming.”
In Arizona, veral nadat hy klaar gestudeer het, het Ryk die kans gehad om net op swem te konsentreer. In daardie stadium was hy ’n langafstandswemmer wat op die 1 500 m vryslag gefokus het. Ná sy minder suksesvolle deelname aan die Olimpiese Spele in Sydney waar hy sesde geëindig het, het hy swem opgegee en as eiendomsontwikkelaar in Arizona begin werk. “Ek was baie teleurgesteld in myself en het opgehou swem. Maar een dag het ek sommer vir die lekkerte in die swembad gespeel en dit so geniet dat ek weer begin oefen het.”
Dié keer, het hy besluit, sou hy op korter afstande fokus. “Ek het nog die lyf van ’n manlike Elana Meyer gehad. Ek het begin oefen, 15 kg gewig opgetel en sterker geword.” In 2002 is hy na die Statebondspele in Manchester waar hy homself verras het deur tweede te kom. “Ek het net geweet ek kan en het weer begin fokus.”
Voorheen het die talent en energie van Roland Schoeman, Darian Townsend en Lyndon Ferns sy oog gevang. “Ek het borge gaan soek, vir hulle gesê ek swem ’n bietjie ná werk, is sesde in die wêreld, maar wil Athene toe.”
Op 5 Augustus het hierdie span in Athene aangekom sonder dat hulle ooit saam geoefen het. “Ons het so agt dae voor die tyd saam begin oefen. Drie van ons was van die VSA en die ander een uit Suid-Afrika. Ons het nie enigiets vreemd gedoen nie, net gewoond geraak aan mekaar. Die res is een van die goue oomblikke in Suid-Afrika se geskiedenis. “Dit is ook vir my die hoogtepunt van my sportloopbaan tot dusver. Ek het laaste geswem en toe my hand daardie kant raak, het ek geweet ons het gewen. Ons het geweet ons het ’n kans, maar het die Italianers en die Russe as die gunstelinge beskou. Ek weet dit is ’n cliché, maar ek het regtig nie woorde om daardie oomblik te beskryf nie.”
Kom uit gemaksone
“Tot in hierdie stadium is my lewe vir my ’n voorbeeld van iemand wie met drome en harde werk baie kon vermag. Niemand het ooit daaraan gedink dat hierdie outjie van Bloemfontein eendag ’n Olimpiese kampioen kan word nie. Ek het aangehou en op 26, wat half aan die einde van ’n swemmer se loopbaan is, kan ek my droom verwesenlik. Sukses gaan nie in jou skoot val nie. Jy moet bereid wees om uit jou gemaksone te beweeg en iets anders te probeer.
“Nog iets wat ek in dié tyd geleer het, is dat almal nie my vriende is nie. Dat jy vriende het as jy die dag wen en goed doen, maar dat jy hulle verloor as jy nie meer so goed doen nie. Maar ek weet dit nou en ek hanteer dit nou ook anders.”
Met wysheid soos dié is dit ook g’n wonder nie dat Ryk sy lyf deesdae motiveringspreker hou. “Ek is baie besig. En ek geniet dit, want ek weet ek gaan nie altyd so gewild wees nie. Vanmiddag vlieg ek byvoorbeeld met ’n helikopter Sun City toe en Donderdag gaan ek parlement toe waar ek hopelik met die mense oor sportgeriewe van die land kan gesels. As daar nie nou iets gedoen word nie, gaan Suid-Afrika oor tien jaar ’n groot agterstand hê.”
Benewens geleenthede soos dié, is Ryk ook ’n eiendomsontwikkelaar en is hy behulpsaam soos Swem Suid-Afrika hom benodig. “Dit is vir my eintlik net lekker om hier te wees, vir my ouers in Bloemfontein te kan gaan kuier en om my pa te bel om te hoor hoe dit gaan. “Met swemafrigting is ek nie op die oomblik voltyds betrokke nie, hoewel ek my kleinsus Jean-Marié se swemprogramme in Bloemfontein skryf. Sy is een van die beste jong swemmers in die land. Wat my veral beïndruk is haar vermoë om kennis in te neem. Sy sal na iemand kyk en die beste uit daardie persoon se vertoning haal. Ek sal iets vir haar sê, wat ek lankal reeds vergeet het, wat sy dan ná drie of vier maande weer ophaal.”
Benewens Jean-Marié (15) het Ryk nog ’n suster Elsje (24), wat ’n joernalis by Volksblad is. Ma San-Marie is ’n heeltydse trompoppieafrigter en deeltydse swemafrigter. Sy pa Ryk is ’n prokureur. “Nou dat ek ouer word, besef ek hoe baie ons ouers vir ons gedoen het. Hulle hele lewe het rondom ons gedraai. Ek was net so bly vir hulle toe ek die Olimpiese medalje gewen het. Hulle is soms onder net soveel druk omdat ek in die kalklig is. “Nee, my ouers het my nie gedruk nie,” tob hy. “Miskien eerder aangemoedig, maar dit was maklik omdat ek van swem gehou het. Natuurlik was dit nie altyd pret om vroegoggend uit die bed te klim en te gaan oefen nie. Dit is met sulke tye waar veral my ma ’n rol gespeel het om my by die swembad te kry.
“Dit is baie belangrik dat kinders nie te vroeg gedruk word nie. Ondersteun hulle, laat hulle dit geniet, want daar lê nog ’n lang pad voor. As Pietie die o.12-Gautengkampioen is, beteken dit nog nie hy gaan ’n Olimpiese kampioen word nie. Hy het nog tien jaar oor voor hy sy potensiaal bereik en as hy dit nie bereik nie, gaan hulle nooit daar kom nie.”
’n Gesinsman
Tyd vir sy familie maak hy altyd. “Ek is mal daaroor om saam met my familie in die natuur te kuier. Ek is mal oor die Vrystaat. Vir my is dit die plek waar ek grootgeword het. Hierdie afgelope naweek was ek saam met my gesin. Ons het rugby gekyk en waar ek gewoonlik my eie emosies goed onder beheer het as ek swem, kon ek net nie in hierdie wedstryd teen die Aussies stilsit nie. Dit is nie asof ek die Aussies haat nie. Ek wil net so graag hê ons moet hulle wen.”
Vir die liefde sê Ryk het hy nie nou tyd nie. Ook die gerugte oor ’n verhouding tussen hom en model Nicola Breytenbach ontken hy. “Ons is goeie vriende, maar daar is niks meer nie. Natuurlik wil ek iemand hê, veral as ek my skoolmaats se troufoto’s sien, maar ek het nie op die oomblik die emosionele energie vir nog iets in my lewe wat my tyd opneem nie. Miskien later as ek eendag rustiger is.”
Hoewel hy hom nie meer so voltyds op swem kan toespits soos toe hy in Arizona was nie, sien hy baie uit na die Statebondspele in Melbourne volgende jaar en die Wêreldbekerreeks wat in November vanjaar in Durban afskop. “Ek geniet my swem baie en wil so lank as moontlik aangaan. Dit het my lank geneem om te verstaan dat jy ’n wenner kan wees selfs al het jy nie gewen nie. ‘To win is to be the best in the history of your body’ het my afrigter altyd gesê. Dié dat jy baie bly kan wees al kom jy sesde. Net omdat jy jou bes gedoen het, waartoe jy in staat is.”
Ná die onderhoud loop Ryk saam met my motor toe. Vir ’n oomblik sien ek hom nog in die truspieëltjie. Dan is hy weg. Seepglad, soos ’n vis in die water.
Wat jy nie van Ryk geweet het nie
- As hy nie ’n swemmer van beroep was nie, sou hy graag ’n PROKUREUR wou wees. “Miskien sal ek dit tog eendag nog doen.”
- Ryk gee graag geld uit op REIS. “Ek kry dikwels klere en gadgets van borge. Daarom gee ek graag geld op reis uit. Ek is mal oor Brasilië. Die mense daar is baie soos Suid-Afrikaners, behalwe dat hulle meer passievol is.”
- Ryk erken dat hy ’n SWAK GEWOONTE het om vinnig te ry.
- As daar een ding is wat Ryk eerste in die land sou wou VERANDER, is dit om die armoede te verlig. “Ek kan nie glo daar is mense wat nog so in hierdie land leef nie. Baie van Suid-Afrika se probleme het hul oorsprong in armoede.”
- Ons eie PENNY HEYNS is een van sy inspirasiebronne.
- As hy kon kies tussen ’n WÊRELD- EN ’N RUIMTEREIS kies hy ’n reis om die wêreld. “Met my lengte is dit erg genoeg om in ’n vliegtuig te vlieg. In ’n ruimtetuig gaan dit nog erger wees. Boonop klim jy nie eers af nie.”
|
|