ANNA in die dromerige dertigs
01/01/2006
Die tyd van die dertigerjare was die tyd van Bonnie en Clyde, Tarzan, die ontdekking van Pluto en ... ook die verskyning van die eerste Taalgenoot. Ons neem vir Anna Davel, ’n diva de luxe, terug na daardie tyd van misterie en elegansie.
Anna Davel word deesdae oral gesien. In Revlon-promosies, op skerm, op feesverhoë en in tydskrifte. Sy trek die eerste keer aandag toe sy in 1997 as die algehele wenner van die ATKV se nasionale sangkompetisie Crescendo aangewys word. Later daardie jaar sluit sy by die vroue- a capella-groep Cutt Glas en is uiteindelik ses jaar lank lid hiervan. Toe, in 2003, besluit sy “bewerig en biddend”, om die groep te verlaat en op haar eie loopbaan te fokus. Onnodig om te sê, was dit die beste besluit wat sy kon maak.
Divas vs. dingetjies Anna het die tydlose grasie van die dertigerjare. Toe divas en dingetjies maklik onderskeibaar was. Toe mans nog deure oopgehou en vroue hul rokke met rissluiters begin toemaak het. En op haar nuutste album, Linger, herroep sy die klanke van daardie jare. Meesleurend, atmosferies, jazzy ...
“Die musiek van daardie tyd was net fantasties – My romance, As time goes by, Stormy weather, Ain’t misbehavin ... Al dié liedjies is geskryf in die 30’s en is opgeneem op Linger. Maar, as ek nou mooi daaroor dink, kan ek nog steeds daardie musiek sing, maar het ek nou ook toegang tot die internet, flieks, ’n motor ... So, eintlik is ek heel gelukkig met waar ek is!
“Ek klap volgende jaar Augustus die groot 35, halfpad tussen niks en nêrens. Dinge behoort van nou af net lekker te loop. Almal wat 50 is, sê die lekkerste jare kom nou eers, en ek glo hulle. Ek praat met tieners en ek dink ek is baie nader aan hulle ouderdom, tot ek werklik daaroor gaan dink. Ek skrik my elke keer boeglam as ek besef ek het iemand se doeke omgeruil wat nou aan my kan opereer of my Kaapstad toe kan vlieg.
“Ja, dit het al gebeur! Ek het altyd ons bure se kind opgepas, en loop dié toe op die Kovsie-kampus raak besig met haar finale jaar medies. Ek kyk na hulle en voel regtig nie veel ouer nie. Ek het nie ’n groot ding oor ouderdom nie. Sommige mense dink as hulle ’n jaar ouer of jonger as ander is, is hulle in ’n laer of hoër rangorde. Dit is glad nie waar nie. Wel, nie vir my nie.
“Ek ken mense wat 20 is met meer verstand en volwassenheid as diegene wat 40 is. Die mense met wie ek kuier en saamwerk se ouderdomme wissel van voorskools – Daniël (5), my broerskind, vind ek geweldig interessant – tot Addy, ’n wonderlike vrou van diep in die 80 by wie ek enige tyd eerder ’n dop gaan drink as party van my tydgenote. “Ek is soms bang dat ek nie my lewe voluit leef en alles sal doen wat ek moet nie (wat dít ook mag wees?). Ek dink dit is een van die groot vrae wat ek wens ek nou al die antwoord op ken.”
Opkikkering vir donker dae Anna het sedert haar “emansipasie” sowat drie jaar gelede heelwat benoemings en pryse op haar kerfstok versamel. Daaronder tel die FNB Vita-toekenning as Beste nuwe kunstenaar vir die teaterproduksie Skadu’s teen die muur, drie Sama-benoemings en 7 GMT-benoemings.
“Pryse is vir my ’n herinnering, nie noodwendig ’n bevestiging nie, dat die harde werk wat ek doen, wel erken word. En al is dit nie kommersieel ’n groot sukses nie, kan so ’n prys op donker dae mens net weer laat onthou waarom mens doen wat ’n mens doen. "Daarsonder sou ek nog steeds besig gewees het, en net so gemotiveerd gewees het, want die eintlike prys is mense wat na ’n show kom hallo sê en vertel dat jy hulle geraak het. Dit kan geen toekenning of slegte kritiek van mens af wegneem nie, en dit behoort die eintlike toets te wees.”
Sedert sy by Cutt Glas bedank het, was haar lewe een groot waagstuk. Die groep het haar ’n voorsprong gegee, veral wat lewenservaring, kennis en stemontwikkeling betref. Maar dis harde werk om daarna, so op jou eentjie, te oorleef – en suksesvol te oorleef. “Mens kan nie dink dat die massas wat oor jare die groep gevolg het, ewe skielik ook ’n kaartjie vir jou vertoning gaan koop sonder dat hulle ’n idee het wat jy alleen doen nie. Dit verg oortuiging deur jou musiek op die radio, deur word of mouth, of ’n musiekvideo, wat mense moet oortuig dat dit die moeite werd is om R80 op ’n kaartjie of R100 op ’n op ’n CD te spandeer. Ek moes elke persoon wat op die oomblik na my luister van voor af op ’n ander manier bereik, veral omdat dit wat ek nou doen en dit wat Cutt Glas doen, in karakter so verskil.
“Ek het geen satire in my vertonings nie, geen politieke kommentaar nie, geen uitgewerkte komedie en bittermin showstoppers (as daar is, het hulle nog niks laat stop nie!). Ek is oneindig dankbaar vir die jare wat dit my gegee het om as persoon te groei, en om nou op ’n plek te wees waar ek meer vertroue het in wat ek doen. Ek het ongelooflik baie geleer oor ons land, sy mense en wat dit vat om ’n ding aan die gang te gou saam met die gemotiveerdste mense, uiteenlopend, ja, maar met dieselfde passie en einddoel.”
Haar musiekwêreld is vol. Sy is gek na die musiekskrywers Richard van der Westhuizen en Herman van den Berg en luister graag na ander vrouemusikante soos Mynie Grové, Sarah Theron, Karen Zoid, Amanda Strydom, Anneli van Rooyen en Laurinda Hofmeyr. En dertig jaar van nou af? Waar en wie wil sy dan wees? “Hopelik 65 ... met ’n afbetaalde huis, ’n string CD’s waarvoor ek nie skaam is nie, al my pelle nog in die omgewing – ek wil regtig dan nie meer werk nie, net kuier tot die son opkom! “Dit is vir my bitter hartseer dat mense so hard werk, dat hulle heeltemal verby mekaar leef, en fisiek net te moeg is om werklik vriende te wees vir mekaar.”
Sy raak driftig.
“Dit is die een ding wat ek haat van die tyd waarin ons leef. ’n Mens se hele lewe word regeer deur jou maandelikse paaiemente. Niemand kan ’n maand oorslaan en net tyd afvat as hulle dit nodig het nie. Ons leef nie meer van die grond af nie, en selfs erfbelasting is deesdae ’n vreesaanjaende bedrag geld om mee tred te hou. Baie mense kan nie aftree nie, al is hulle huise afbetaal.”
Stories van haar lewe Sy lag ook lekker vir haarself. “Een keer het ’n radio-omroeper vir meer as ’n uur met my gesels by Laurika Rauch se CD-bekendstelling in Pretoria. Hy het selfs ’n afspraak met my gemaak vir ’n onderhoud met my later die week, en toe hy my groet, sê hy: ‘Nou maar mooi bly, Karla’.” Die storie van die rot is minder snaaks.
“Ek het een nag in ’n gastehuis oorgebly op pad Kaap toe, en ’n reuse-rot het die kamer met my gedeel. Ek het die hele nag ’n geknars gehoor, en gehoop dat dit my verbeelding was. Die volgende oggend was daar rot-mis oor my kopstuk, op my bedsprei, oor die mat en onder die spieëlkas! Gelukkig het my onderlip darem nog aan my gesig gesit. Dit was nie regtig aaklig nie, meer histeries van aard.”
“Aaklig” was die dag toe sy saam met drie mede-Cutt Glas-lede op ’n sypaadjie helder oordag met ’n vuurwapen beroof is. “Ek het drie dae later eers geskrik, en wou ’n omie se voortande uitslaan toe hy net aan my arm by die lughawe stamp...”
Watter enkele gebeurtenis het haar nog die meeste geïnspireer?
“Ek het vroedvrou gespeel met die geboorte van my peetkind, Christof, op die sitkamervloer in Alexa (Strachan, ’n groot vriendin) se huis. Dit was ’n heeltemal natuurlike geboorte, wat nie helfte van die verskrikking inhou wat mens op televisie en in koue hospitaalsale of met ’n keisersnit sien nie. My belewenis was een van kalmte, ’n wonderwerk, en ek het die sirkel van die lewe uit ’n ander hoek begin sien.
“Ek dink dat dit baie naby moet wees om iemand sy laaste asem vredevol te sien uitblaas na ’n vol lewe. Ek en Margit Meyer-Rödenbeck, nog ’n vriendin, het elkeen ’n hand vasgehou, en gesels, stupid goed gesê om die pyn minder te probeer maak, en toe hy gebore is, het ek die naelstring geknip, hom vasgehou, sy eerste doek aangesit, hom aangetrek, sy eerste bottel gemaak, en hom vir sy pa aangegee.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring, en ek is so dankbaar dat ek dit kon beleef soos wat dit oral oor die wêreld al vir eeue gebeur, juis omdat dit onwaarskynlik is dat ek ooit ’n kind sal kry. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Anna is lief vir kosmaak en ek vra haar om spyskaarte (en ideale gaste, lewend of dood) voor te stel. “Wel, natuurlik moet my my ma, pa en broers kom, maar as ek ’n paar ander vir ete kan oornooi, sal dit beslis die volgende paar mense insluit. “Nataniël, omdat hy getrou is aan homself, en sy gat af werk al het hy dit lankal gemaak. Hy vernuwe, gee nie die skuld vir ander nie, neem verantwoordelikheid. Ek gaan kyk al vandat ek my kode 8-lisensie het sy shows jaarliks, soms tot drie keer ’n jaar, en is altyd geïnspireerd. Ek het al ’n keer of wat ’n paar glase wyn saam met hom gedrink, en dit was nie nodig om vrae te vrae nie, want hy gesels vir die eerste span. Ek sal eend met cognac en bessiesous bedien, en waatlemoen-sorbet.
“Koos Kombuis, omdat hy altyd sê wat hy moet, en nie bang is om diep te krap as dit nodig is nie. Ek sal vir hom vra of ons kan Scrabble speel – ek dink dit kan nogal snaaks raak. En ons sal ’n kreef oor die kole braai, en whiskey drink. “Oprah Winfrey. Sy dóén dinge. Die mense wat kla oor hóé sy goed doen, moet eerder net stilbly en by die naaste vigs-weeshuis inloop en gaan babas voer, of verswakte bejaardes gaan versorg vir ’n dag of twee. Sy kon ook, soos die meeste van ons, veilig by haar huisie sit en muf elke dag, en ook tyd mors deur te kritiseer, maar sy werk haar dood, en raak baie meer mense se lewens positief as negatief. Ek wil haar graag oornooi vir ’n tjoppie en kerrie-sosaties, terwyl sy op my lilo in die swembad lê en niemand haar pla vir geld of borgskappe of om op haar televisieprogram te sing nie!
“Jesus, sodat hy asseblief vir my ’n paar onduidelikhede kan opklaar. Daar is enkele vrae wat gereeld by my opkom en my intellektueel uitdaag. Die antwoorde van dominees of verhandelinge en uitsprake op sinodale sittings gaan nie noodwendig duidelikheid bring aan almal nie, en daar sal altyd verskillende interpretasies wees oor goed. Ek glo dat net Hy vir my die genuine antwoorde op ’n baie maklike manier sal gee, sodat selfs ’n sesjarige dit kan verstaan. Ek sal vrae vrae oor oorlog, haat, selfsug, geweld, misbruik en oor liefde, vergifnis, opoffering, genade. En ek sal vis en wyn bedien.
“Vir die man wat die groepsgebiedewet ingestel het, sal ek dalk net arseen in tamatiesop, en gemaalde glas in koue frikkadelle opdis! Ek sal ander gaste ook nooi, en hom vra om bietjie te gesels met ’n paar mense soos Hugh Masekela, Thandi Klaassen en Dorothy Mazuka. Ek sal natuurlik musiek speel van Sophiatown, en hom op ’n vlakte gaan aflaai in die middel van nêrens, net met ’n tent, en sê: lekker bly. “Die persoon wat die eerste sjokolade gemaak het, se voete wil ek met Lindt smeer en dit soen. En daar sal nét sjokoladefondue sal op die tafel wees...” Anna se lewe is vol. Vol musiek, kos, vriende... die dinge wat haar dertigerjare vir haar betekenis gee.
Dertig woorde wat Anna bekoor • kleurvol • verandering • impulsief • gestruktureerd • deurmekaar • sag • bedonnerd • beginsels • begrip • empatie • inspirasie • ontdek • stilte • luister • asem • dans • oorvloed • minimalisme • ontoeganklik • oop • Vrystaat • populier • Paarl • Oos-Transvaal • rustig • boek • kuier • rumoerig • kalm • beheersd • stories • teater • branders • bome • Oostenryk
|
|