JAN ELLIS - vlieg deur die jare veertig
02/01/2006
Jan Ellis. Nee, nie die poeding nie. Ook nie die veteraan-rugbyspeler nie. Dié Jan Ellis kan sy lyf verkleurmannetjie hou en was al te sien in Known Gods, Oepse Daisy, Paljas, Fiela se kind. ’n Veteraan in sy vroeë dertigs wat saam met ons terugreis na die jare veertig.
Die oggend van die fotosessie is deurmekaar. Die redakteur moes Jan op die lughawe optel, maar sy vlug is vertraag weens swaar reën in Oos-Londen. Ek haas my na die lughawe en wonder hoe dinge in die jare veertig gedoen is toe die gedagte aan ’n selfoon sekerlik ondenkbaar was en vliegtuie – buig of bars – uitdagende weersomstandighede in die Tweede Wêreldoorlog sou moes trotseer.
Dit is nie moeilik om Jan tussen die vroegoggendreisigers op die Johannesburgse lughawe te herken nie. Op ’n stil manier is hy net skielik met sy jean en trui dáár. Toe hy van die probleem met die redakteur en die vlugtye hoor, bring dit hom nie van stryk af nie. “Chaos is oukei,” verseker hy my. En tussen die vliegtuie van Rand Airport en die outentieke Tiger Moth van Ken Cloete besef ek dié donkerkop Richard Gere-lookalike pas uitstekend by die tema van hierdie uitgawe – die veertigerjare van die vorige eeu.
Jan Ellis het immers ’n paar maande in Japan – eers as onderwyser en later as werker in ’n Zen-klooster – deurgebring. “Ek was in Nagasaki,” vertel hy my later. “Op die plek waar die atoombom ontplof het. Dit is soos Laingsburg. ’n Mens voel die atmosfeer van ’n tragedie, maar net omdat jy bewus is daarvan. Die oorlog, en die atoombomme spesifiek, het volgens my ’n baie unieke invloed op die Japannese psige gehad. Hulle praat nie eintlik daaroor nie, maar Japannese mense het die vermoë om hulself emosioneel af te sny. As ’n nasie het hulle nie meer ’n wrok teenoor die Amerikaners nie. Hulle kon dit regkry om te doen wat reg is vir ’n nasie sonder om emosioneel te betrokke te raak.”
Leef in die oomblik Dit word ’n lang dag. Aantrek, uittrek, op vliegtuie klim, in ongemaklike posisies poseer. “Ek het definitief nie uitgechill geraak nie,” bieg Jan oor sy tyd in die klooster. “Inteendeel, ek is meer betrokke en spreek myself selfs meer uit as vantevore. Ek het gedink ek gaan terugkom en half float deur die lewe. Maar ek het geleer om te stap. Op die grond te loop, want jy leer om in die oomblik te leef.”
Jan is so ietwat van ’n swerwer met die draaie wat hy al in Europa, Australië, Indonesië en Japan gemaak het. “Wat die omgewing van my verg, doen ek. Dit gaan nie soseer oor reis nie, maar eerder oor die beginsel van beweeg. “My tyd in Japan was meer soos ’n eksperiment met my eie menswees. Ek wou sien of ek dit kan hanteer om op my eie te wees in ’n vreemde plek.”
En dít is juis die rede hoekom Sanjan, soos hulle Jan in Japan genoem het, hierdie wêrelddeel uitgekies het. Die vreemde misterie daar rondom. “Soos ek verstaan het, is Japan nogal ver verwyderd van dit waaraan ons gewoond is. Aan die begin is daar nie sulke groot verskille nie, maar later het ek agtergekom dat die mense daar se verhoudings met ander mense ’n ander vloei neem. Dit neem lank om mense regtig te leer ken.” Jan het begin as ’n Engelse onderwyser vir tieners. Ná ’n ruk wou hy weer ’n nuwe uitdaging hê. “Die onderwyspos was lekker, maar baie veeleisend. Ná ’n ruk het ek alles gesien wat daar in die omgewing te sien was en aangesien ek nog altyd hierdie romantiese idee gehad het oor meditasie, afsondering en stilte, wou ek dit graag eerstehands in ’n Zen-klooster ervaar. Ek wou nie ’n Boeddhis word nie, ek wou net ervaar hoe dit is om in sulke afsondering te leef. Ek het plek gekry in ’n klooster waar ek in ruil vir my kos en verblyf gewerk het. Die klooster het die ekstra paar hande nodig gehad en ek het toe die kans gekry.
“Dit was ’n bietjie soos om in ’n koshuis te bly,” onthou Jan. “Ek en van die monnike het soms uitgesluip om in een van Japan se openbare baddens te bad. Die wasgeriewe by die klooster was baie triestig en dan het ons ’n draai in die naburige dorp gaan maak om net van die ergste vuilheid ontslae te raak.”
Hoewel daar verskillende skole van Zen is, het die klooster waarin Jan was, gefokus op fisieke arbeid. “Ek het 03:30 saam met die monnike opgestaan, blare gevee, in die tuin gewerk, blare opgetel, gevee, gevee, gevee. Dit was ’n erge roetine, maar tog was daar elke kort-kort iets anders waarop gefokus is. Dit is ’n harde metode om die ego af te breek, ’n bietjie soos die weermag. Die idee is om die grense tussen jou en die wêreld af te breek sodat jy meer deel kan word van die omgewing. Op ’n punt besef jy jy kan nie meer hierteen baklei nie. Ek het opgehou wens om met my ma te praat, opgehou wens om te gaan branderplankry, en net begin blare vee, want dit is wat ek moes doen.”
So ’n tyd in die buiteland, en veral die afsondering waarin Jan hom bevind het, is ’n manier om dinge oor jouself uit te vind. “Ek het geleer dat ek ’n moeilike mens kan wees. Ek het besef ek kan mense seermaak deur die manier waarop ek optree. En toe moes ek besluit of ek sekere dinge van myself gaan verander of nie.”
Op ’n ligter noot vertel Jan van sy obsessief-kompulsiwiteit. “Miskien het ek dit oorgehou van my Zen-ervaring, maar hoewel ek in werklike krisisse baie kalm kan wees, moet die spasie rondom my klinies perfek wees,” vertel hy, terwyl hy die sout-en-peper-potjies tussen ons in hoeke van 90° teenoor mekaar regpak. “As alles net so staan, sal ek dit uiteindelik in rytjies begin pak. Dit het oor die jare ontwikkel en mettertyd net erger geword. Dit gaan nie oor die cleanliness nie, maar oor die orde. Dit is vir my terapeuties om so te werk, maar as ek eendag die stap neem om my lewe met iemand te deel, sal dit moet verander.”
Familie ’n inspirasie Jan verkies om nie oor enige liefde in sy lewe te praat nie, maar oor sy familie is hy meer openlik. Sy ouers woon deesdae in Hermanus nadat hulle al die jare in Bellville gebly het. Dit is hier waar die Ellis-gesin menige spesiale dae en vakansies deurbring. Sy ouer susters, Shirley en Cornelle, is vir hom ’n inspirasie op verskillende maniere. “Shirley is ook in die vermaaklikheidsbedryf. Sy is ’n baie wyse mens en ek is baie bevoorreg om haar as ’n familielid te hê. Ander mense sal bloed skenk om tyd saam met haar deur te bring.” Waar Shirley en Jan nog kies om alleenlopers te wees, is daar hul sus Cornelle, ’n grafiese ontwerper, wat ’n man en kinders het. “Cornelle en haar gesin is weer vir my en Shirley ’n inspirasie omdat dit tot nou toe iets is wat ons nog nie gekies het nie. Dit is vir my roerend om te sien hoe sy, haar man en hulle kinders net ’n familie is. Dit bring vir my dinge terug na die werklikheid. Ek is baie bevoorreg om goeie tye met my familie te hê. Ons het al deur moeilike tye gegaan, maar het daardeur gekom ook.”
Dit is die einste ousus, Shirley, wat Jan in die vermaaklikheidsbedryf laat beland het. Hy is eintlik meer van ’n sportman, ’n spanspeler, soos hy homself beskryf. “Die toneelwêreld was eintlik Shirley se ding gewees. Ek het nooit gedink ek gaan dit eendag doen nie. Op skool was dit pret, ’n ekstra ding om te doen, maar ek sou ook daarvan gehou het om ’n professionele sportman te wees.”
Destyds, bykans twintig jaar gelede, het Jan Suid-Afrikaners se harte gespeel met sy gevoelvolle vertolking van Benjamin Komoeti in Fiela se kind. Sedertdien het hy al in tientalle rolprente, verhoogopvoerings, radiodramas en televisieproduksies opgetree. En sy spel het nie ongesiens verby gegaan nie. As vyftienjarige ontvang hy vir Fiela se kind ’n Vita-toekenning as beste ondersteunende akteur in ’n rolprent en ’n paar jaar later die M-Net All Africa-toekenning vir die vertolking van Nollie Kemp in nog ’n Katinka Heyns-film, Paljas.
Hy is verbaas dat mense hom steeds as Benjamin onthou. “Al wat ek kan dink, is dat Fiela se kind ’n geweldige indruk op mense gemaak het. Eers het ek gewonder of mense dan niks van my ander werk gedink het nie. Nou weet ek dat ek destyds werklik iets gedoen het wat mense geraak het. Dit laat my nederig voel.”
Op sy relatief jong ouderdom kan hy nie meer onthou in hoeveel produksies hy betrokke was nie. Een ding wat hy wel weet, is dat hy nie meer die baba op stel is nie. “Ek is nou in die stadium waar ek die voorreg het om jonger mense touwys te maak. Wat my opgewonde maak, is die talent wat daar is. Ek hoop net daar is genoeg werk vir almal.”
Chaos is oukei Toekennings en pryse is egter nie dié dinge waarop Jan die trotsste is nie. Omdat hy nooit ’n natuurlike aanleg daarvoor gehad het nie, is die feit dat hy kan branderplankry een van die dinge waarop hy trots is. “Ek het so op twaalf jaar begin omdat ek wou voel hoe dit voel as ek net met water omring sou wees. Wanneer ek spasie en tyd het, boer ek op die branders. Sal graag wil surf tot ek eendag doodgaan.”
Ander dinge waarop hy trots is, is die swart judogordel wat hy in Japan ná vyf maande se opleiding gekry het en sy eerste penvrug, Dikker as water, waarin hy saam met Chris Vorster die rol van twee broers vertolk het. “Daar was net veertien optredes van die stuk, maar daardie drama het iets aan groot Afrikanermans gedoen. Dit handel oor twee boeties waarin die een kies om weermag toe te gaan en die ander een nie. Ná tien jaar kom dié twee weer bymekaar en word hulle met hul keuses gekonfronteer. Ek is baie trots op daardie stuk. Dit was die eerste keer dat ek iets uit my eie kon skryf en nie in opdrag van iemand anders nie.”
Hy is baie positief oor sy eie toekoms. “Well, I’m still going,” verklaar hy en boonop weet hy dat daar nog baie oomblikke van sukses vir hom voorlê. “Enigiemand wat my in ’n produksie gebruik, kan seker wees oor dit wat ek na die proses bring. Mense kan my maar in hulle span hê, ek sal hulle nie in die steek laat nie. Dit is meer oor ’n uitgangspunt as die werk wat ek doen.”
Aan die einde van die fotosessie word Jan beloon met ’n vlug op die oudste Tiger Moth in Suid-Afrika. Ken, die eienaar van hierdie meganiese wonderwerk, neem hom vir ’n vlug oor die Klipriviervallei naby Johannesburg. Ná die tyd klim hy ietwat bleek uit die vliegtuig. “Dit was ’n fantastiese ervaring gewees. Ek bedoel, dit is een van die oudste vlieënde vliegtuie in die land. ’n Mens voel net so blootgestel, dis al.”
Ek vra hom wat hy dink die invloed van die Tweede Wêreldoorlog was. “Wel, ek is nou nie hierdie historiese kenner nie, maar aan die een kant voel ek as dit die mens se natuurlike manier is om met die siklus van die lewe aan te gaan, is dit maar hoe dit is. Hoewel ek in my werkswyse baie rigied en perfeksionisties is, floreer ek in grys areas. Chaos is vir my oukei!”
Vlieg op Valentynsdag Was dit nog altyd jou droom om in ’n veteraanvliegtuig te vlieg? Met Ken Cloete se 1939-Tiger Moth kan jy teen ’n skamele R750 ’n vlug vanaf Rand Airport oor Johannesburg, Soweto of die Kliprivier-omgewing ervaar. Die Tiger Moth, wat deur sir G. de Havilland ontwerp is, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog duisende vlieëniers in die Britse kolonies opgelei. Dié spesifieke Tiger Moth van Ken Cloete het in Oktober 1945 reeds 1 784 ure se diens in die oorlog gehad.
• Vir ’n vliegervaring van jou lewe of die perfekte Valentynsgeskenk vir vlieggeesdriftiges bel Ken Cloete by telefoonno. 083 486 4143 of (011) 394-8871.
Fassinasie van die veertigs Die veertigerjare van die twintigste eeu het darem nie net uit die gruwel van die Tweede Wêreldoorlog bestaan nie. Daar was ook ’n paar ander interessante gebeurtenisse wat in die wêreld gebeur het...
• Daar was nie baie vermaak in die oorlogsjare nie. Mense het nie baie tyd of geld gehad om rolprente te gaan kyk of boeke te lees nie. Tóg het daar wel uitstekende flieks en boeke in daardie tyd verskyn. Casablanca was ’n tydlose treffer met akteurs soos Humphrey Bogart in die hoofrol. • Die Disney-animasiefliek, Bambi, is in 1942 aan teaters bekend gestel. • Die bikini maak in 1946 sy verskyning. • Die 1940’s is die tyd van die jitterbug – ’n dans met vreemde bewegings en avontuurlustige passies. • Igor Sikorsky het die eerste moderne helikopter ontwerp. • Transistors, wat vandag in radio’s gebruik word, is deur William Shockley ontwerp. • In 1943 bou Alan Turning die eerste rekenaar, wat hoofsaaklik vir militêre doeleindes ingespan is. • In 1945 word die wêreld se eerste atoombomme op Hiroshima en Nagasaki in Japan gegooi. • Percy Spencer stel in 1946 die mikrogolf aan die wêreld bekend. • Die lugredery Pan Am stel die eerste vlug in 1947 rondom die wêreld in.
|