ATKV-Oorde
    Algemeen
    Lidmaatskap
    Nuusvrystellings
    ATKV-Projekte
    Hoezit!
    ATKV-Takke
    Taalgenoot • TG
Intekenaar (nie-lede)
Meer oor TG
    ATKV-Taaldiens
    LAPA Uitgewers
    ATKV-Jeuginstituut
    ATKV-Nuusbrief
    Spesiale Aanbiedinge
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

Taalgenoot • TG

Lewende Legendes

01/01/2005

Uniekheid is die een ding wat alle mense in gemeen het. Maar daar is diegene wat dit regkry om hulle individualiteit met 'n skeutjie kreatiwiteit, 'n titsel vroulikheid en hope passie te meng. Ons bring vandeesmaand hulde aan twaalf sulke vroue. Grensverskuiwers, meesters. Allermins ou hout en geensins vergete. Legendes in hul eie tyd.

Katinka Heys

"Ek wou aanvanklik eers kleuterskoolonderwyseres geword het, want ek hou baie van kinders, maar toe lyk drama vir my interessanter. Ek het nooit gedink ek gaan 'n filmaker wees nie, maar volgende jaar gaan ek 'n kinderreeks vir die SABC doen. Met hierdie projek voel dit vir my of ek is waar ek aan die begin wou wees."

"Met enige werk wat jy wil doen, is dit belangrik om hard te werk, nederig te bly en bereid te wees om alles te doen. Ek het geleer dat moeilike tye die beste manier is om geestelik te groei."

"Afrikaans sal steeds in 2050 gepraat word as ons daarin leef en kreatief is. Dit is soos kos. 'n Mens proe van alles, maar jou ma se kos bly die lekkerste. Proe, proe, proe, maar praat steeds Afrikaans."

Elize Cawood

"Die jaar waarin ek dertig geword het, was 'n tyd van absolute hoogtepunt. Ek is getroud en het 'n rol in Verspeelde lente vertolk wat my vir die eerste keer 'n huishoudelike naam gemaak het. 'n Mens kry eers jou verstand as jy dertig is. Ek het teen dié tyd lankal my verstand verloor, maar ek gee nie meer om nie. Dis wat so lekker is van my ouderdom."

"Tye wat daar nie werk is nie, is vir my senutergend. Dan hou ek myself maar besig. My seun is sestien, my dogter sewentien. So, hulle hou my besig. En ek werk in die tuin dat die klonte spat - is vir my uitstekende terapie."

"Mense moet ophou om so 'n bohaai oor Afrikaans te maak. Daar is genoeg mense wat dit praat, wat lief is daarvoor, wat daarin skryf, daarin dig, daarin speel. Hou net op wroeg en begin praat."

Sybil Coetzee

"Vanjaar gaan ek definitief nie weer Kilimandjaro uitklim nie. Het dit verlede jaar saam met my man en een seun gedoen. Ek wil eerder in Parys (die een in Frankryk) langs 'n straatkafeetjie sit en na mense kyk."

"Een van die belangrikste besluite wat enige mens moet maak, is die keuse van 'n lewensmaat. Dit bepaal jou persoonlike geluk."

"As ek enigiemand in die wêreld kon ontmoet, sal ek vir Oprah Winfrey nooi om 'n glas wyn saam met my te drink. Sy is vir my 'n ongelooflike vrou - die manier hoe sy haarself verhef het, hoe sy haar rykdom geniet, maar ook aan die wêreld terugploeg. Ek bewonder haar absolute menslikheid, deernis, die manier waarop sy kontak maak."

"Dissipline, geduld en totale professionalisme is vir my die wenresep vir enige kunstenaar. En as jou pote plat op die aarde is, sal jy nooit vergeet wie jy is nie."

Vinette Ebrahim

"Eintlik is ek baie dankbaar oor die struikelblokke wat ek in my lewe gehad het. Dit het my net sterker gemaak. Ek is oor niks spyt wat in my lewe gebeur het nie."

"1997 is 'n jaar in my lewe wat vir my uitstaan. Dit is die jaar wat my jongste my op veertig ouma gemaak het. Sy was skaars sewentien, en ten spyte van die teleurstelling dat my kind swanger was, het ek besef dat dit 'n omkeerpunt in my lewe is. Êrens moes ek iets reg gedoen het. Skielik het my dogter hierdie verantwoordelikheid gekry wat sy nie noodwendig sou gehad het nie. Saam-saam het ons haar seun die eerste drie jaar van sy lewe grootgemaak."

"Vandag is ek mal oor hom. Hy is die lig van my lewe. Dis ongelooflik om te sien hoe hy grootword. Net 'n ouma sal daardie liefde, so 'n wonderwerk, verstaan."

Mimi Coertse

"'n Sanger is soos 'n stoel. Ambisie, deursettingsvermoë, intelligensie, talent. As een van daardie vier nie daar is nie, kan die stoel nie staan nie, want dan is daar net drie bene."

"1956 was vir my 'n wonderlike jaar. Ek was 21, maar het daardie Maart my debuut in die Staatsteater gemaak, in Junie 1956 in Covent Gardens en in Julie het ek by die Salzburg-fees opgetree."

"In my privaat lewe was daar goeie en slegte tye, maar en ding wat ek geleer het, is dat 'n mens nooit ophou nie, altyd aangaan, want as die een deur toegaan, gaan 'n ander oop. Daar is altyd hoop."

"In die nuwe jaar wil ek gesond wees, besig bly. Ek wil steeds my ding doen, met jongmense werk en ek wil veg vir dinge wat nie meer daar is nie soos kamermusiekuitvoerings en 'n operageselskap."

Grethe Fox

"In hierdie jaar wil ek leer om meer te ontspan, meer in die oomblik te leef en minder oor my werk te bekommer. Ek wil ook minder tob oor dinge wat verby is. Ek gaan probeer om slegte ervarings uit my geheue te wis en met die lewe aan te gaan."

"Ek dink nie mens voel elke dag dieselfde oor die lewe nie. Weet dit klink afgesaag, maar ons moet meer vir die oomblik leef. Dit is die een les wat ek nog nooit kon leer nie, maar dit raak regtig dringend dat ek daardie les leer."

"Een van die moelikste dinge wat ek moes oorkom het, was die selfmoord van my man, Manie van Rensburg. Ek dink nie 'n mens oorleef ooit die dood van iemand op so 'n manier nie, maar jy leer om daarmee saam te leef. Ek het nie vrede daaroor nie, maar ek is beslis kalmer."

Ruda Landman

"Die afgelope jaar het ek 'n ongelooflike tyd gehad. Vir my werk het ek reise na Israel, Ethiopië, China en Griekeland onderneem. My seun Johannes was hoofseun van Hoërskool Helpmekaar. Ook vir hom was dit 'n goeie jaar."

"Hierteenoor was 1990 die jaar waarin ek en my man JP amper geskei het. Vandag is ons verhouding ongelooflik vervullend, maar dit het baie ure en trane gekos om te besluit dat ons vir ons huwelik 'n tweede kans gaan maak. Dit is toe dat ek besef het 'n huwelik is werklik 'n vennootskap tussen twee mense."

"Vir jong joernaliste het ek die volgende raad: Neem jou eie werk ernstig op, moenie afjaag nie en moenie in die versoeking kom om 'n storie sensasioneel voor te stel net om jou naam op die voorblad te sien nie."

"Jou artikels kan lewens verander - wees verantwoordelik!"

Anna-Mart van der Merwe

"Elke mens het sy eie probleme en onsekerhede. Ons het net geleer om dit vir mekaar weg te steek."

"As 'n akteur is dit nodig om sensitief te wees, om 'n atmosfeer te kan lees, want emosie is dit waarmee jy werk. Daar bestaan seker 'n moontlikheid dat jy jouself in die proses kan verloor. Daarom is dit belangrik om by jou eie waarheid te bly. Weet wie jy is, wat vir jou belangrik is en hoekom jy toneel speel. As 'n akteur van daardie posisie werk, sal dit goed met haar gaan.

"'n Mens kan maklik in die strik trap om alles te glo wat in die pers oor jou geskryf word. Bemarking is wonderlik, is deel van jou werk, maar dit bepaal nie wie jy is nie. Jy kan dit nie toelaat nie, want jy sal van jou kop af gaan."

"Iets soos roem bestaan nie werklik nie."

Brümuilda van Rensburg

"2005 gaan 'n lekker vol jaar wees! Ek gaan my dramaskool uitbrei en meer dramawerksessies in Johannesburg hou. Iets waarna ek verskriklik uitsien, is die wêreldbekergholftoernooi vir vroue in Februarie en in Maart vertolk ek die rol van Sneeuwitjie se stiefma in Spieëltjie, spieëltjie aan die wand."

"'n Jaar wat net so besig was, was 1992. Dit was in die begindae van Egoli en ons het lang ure gewerk om die sepie te vestig, maar dit was die moeite werd. In daardie tyd het ek geleer om te prioritiseer en tien dinge gelyktydig te doen."

"Een ding wat ek in my lewe graag anders sou wou hê, is om nog tale te kon praat soos Zoeloe. Ek hoop om in die nabye toekoms weer te reis na verre lande."

Wilma Snyman

"Ek het nou die dag getel dat ek bykans 78 verhoogproduksies na veertig jaar op die verhoog gedoen het. Ek het eers op 32 in my eerste professionele toneelstuk opgetree. My kinder was toe lankal reeds gebore. My oudste seun is 42, my ander een 40 en my dogter is 39. Geboortebeperking is daardie jare was maar baie primitief. Jy moet maar die kinders wat soos hulle gekom het."

"Die geboorte van my eerste kind was vir my 'n wonderwerk. Ek kon nie glo dat hierdie volmaakte stukkie mens uit my lyf uit kom nie. Dit het my deel van die skepping laat voel."

"Ek voel daar is baie tyd in hierdie land gemors oor mense nie lankal kon leer om mekaar se hande te vat nie. Hoekom moet haat soos 'n klip in 'n skoen rondgedra en gekoester word? Dit is tyd om haat uit te skud en vergifnis te vra."

Amanda Strydom

"Daar is nie regtig iets in my lewe wat ek anders sou doen nie. Ek is die somtotaal van al die lesse wat God my tot dusver wou leer en die leerskool hou nooit op nie."

"2002 was vir my 'n moeilike jaar. My broer André is in September oorlede en my vriend Ralph (Johannes Kerkorrel) in November. Vir die soveelste keer het ek besef die lewe is te kort om nie genoeg vir iemand te sê hoeveel hulle vir jou beteken en hoe lief jy vir hulle is ie. Dat 'n mens jou minder oor beuselagtigheid moet bekommer en meer moet konsentreer op dit wat werklik saak maak."

"Ek het matelose bewonderling vir Laurika Rauch en Annie Lennox, maar as ek die geleentheid kon kry om met enigiemand te gesels, sou ek graag saam met God wou kuier om agter die waarheid te kom oor alles, alles."

Shaleen Surtie-Richards

"Toe my pa vier jaar gelede oorlede is, was dit vir my 'n verskriklike slag. Ek het my menswees van my ouers gekry. Vir die eerste keer in my lewe het ek ervaar wat pyn is. Nooit gee ek weer ligtelik my innigste simpatie vir mense wat iemand verloor het nie."

"Net na Pappa se dood het Madiba my gebel om te simpatiseer. Ek kon nie glo dat hy die Sondagkoerant lees en my bel nie. Sy eerste woorde aan my was: "You make us so proud in this country." Dit was vir my soos vars room op aarbeie."

"As ek my lewe moet oorleef, doen ek dit presies dieselfde, want die seer in jou lewe dra by tot jou groei. Ek is 49 en ek weet presies wat ek uit die lewe wil hê. Ek vat nie meer nonsens van kabouters nie. Ek is soos onkruid, niks kan my onderkry nie."

Agter die lens

Sommige mense kry dit in die bad, ander in hulle slaap, maar die muse het die Taalgenoot-span nog altyd rondom 'n paar koppies koffie besoek ...

Dit was 'n koue oggend in Mei 2004. Tydens een van Taalgenoot se vele koukussessies oor die mees geskikte persoon vir die voorblad, besluit die redaksie dat die nuwe jaar met 'n nog-nooit-tevore-gedoen voorblad afgeskop moet word. As daar een ding is wat die redaksie nie kan weerstaan nie, is dit 'n uitdaging. Twaalf vroue vir die nuwe jaar. Twaalf legendes, een vir elke maand, vroue wat hul stempel op verskeie gebiede in Suid-Afrika afgedruk het, is die meesterplan waarmee daar vorendag gekom is.

Gedagtig aan die logistieke reëlings wat met 'n "gewone" voorblad gepaard gaan, is daar reeds in Augustus verlede jaar begin om bekende persoonlikhede vir dié voorblad te identifiseer. Dinkskrums is gehou, dagboeke is gekoördineer, vervoer gereël en die media geskakel, want 28 baie besige mense moes immers vir 5 ure op 16 Oktober op een plek bymekaarkom!

En siedaar, beslis nie met die swaai van 'n towerstokkie nie, maar wel met fyn beplanning en administratiewe koördinering, het ons die legendes pragtig laat lyk. Almal was gereed vir aksie, kameras wat flits en 'n kuier soos min in die weelde van 'n kasteel ...

Eenvoud is styl

Toe die redaksie die eerste keer by sy huis en studio in Brooklyn, Pretoria, instap, het ons geweet dit is die man. Die regte man om twaalf legendes soos prinsesse te laat lyk. Met 'n televisie wat altyd op die modekanaal ingestel is en die interessante dekor van sy sitkamer weet Suid-Afrikaanse modeontwerper Simon Rademan beslis van styl. Met 15 jaar se ervaring en 1 500 gelukkige bruide in hierdie tydperk moet hy weet wat hy doen. Daarby is hy landwyd bekend en gerespekteer vir sy kennis en begrip van styl en etiket. Simon spesialiseer in fabelagtige aand- en bruidstabberds, ideaal vir enige matriekafskeid, huweliksbevestiging of deftige geleentheid. Hy tree ook op as beoordelaar in die Mej. Suid-Afrika Skoonheidswedstryd en is dikwels raadgewer en stileerder vir glanstydskrifvoorblaaie.

Vir meer inligting besoek www.simonrademan.co.za of www.simonrademan.com Bel Simon Rademan by telefoonno. (012) 460-5106 of stuur 'n e-pos na s@simonrademand.co.za

Fabelagtige verblyf

Nog altyd in 'n gelukkige einde en 'n sprokiesagtige begin geglo? THE CASTLE @ KYALAMI is nou die een plek in Gauteng waar drome waar word. Met sy unieke argitektoniese styl word elke besoeker teruggevoer na tye van ridders en prinsesse. The Castle @ Kyalami in die hartjie van Midrand is 'n Gautengse landmerk met uitsigte op Magaliesburg, Pretoria en Johannesburg. En om by die majestueuse voorkoms van die omgewing te pas, word gaste met wêreldklasdiens, -akkommodasie en -kos bederf. The Castle bied 'n keuse van 24 en suite-kamers. Verder is daar konferensiegeriewe vir tot 520 afgevaardigdes en die fabelagtige atmosfeer van die hotel maak dit 'n uitstekende keuse om 'n sprokiestroue te hou en selfs spanbousessies aan te bied.

Vir meer inligting oor The Castle @ Kyalami en ander opsies in die Planet Hotels-groep besoek www.planethotels.co.za of skakel (011) 799-7676 vir besprekings of stuur 'n e-pos na thecastle@planethotels.co.za


 


[Terug na die vorige bladsy][Terug na bo]


 

Kitsskakels

ATKV-Oorde > ATKV-Oorde
Kyk wat bied ons sewe spogoorde aan!
 
VakansieRande > VakansieRande
Jy verdien 'n blaaskans!
 
Soek 'n Tak > Soek 'n Tak
Ons het 'n tak naby jou!
 
ATKV-Nuusbrief > ATKV-Nuusbrief
Kliek hier vir ons maandelikse nuusbriewe
 
VRIENDE VAN DIE ATKV > VRIENDE VAN DIE ATKV
Organisasies wat die ATKV se werk, visie en kultuuropdrag ondersteun en aanvul
 
Kubervriende > Kubervriende
Kyk wat sê ander Afrikaanse webwerwe!
 
ATKV op Facebook > ATKV op Facebook
Besoek die ATKV se Facebookprofiel!
 


Designed, developed & hosted by eliance