General
    ATKV Members
    ATKV Projects
    ATKV-DAMES
    ATKV Branches
    TG (Taalgenoot)
    ATKV Taaldiens
    LAPA Publishers
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

HELENÉ - 'n hoorbeeld!

03/01/2006

Dit is maklik om die skakel tussen Helenè Bester en die vyftigerjare te vind: albei haar ouers is in 1950 gebore! ALITA VORSTER het nader kennis gemaak met die sangeres met die warm, ryk stem en die uitbundige lag.

Die era van rock en roll, Elvis, Bryll Cream, klinknaelbroeke en eendsterte. Dit was die tyd van inryteaters en jongmense wat om blêrkaste rondhang om na die nuutste treffers te luister. Groot Amerikaanse motors soos Studebakers en Buicks was ’n teken dat die swaarkrydae van oorlogsrantsoene iets van die verlede is.

Op die plaaslike front het ’n handelsradiostasie Springbokradio met Vat jou goed en trek, Ferreira as kenwysie vanaf 1 Mei 1950 begin uitsaai. Hierdie stasie het omroepers soos Esmé Euvrard, Jan Cronjé, Dana Niehaus en Dulcie van den Bergh huishoudelike name gemaak. In die middae het skoolkinders huis toe gejaag om voor die radio bymekaar te kom en na die volgende spannende episode van die vervolgverhaal te luister.

In Suid-Afrika was dit ’n tyd van politieke onstuimigheid. Bruin kiesers is van die kiesersrol verwyder en al die apartheidswetgewing het gestalte gekry. Mense is teen hul wil uit wonings verskuif. Sophiatown is een van die hartseer verhale van mense wat teen hulle sin, en selfs met geweld, verwyder is. Lydelike verset volg en die ANC se Vryheidsmanifes word in Kliptown in 1955 aanvaar. Die manifes spel dit uit: Suid-Afrika behoort aan al sy inwoners, ongeag ras of kleur.

Stilte is musiek
Die vyftigerjare was inderdaad ’n dekade van merkwaardige mense, kleurryke gebeurtenisse en innovasie op die musiekfront. Met beelde en gedagtes van mense en dinge uit hierdie tydperk, kry ek die geleentheid om met Helenè Bester te gesels.
Helenè daag op, sonder ’n sweempie grimering, maar pragtig soos altyd. Dit is twee dae voor die voorbladfoto’s by die inryteater bo-op Menlynsentrum in Pretoria geneem gaan word en ons bespiegel of die weer gaan saamspeel. Dan draai die gesprek na die era van die 1950’s.

“Wanneer ek aan die vyftigerjare dink, dink ek aan mooi vroue in mooi rokke, maar al die beelde is in swart en wit, seker maar omdat die meeste foto’s in daardie tyd swart en wit was. Ek assosieer die vyftigerjare baie sterk met my ma, Agnita, en daarom dink ek dit was mooi jare, want my ma is immers baie mooi vir my,” gesels Helenè oor ’n koppie kafeïenvrye koffie.

Ons besluit saam dat die vyftigerjare, met rock en roll wat posgevat het, geweldig belangrik is in terme van musiek. Net so is musiek vir Helenè kardinaal in haar lewe. “Driekwart van my bestaan draai om musiek,” verduidelik sy. “Die ander kwart is wanneer ek slaap of draf. Afgesien daarvan dat dit my brood en botter is, is dit vir my geweldig ontspannend. Ek kan musiek altyd saam met my neem en dit help my deur opdraandes en moeilike tye. Wanneer jy na ander kunstenaars se musiek luister en jy besef daar is ander wat ook soos jy voel, is dit wonderlik.

“Tog is stilte soms vir my ook musiek en ek hou daarvan wanneer mense om my stil word. ’n Stilte soos wat ’n mens op ’n plek soos Marlothpark kry, is iets om te waardeer.”

Twee vir ’n tango
Helenè pak hierdie jaar haar derde CD aan. Na Skouspel 2005, wat vir haar ’n besondere hoogtepunt was, het sy besef die tyd het aangebreek om musiek op te neem wat meer kommersieel van aard is.

“Dit is wonderlik om kunsmusiek op te neem, maar ’n mens het ook verantwoordelikhede en daar is rekeninge om te betaal. Ek sal nooit doef-doef-musiek maak nie, maar op my nuwe CD sal daar beslis ’n paar nommers wees waarop jy ’n draai op die dansvloer sal kan maak. Ek sal my graag as ’n bekende Afrikaanse sangeres wil vestig.”

Self het sy geen begeerte om in Afrikaans te rock nie. Natuurlik koester sy ’n groot bewondering vir Afrikaanse kunstenaars soos Karen Zoid wat gewys het ’n mens kan dit inderdaad in Afrikaans doen, maar hierdie soort musiek is nie ’n styl wat sy verkies nie.
Een ou-ou gunsteling wat sy beslis op die nuwe CD gaan opneem, is Danny Boy. Helenè vertel hoe sy nog die langspeelplaat van Mario Lanza uit haar kinderdae goed kan onthou. Hierop het hy dié liedjie gesing. Sy het verlede jaar tydens optredes begin om Danny Boy te sing en gesien hoe gewild dit onder gehore is.

Tydens vanjaar se KKNK sal Helenè in ’n vertoning, Twee Dimensioneel, saam met Mathys Roets te sien wees. Matthys Maree behartig die musikale regie. Sy het sewe jaar gelede juis tydens die KKNK saam met Mathys in ’n kabaret, Liefdesvuur, opgetree, en nou maak die twee weer so. Van hul eie treffers sal in duetvorm aangebied word en ander gunstelinge sluit die duette Saying something stupid van Nicole Kidman en Robbie Williams en You don’t bring me flowers van Neil Diamond en Barbra Streisand in.

Helenè word hierdie jaar in April dertig, iets waarna sy sommer baie uitsien. “Dit skrik my beslis nie af nie, dit is eerder asof die pad nou oop en breed voor my lê. Vir die eerste keer voel dit asof die ontsettende harde werk wat ek in my loopbaan ingeploeg het begin vrugte afwerp en ek kan nou so ’n bietjie terugsit, begin lééf! Ek aanvaar myself ten volle en sien geweldig uit na die volgende tien jaar. Ek is seker dit gaan die tien wonderlikste jare van my lewe wees!”

’n Nefie vir bederf
Iets anders waarna sy ook sommer baie uitsien is die geboorte van sus Nadia se eersteling in Maart. “Nadia is twee jaar jonger as ek, maar sy neem die voortou met verhoudings en babas en so aan. Dit gaan heerlik wees om ’n nefie te hê wat ek kan bederf,” laat sy sommer die baba se geslag uit die mou. Dan vervolg sy peinsend: “Miskien gaan ek ook so ’n kinderliedjie of twee probeer skryf. Ek is seker daar is ’n groot mark daarvoor in Afrikaans.”

’n Huwelik en gesin is tans nie in Helenè se onmiddellike toekomsplanne nie. Sy het vir eers besluit om al haar tyd en aandag aan haar loopbaan te wy en boonop sal sy nie sommer net trou omdat almal in haar ouderdomsgroep dit doen nie. Dit moet ’n baie spesiale man wees wat haar voete behoorlik onder haar uitslaan, verklap sy dan.

“In hierdie bedryf moet jy fokus op Afrikaanse musiek en wie en wat deel daarvan is. Dit is die rede waarom ek nog nie ’n man en kinders het nie. Op die oomblik is my beroep alles. Ek het gelukkig ’n wonderlike sosiale lewe met vriende waarmee ek graag kuier, maar werk kom altyd eerste.”

Een van haar tydverdrywe is draf. Sy vertel hoe sy onlangs ’n vyftien kilometer-wedloop voltooi en hoeveel sy dit geniet het. “Dit is ’n geweldige bevrydende ervaring om so te draf en terselfdertyd van al jou bagasie ontslae te raak,” verduidelik sy.

“Die swaarkry en al die harde slae wat die lewe jou gee, word heeltemal deur draf uitgewis. Wanneer ek klaar gedraf het, voel ek goed en ek weet ek kan maar aangaan en nog ’n wedloop aanpak,” sê sy nadenkend.

’n Uitmuntende toekoms
Vir Helenè is daar baie aspekte van haar sangloopbaan wat haar opgewonde maak. Sy skryf self baie van haar lirieke, kry ’n wysie in haar kop en dan help haar verwerker, Chris Harper, haar om dit te toonset, maar die woorde kom altyd eerste, verduidelik sy. Hierdie kreatiewe, skeppende aspek van haar werk, verskaf haar geweldig baie plesier.

“Dit is so lekker om elke keer voor nuwe uitdagings te staan te kom. Een van hierdie uitdagings is om heeltyd kreatief te wees en nuwe dinge uit te dink. Ander wonderlike aspekte van my loopbaan is die unieke kans om die heeltyd nuwe mense te ontmoet en wonderlike plekke te besoek.

“Ek het verlede jaar interessante plekke soos Hopetown en Cradock leer ken. In Februarie vanjaar het ek en Jak de Priester gesorg vir die vermaak aan boord van ’n passasiersboot wat tussen Durban en die Bazaruto-eiland gevaar het. Kanse wat ek nie sou gehad het nie as ek in ’n ander loopbaan gestaan het.”

Helenè hang graag die etiket Trots Suid-Afrikaans om haar eie nek. Verlede jaar het sy met die Huisgenoot-skouspel op die verhoog gestap en gesê sy dra die liedjie op aan almal wat die keuse gemaak het om hier in Suid-Afrika te bly, en nie weg te gaan nie. Die oorweldigende reaksie van die gehoor het haar verras, maar terselfdertyd ook haar hart warm laat klop, vertel Helenè.

Helenè ken die resep van harde werk en opofferings wat sukses voorafgaan. Tog is sy iemand wat in kontak bly met wat haar luisteraars graag wil hê. Sy luister graag na ander se advies, maar spits haar ook daarop toe om mense werklik deur haar musiek te bereik.
“Die liedjie Eendag, op my tweede album, raak vrae aan wat mense mee worstel oor wat die dood mag bring. Soms sal ek op ’n verhoog aan mense verduidelik waarom ek sekere liedjies sing en skryf en so ’n sekere boodskap by hulle uitbring. Wanneer ek na afloop van die vertoning met mense gesels, probeer ek om werklik hulle vrae te verstaan en so goed as moontlik te beantwoord. Onthou, ek weet maar alte goed hoe dit voel om ’n aanhanger van iemand te wees en eerlike antwoorde te verwag.”

Net so lekker soos dit is om Helenè dop te hou wanneer sy geesdriftig oor aspekte van haar loopbaan gesels, so lekker is dit om te sien hoe haar loopbaan blom en hoe sy elke keer ’n hoër sport bereik. Harde werk en dissipline lewer altyd goeie resultate. Wanneer ek dink oor alles wat sy gesê het, weet ek sy is reg: die volgende tien jaar gaan voorwaar uitmuntende jare vir haar wees!

Nuut in die vyftigs
Behalwe vir eendsterte, inryteaters, blêrkaste en die hoela-hoepel, sal die vyftigerjare ook onthou word vir ander eerstes:

  • 1950 – Die eerste vollengte Afrikaanse film, Daar doer in die Bosveld deur Jamie Uys, sien die lig.
  • Charles Schultz se Peanuts lei ’n nuwe tekenprentera in 1950 in.
  • In 1950 word die eerste nieroorplanting in Chicago gedoen.
  • 1951 – die geboorte van Suid-Afrikaanse tuislande.
  • In 1952 vind die eerste geskeduleerde passasiersvlug in ’n straler tussen Londen en Johannesburg plaas.
  • Koningin Elizabeth word in 1953 as Brittanje se koningin gekroon na haar pa, koning George, se afsterwe.
  • Op 29 Mei 1953, vier dae voor die kroning, bereik ’n ekspedisie wat deur ’n Brit, Edmund Hillary, gelei is, die kruin van Everest.
  • DNS, die belangrike genetiese molekule, word in 1953 omskryf deur James Watson en Francis Chick.
  • Goedkoop Bic-balpuntpenne verskyn in 1953 op die mark in Frankryk.
  • In 1954 stel Elvis Presley sy eerste solo sewe-plaat, That’s all right, Mamma, vry.
  • Die eerste van J.R. Tolkien se Lord of the rings-trilogie verskyn in 1954.
  • Op 6 Mei 1954 slaag Roger Bannister daarin om die eerste persoon te word wat die myl in minder as vier minute aflê.
  • In 1955 word blou jeans die topverkoper onder vroueklere.
  • In 1956 word kleurlinge van die kieserslyste in Suid-Afrika verwyder.
  • Op 5 Desember 1956 arresteer die polisie 156 mense weens verraad waaronder Nelson Mandela, Walter Sisulu en Helen Joseph.
  • Die eerste videokassetopnemer word in 1956 in Chicago gedemonstreer.
  • Die 21-jarige Elvis Presley, ’n voormalige vragmotorbestuurder, maak in 1957 sy verskyning op ’n televisieprogram en betower tieners met sy Hound Dog en Love me Tender. Sy Heartbreak Hotel was toe reeds ’n paar maande lank op die treffersparade.
  • In 1958 word ongeveer 7 000 babas met ernstige liggaamsgebreke gebore. Die rede vir die misvorming is Talidomide, ’n middel teen oggendnaarheid.
  • 25 miljoen hoela-hoepels word in 1958 verkoop voordat die kortstondige gier oorwaai.
  • In 1958 hou die 23-jarige Yves Saint Laurent sy eerste modevertoning in Parys.
  • Lego maak in 1958 sy buiging in die speelgoedmark en Barbie-poppe een jaar later.
  • In 1959 word H.F. Verwoerd die premier van Suid-Afrika na J.G. Strijdom se afsterwe.

Vermaak met ’n verskil
Pret, pret, pret en fantastiese fliekvermaak is die sleutelwoorde van Menlynsentrum in Pretoria se unieke inryteater op die dak van een van die grootste inkopiesentrums in die land. Boonop is die vermaak wat die inryteater bied nie net interessant nie, maar ook bekostigbaar. Gewapen met ’n kombers en piekniekmandjie kan ’n gesin teen R55 per motor (maksimum 5 persone) die Afrika-sterrehemel waardeer terwyl hulle hul gunstelingakteurs en -aktrises in aksie op die silwerdoek sien. Veteraanmotors in die agterste ry van die inryteater kan teen R30 per persoon (slegs persone bo agtien) gehuur word. Maak dit ’n romantiese aandjie uit en bespreek jou sitplek in die 1936 Ford Sedan, 1946 Chrysler, 1955 Chevrolet Belair, 1956 Pontiac, 1957 Studebaker of 1958 Ford Custom. Die eerste vertoning begin om 19:30 en die tweede om 21:30.

• Skakel telefoonno. (012) 348 8766 vir meer inligting of om jou sitplek in ’n veteraanmotor te bespreek.


 


[Previous page][Top]


 

Quick links

ATKV Resorts > ATKV Resorts
See what our seven lovely resorts offer you!
 
ATKV Members > ATKV Members
Change your members details!
 
Membership Application Form > Membership Application Form
 
Mission and Values > Mission and Values
 
Resort Reservation Request > Resort Reservation Request
 
Cyber Friends > Cyber Friends
Have a look at other Afrikaans websites!
 
ATKV Branches > ATKV Branches
Find a branch in your area
 
ATKV in the media! > ATKV in the media!
Where did you here about us?
 
Friends of the ATKV > Friends of the ATKV
 
ATKV Newsletter > ATKV Newsletter
 


Designed, developed & hosted by eliance