ATKV-Oorde
    Algemeen
    Lidmaatskap
    Nuusvrystellings
    ATKV-Projekte
    Hoezit!
    ATKV-Takke
    Taalgenoot • TG
Intekenaar (nie-lede)
Meer oor TG
    ATKV-Taaldiens
    LAPA Uitgewers
    ATKV-Jeuginstituut
    ATKV-Nuusbrief
    ATKV-Postmatriek
    Spesiale Aanbiedinge
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

Taalgenoot • TG

STEFAN - in die sensasionele jare sestig

04/01/2006

Die sestigerjare was ’n tyd van rebellie, vryheid, liefde en innovasie. Stefan Ludik, oftewel Werner van Egoli, is ’n toonbeeld van ’n ikoon uit daardie tyd. Soos ’n wafferse James Dean breek hy harte met sy seunsagtige voorkoms en wegbreekkuif. MARLIZE LEYDEN het die mens agter die sepiester leer ken.

Stefan Ludik is een van daardie kinders wat onderwysers met oueraande as “besig” beskou. En met daardie woord is ouers nie altyd seker of hulle eintlik bedoel stout of hiperaktief nie. In Stefan se geval beteken besig egter ’n onblusbare passie en geesdrif vir alles wat hy aanpak. Of dit nou is om in die Big Brother-huis vir honderd dae opgesluit te wees, om sy lyf akteur en musikant te hou of om leuenaars en diamantsmokkelaars uit te vang.

SOSIAAL VEELSYDIG
Hierdie vyf-en-twintigjarige Johannesburger het die eerste keer in 2003 onder die aandag van Suid-Afrikaners en Afrikane gekom toe hy as Namibië se verteenwoordiger in die werklikheidsreeks Big Brother verkies is. “Ek moes ’n vorm invul en is daarna vir verdere oudisies genooi waar ons allerhande vreemde goed moes doen soos om te dans en te sing.
“Die dag toe ek gehoor het ek is as Namibië se verteenwoordiger gekies, was ek besig met poligraaftoetse vir ’n petrolstasie in Keetmanshoop. Een van die produksiemense het my gebel en gevra of ek sit. Ek sê toe nee ek staan. Dis toe dat sy sê ek is gekies om in die Big Brother-huis te gaan. Eers besef ’n mens dit nie, maar later het ek meer opgewonde geraak.”

Stefan het self besluit om aan die kompetisie deel te neem. “Van kleins af het ek geweet ek gaan eendag deel wees van die vermaaklikheidsbedryf. Weliswaar kon ek nooit glo ek sou ’n sepieakteur word nie, maar ek wou altyd ’n rockster wees. Ek het die vorige Big Brother-reekse gekyk en gesien watter goeie platform dit vir mense is, hoe ’n groot geleentheid hulle kry.”

Uiteindelik is Stefan vyfde laaste uit die huis geskop. Deurentyd was hy een van die gewildste deelnemers, maar later is hy ná ’n totaal van 99 dae uit die huis. Die laaste huismaats het altesame 106 dae in die huis deurgebring. Hoewel salig onbewus daarvan, was daar baie kritiek teen Stefan omdat hy as ’n wit man as Namibië se verteenwoordiger verkies is. “Ja, ek het gelukkig nie daarvan geweet nie, maar dit is vir my so simpel. Gelukkig was daar ook nie so baie kritiek nie. Dit was maar net ’n paar mense. Ek verlang nie na Europa nie, het geen familie in Europa nie. My vader en voorvaders kom van hier af. Dit is waar ek bly en wie ek is.”

Vreemdelinge in so ’n nou spasie bring baie onderlinge konflik. Vir Stefan was die kultuurverskille nie so ’n groot hindernis nie. “Almal praat Engels, kyk dieselfde flieks en daarom was die verskil nie so groot nie. Ek is wel baie met myself gekonfronteer. Dit was moeilik om gemotiveerd te bly, om steeds deel te neem, want soms was ek net lus om te slaap. Jy word fisiek en geestelik verby sekere grense gedruk. Hulle gee juis vir jou take wat reaksie ontlok, want dit gee beter televisie as ’n klomp huismaats wat in vrede met mekaar leef.”

In hierdie tyd het Stefan veral selfbeheersing en geduld geleer. “Ek het geleer om meer te wag en buigsaam te wees. Die man van Nigerië was byvoorbeeld vir my baie moeilik om oor die weg te kom. Hy was baie agterbaks en skelm en het ’n paar keer die huismaats in die steek gelaat. Gelukkig weet ’n mens nie altyd wat hy gedoen het nie. Dit is eers na die tyd dat ek kon sien hoe party huismaats geskinder het.”

In dié tyd het hy ook baie vriende gemaak. “Verona, die vrou van Botswana, Alex, die man van Kenia, en Cherise, die vrou van Zambië en die wenner, het goeie vriende geword.”

ARTISTIEK VEELSYDIG
Omtrent drie weke nadat hy uit die Big Brother-huis is, het die mense van Frans Marx hom genader om oudisies vir Egoli te kom doen. “Ek het so drie dae by die studio rondgehang voor ek ’n oudisiestuk teenoor ander akteurs gedoen het. Hulle het my so half in die diep kant gegooi.” Met geen vorige dramaopleiding nie, het Stefan veral na ander kunstenaars gekyk en by hulle geleer. “Ek moes maar woorde leer en van al die truuks in die bedryf uitvind. Na twee jaar kom dit al baie natuurliker vir my.”

Stefan erken dat hy nie eintlik televisie kyk nie. “Ek sal nou en dan miskien ’n fliek gaan kyk, maar ek sukkel om stil te sit. Dit voel vir my altyd of daar ander goed is wat ek moet klaarmaak. Ek sal miskien ’n tydskrif of kort berigte lees. En nou en dan ’n biografie.”
Vir ’n man van Windhoek is die lewe in Johannesburg beslis ’n aanpassing. “Die pas hier is definitief vinniger. Daar kan mense vir middagete gou huis toe gaan. Maar ek is al gewoond aan die lewe hier.”

Sy liefde vir musiek en die verlange na sy tuisland was die aansporing van sy eerste album Liggroen doringbome wat in 2005 verskyn het. “In die tyd toe ek net hier in Johannesburg aangekom het, was dit soms baie eensaam. Ek het baie na familie en vriende verlang. Dit is toe dat ek onthou van die liggroen blaartjies van die doringbome in Windhoek se berge. Ek onthou dit goed, want ek en my hond het baie daar gaan stap. Al die liedjies op my album is self geskryf. Dit is maar oor geleenthede, interpretasie van gebeure waarvan ek hou, emosies wat ek ervaar.”

Wanneer Stefan die geleentheid kry, tree hy graag op. Deesdae is Stefan Ludik en sy orkes iets waaraan die hele Ludik-gesin entoesiasties deelneem. Daar is kleinboet Hugo, wat regte aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en as kitaarspeler vir Stefan se orkes optree. Ook ma Susan en pa Paul is deel van hul seuns se musiekoptredes. “My ma doen die promosiemateriaal en verkoop CD’s, terwyl my pa maar daar rondstaan en baniere opslaan. Ons gesin het baie pret saam. My ouers is nog jonk en oopkop.”
Sy liefde vir musiek is grootliks deur sy ouers beïnvloed. “My pa het ’n kitaar gehad. Ek het ’n boek met akkoorde nader gesleep en toe begin speel. Het ook dikwels by ’n radio gesit en saam met die musiek probeer speel.”

Oor sy musieksmaak sê Stefan hy waardeer verskillende musiek tydens verskillende fases in sy lewe. “Op die oomblik hou ek van blues en jazz. As kind het ek maar geluister na wat my ouers luister. Musiek soos Queen en Simon en Garfunkel. Iemand soos Freddy Mercury is vir my tydloos. Ek kry baie inspirasie uit die manier waarop hy sing en optree.”
Met die uitsondering van sy broer Hugo, maak hy meestal van sessiemusikante gebruik. “As ek optree, speel ek nie kitaar nie. Dan konsentreer ek meestal net daarop om te spring en te dans.”

VEELSYDIG OP DIE SPORTVELD
Wat min mense weet, is dat Stefan nie net ’n kitaar kan tokkel nie, maar ook weet hoe om ’n krieketkolf vas te hou. In 1999 is hy gekies om Namibië in die onder 19-span tydens die Wêreldbeker te verteenwoordig. “Ons het gesien dat ons ’n sterk span is, dat ons as individue net soveel talent soos die ander het, maar dat die ander spanne al baie langer saamspeel en mekaar beter ken. Ek het meer van boul as kolf gehou en hoewel ek dink iemand soos Jacques Kallis is ’n goeie krieketspeler, hou ek meer van aggressiewe boulers. Die krieket was vir my heerlik, maar die jaar waarin ek Duitsland toe is, het ek dit ’n bietjie verloor.”

Sy tyd in Duitsland het baie eise aan hom gestel. “Dit was fisiek baie uitputtend. Van Sondag na Sondag, van 07:00 tot 19:00, of totdat die werk klaar is,” onthou hy. “Ons moes mielie-silo’s van so 30 m in deursnee en 15 m hoog bou. Darem het ons die kans gehad om die wêreld te sien en ’n bietjie geld te maak. Ek kon nie soveel reis soos wat ek wou nie, want my visum was nie heeltemal in orde nie. Ek het maar ’n lae profiel gehandhaaf. Ons het baie motors en rekenaars gekoop en uiteindelik het ek genoeg geld gehad om as poligraafontleder en psigo-fisioloog te kwalifiseer.

“Dit het alles begin met my pa wat ’n forensiese wetenskaplike is,” verduidelik hy. “Dit is nou soos daardie mense wat jy op televisie sien wat aan die lyke kap en toetse doen. Ek sal meer met mense werk, terwyl hy op die wetenskaplike deel daarvan konsentreer. Hy het aan my die kursus gewys en aangesien daar niemand in Namibië is wat hierdie soort werk doen nie, was daar ’n definitiewe geleentheid vir my. Voorheen het hulle altyd Suid-Afrikaners gebruik.”

Stefan het die kursus by die WNNR in Pretoria bygewoon en daarna gevorderde kursusse voltooi. In dié tyd het hy geleer van fisiologie en alle regsaspekte wat met poligrafie te doen het. “Niemand kan die poligraaf flous nie omdat dit met fisieke reaksies werk. ’n Mens kan egter nie sê dat iemand ’n storie fabriseer omdat hy bo na links kyk nie. Daar is ander dinge wat ook in ag geneem moet word soos kultuurverskille en geslagsverskille. Slagare wat klop en pupille wat groter word, is ook tekens van ’n persoon wat jok.

“In die geval van ’n psigopaat stoor hulle nie beelde van wat gebeur het in hulle kop nie. Psigopate weet nie wat hulle gedoen het nie, hulle kan nie op so ’n manier getoets word nie, maar dan is dit my werk as poligraaf om dit voor die tyd te identifiseer.”

Stefan sê hy het al met psigopate gewerk, maar dat hy meer bang is vir diamantsmokkelaars. “Ek was al gedreig en die mense het baie aggressief geraak. Die probleem met diamantsmokkelaars is dat daar baie geld betrokke is en dat dit deel is van ’n groot mafiabende. ’n Mens moenie in hulle verkeerde boekies kom nie.”
Stefan het ’n eie besigheid gehad waar hy op kontrakbasis poligraaftoetse gedoen het. Met sy betrokkenheid by Egoli moes hy dit uiteindelik laat vaar het. “Ek is in die eerste plek ’n besigheidsman en musikant. Dit gaan glad nie vir my oor die celebrity-ding nie. Dit is wel lekker om ’n kompliment nou en dan te kry. Ek kan nie altyd ’n steak in my mond prop nie, want nou-nou kom praat iemand met my, maar verder is ek baie mal oor die lewe wat ek deesdae lei.”

Sensasionele Sestigs
Vir Stefan is die sestigerjare sinoniem met Cadillacs, Marilyn Monroe, John F. Kennedy se dood, die Beatles en die maanlanding. In Suid-Afrika was daar ook opwindende tye en ten spyte van apartheid en opstande soos die Sharpeville- en Sebokeng-konflik, het Suid-Afrikaners in hul eie reg presteer. Dink maar aan dr. Chris Barnard wat die eerste hartoorplanting uitgevoer het en sportstaatmakers soos Mannetjies Roux. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor en Suid-Afrika word al hoe meer uit die politieke arena verban.

Mense wat in hierdie tyd tieners is, beleef die volgende in hulle leeftyd:

  • Sien as kinders foto’s van die aarde en die ruimte.
  • Is deel van ’n groot, globale middelklas.
  • Kan na enige plek in die wêreld reis.
  • Beskou supersoniese vlugte as normaal.
  • Leef in ontwikkelde lande waar meer as die helfte van hul generasie tersiêre kwalifikasies het.
  • Beskou wêreldgebeure op televisie.
  • Het ’n telefoon in die meeste privaat wonings.
  • Sien die val en opkoms van ’n politieke ideologie (kommunisme) in een leeftyd.
  • Trou, en skei, meer as een keer.
  • Het kleurfoto’s van hul kinderjare.
  • Sien hoe ander mense leef deur middel van dokumentêre reekse en werklikheidstelevisie.

 


[Terug na die vorige bladsy][Terug na bo]


 

Kitsskakels

ATKV-Oorde > ATKV-Oorde
Kyk wat bied ons sewe spogoorde aan!
 
VakansieRande > VakansieRande
Jy verdien 'n blaaskans!
 
Soek 'n Tak > Soek 'n Tak
Ons het 'n tak naby jou!
 
ATKV-Nuusbrief > ATKV-Nuusbrief
Kliek hier vir ons maandelikse nuusbriewe
 
VRIENDE VAN DIE ATKV > VRIENDE VAN DIE ATKV
Organisasies wat die ATKV se werk, visie en kultuuropdrag ondersteun en aanvul
 
Kubervriende > Kubervriende
Kyk wat sê ander Afrikaanse webwerwe!
 
ATKV op Facebook > ATKV op Facebook
Besoek die ATKV se Facebookprofiel!
 


Designed, developed & hosted by eliance