General
    ATKV Members
    ATKV Projects
    ATKV-DAMES
    ATKV Branches
    TG (Taalgenoot)
    ATKV Taaldiens
    LAPA Publishers
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

KAFTANS, KLOMPE & KAREN

05/01/2006

Die sewentigs. Die vyfde dekade waarin Taalgenoot reeds verskyn, maar ook die tyd van wyepypjeans, helder grimering, kaftans en klompe. Saturday Night Fever het almal na disko's laat haas en John Travolta was die man van die dekade. Maar die sewentigs was ook die era waarin aktrise en Cutt Glas-sangeres Karen Wessels gebore is.

In 1976, om presies te wees. In Karen se geboortejaar het Soweto aan die brand geslaan, Evita Perron is in Argentinië onttroon en Nadia Comaneci het volpunte gekry vir haar gimnastiekroetines by die Olimpiese Spele in Montreal.

In Suid-Afrika het televisie gekom: The Brady Bunch, Die meisie van Avignon en Little House on the Prairie was al waaroor leerders by die skool kon gesels. Maar daarvan kan Karen min onthou. “Ek onthou net ons het nog saam met my ma-hulle inry toe gegaan – sommer in ons pajamas! En uitskeproomyse was groot. Ek onthou die vrugtebome in ons tuin. Perske- en appelkoosbome. En ’n klein druiweprieeltjie. Die bure het vye en lukwarte en moerbeie gehad. Heiningdrade vol grenadellas. Vandag het mense mos nie meer sulke tuine nie.”

HELDE WORD KOLLEGAS
Karen het hoofsaaklik aan die Oos-Rand grootgeword – ná ’n draai in Klerksdorp en Secunda, waar haar pa vir Sasol gewerk het. “Ek is mal oor die Oos-Rand. Die mense daar is net mense. Daar’s nie ’n ding soos ’n kompetisie met die bure nie... Kempton Park, en Hoërskool Jeugland, waar ek skool gegaan het, was vir my heerlik.”

Vanaf Kempton Park het Karen ’n besige pad gestap. Sy het aan die Pretoriase Technikon (nou TUT) studeer, vir Cutt Glas begin sing en deesdae hou sy haar lyf aktrise in kykNET se gewilde hygsepie, Begeertes. Daarin speel sy die rol van Chantelle, die vrou met bedenklike morele waardes.

“Dit is so ’n lekker rol! Vir ’n slag is ek nie weer die skaam enetjie of die meisie wat nooit die ou kry nie – ek is die flerrie. ’n Tertjie. Smeulend. Gewoonlik moet ek oor my voete val of iets simpel sê. Hier kan ek aangaan op my eie, plannetjies maak en mense manipuleer. Ek geniet dit vreeslik.

“Dis verskriklik snaaks ook. Haai, en dink net, ek kry nou die kans om groot name soos Tertius Meintjies en Gavin van den Berg te soen! Daai manne was my helde toe ek jonger was, en nou deel ons ’n stel...

GESIN DIE GRONDSLAG
Ons sit op die balkon van Primi Piati in Midrand – sy het spesiaal deurgery vanaf Roodepoort, waar sy nou bly, om my wat van Pretoria af moes ry, halfpad tegemoet te kom.

Die warm sjokolade wat sy bestel, is groot genoeg om ’n hele brood in te dompel. As jy sou wou. Skotteldiep. Sy vou haar hande om die koppie en haar vingers raak nie eens aan mekaar nie.

“’n Mens soek altyd bietjie suiker ná so ’n dag,” glimlag sy. Op haar gemaklike manier gesels Karen sonder terughou oor haar gesin. “Ons is drie kinders en drie meer uiteenlopende geaardhede kan jy seker nie kry nie. My oudste suster is ’n geoktrooieerde rekenmeester en my boetie – hy is ’n laatlam – is die groot sportster. Ek is tussenin en die dramatiese een.

“My familie is werklik my grondslag. My basis én my dak! My sus se kinders is soos rolmodelle. Hulle bekyk die wêreld so vars, en hulle is so eerlik. En onvoorwaardelik. Om die een of ander rede verloor mens al daai kwaliteite hoe ouer jy word.”

GENUANSEERD EN GEVARIEERD
“Dit is snaaks om te dink ek is al amper drie jaar by Cutt Glas! Dit voel enersyds soos gister en aan die ander kant of dit nog altyd so was.” Sy praat maklik oor hoe goed Cutt Glas haar gedoen het. “Om in so ’n groep te sing, is ’n wonderlike ervaring. Daar is dissipline, maar daar is ook gees. Ons is al soos susters, en van ons vorige lede – Anna Davel en Jolette Odendaal – is steeds deel van die geestesvennootskap.”

Teen dié tyd behoort almal egter te weet dat Karen talent het. Hierdie girl het talent en sy steek dit nié onder ’n maatemmer weg nie. Sy het self haar hand aan die temaliedjie van Begeertes gewaag en dit na die regisseur, Willie Esterhuizen, geneem. Natuurlik was hy gek daarna – en boonop sing sy dit self.

Haar musiek- en teaterresumé lees soos ’n Ian Fleming-spanningsverhaal. Genuanseerd en vol verskeidenheid. En geoormerk om ’n sukses te wees. Benewens haar twee en ’n half jaar lange betrokkenheid in Cutt Glass, het sy ook al saam met Richard van der Westhuizen in sy kabaret Doringdraad opgetree, en het sy destyds reeds die aandag getrek in die sielvolle jeugproduksies, Skilpoppe en Vlerkdans, wat deur Barry Hough geskryf is. En elke keer word sy deur resensente uitgesonder as die “een wat die kollig steel” en “die groot verrassing”.

Sy is passievol oor haar werk. Toneelspel én sing. “Dit is al wat ek wil doen. Om in ’n ander karakter te kan inklim, wys jou dikwels iets oor jouself ook. “En boonop word ek omring met die ongelooflikste mense. Ek kan hulle opnoem. Kunstenaars soos die fotograaf Adéle Hamblin, byvoorbeeld, inspireer my geweldig. Hulle is totaal selfbepalend. Wie hulle is, kom een honderd persent uit hulself.”

’N KYKIE IN DIE SIEL
Ek sien sy het ’n pleister op haar regterwang, vra wat daar gebeur het. “Daar het ’n klier onder die vel op my wang ontsteek wat al hoe groter begin word het. Gelukkig was dit nie kwaadaardig nie. Maar die dokter het my gewaarsku dat dit vroegtydig uitgehaal moet word. Dat hy jammer is dat hy my ‘lelik’ moet maak, maar dat dit ook die beste ding is om te doen.

“Vandag dra ek my scar met trots. Een van die foto’s wat van my geneem is, en waarop ek vir myself die mooiste lyk, is net ná die operasie – daar was omtrent tien steke in die wond. Dis so asof ’n mens in jou eie siel kan inkyk, veral wanneer jy so op jou broosste vasgevang word.”

Karen het ’n wysheid aan haar wat ’n mens laat voel dat sy die hele wêreld al platgetoer het of dat sy haar gereeld verdiep in groot, diep letterkunde. Maar toe ek haar daarna vra, is dít die verrassende antwoord: “Ek moet bieg, ‘lees jy graag?’ is die een vraag wat ek die meeste haat, amper soveel soos die vraag, ‘waar sien jy jouself oor vyf jaar?’. Want die antwoord is nee, ek lees wel so nou en dan, maar ek verslind nie boeke nie.
“Ek weet dit laat mense dadelik aanneem dat jy dom en ongeletterd is, maar daar is ander maniere om wêreldwys te word. Ek moet egter die Daan Retief-boeke wat ek as kind gelees het, krediet gee.”

Vertel Karen verder: “Ek lees wel boeke wat later verfilm word, want só is ek verseker dat die skrywer en storielyn van hoë standaard is. Op die oomblik lê daar nie ’n boek op my bedkassie nie, maar wel die draaiboeke van Begeertes-episodes wat ek teen die spoed van lig probeer memoriseer!”

Haar beskouing van musiek is ewe interessant. “Ek is nie ’n puris of ’n snob as dit by musiek kom nie. Ek luister enigiets van boy bands tot acid jazz tot ligte Afrikaanse musiek.
“Ek het ’n onderhoud gelees met Chris Chameleon waarin hy sê dat hy nie eintlik na musiek luister nie, want dit infiltreer en manipuleer sy eie kreatiwiteit – en ek stem saam daarmee.”

Musiek kom vir haar natuurlik. En hoewel sy bely dat syself nie vreeslik baie luister nie, is haar liefde vir die land se kunstenaars groot. “Richard van der Westhuizen en Amanda Strydom is dié ikone van ons land. Ek dink ook Anna Davel en Lize Beekman is sangers en skrywers van formaat. En Freshly Ground en Zamar.”

Sy is baie beslis oor hoe sy haar self besig hou in haar eie tyd. “Ek het nie stokperdjies waaraan ek duisende rande bestee nie. Ek hou van hip-hop-dansklasse doen, fliek, blikkies tuna se pryse vergelyk… en tokkel op die kitaar en klavier. “Ek word geïnspireer deur my familie. En deur my honde – en goeie kos! En die skoonheid van Johannesburg, die mooi plekkies wat ’n mens ontdek. ’n Mens hoef nie eers ver te gaan soek nie…”

Karen is wel ’n kind van die sewentigs, maar as sy kon, in watter dekade sou sy wou leef? “Ek sou graag ’n paar dekades wou kombineer. Die styl van die dertigs; die dekadensie van die sestigs; die tegnologie van die nuwe millennium; die musiek van die vyftigs; die empowerment van die vrou in die negentigs... “Maar in 2006 – dít is waar ek nou wil wees.”

Met die lug wat skraler word en Karen wat haar jas al hoe stywer om haar draai, groet ons. Intussen het elkeen ’n glas wyn ook gedrink – hare rooi – en ’n pasta geëet, maar die geselsery kry nie einde nie. Ek maak somme... Toe sy gebore is, was ek in standerd vyf. En nou ja, ná die tydsreis is mens egter op dieselfde golflengte. Die dekades stap aan, maar die mens bly, inherent, dieselfde.

Die sewentigs was woes, wild en soms baie, baie wreed – vir Suid-Afrika, vir die wêreld. Maar dit het van die mooiste goed ook opgelewer. Kyk maar net na Karen Wessels.

FLITS-GESKIEDENIS VAN DIE SEWENTIGS

  • Die sewentigs was die begin van tegnologie: rekenaars, rekenaarspeletjies en die elektriese tikmasjien.
  • 1970: Apollo 13 bereik nie die maan nie, maar kom veilig terug.
  • 1971: Vroue in Switserland kry stemreg – vyftig jaar ná vroue in Suid-Afrika.
  • Familie-musiekgroepe soos die Jackson 5, Osmond Brothers, The Carpenters is groot. Abba kraai koning.
  • 1972: 11 Israelse atlete word tydens die Olimpiese Spele in Munich vermoor.
  • 1972: CAT-scan word vir die eerste keer gebruik.
  • 1972: Oorlewendes van ’n vliegtuigongeluk in die Andes eet hul oorlede spanmaats.
  • 1973: Verskeie ooggetuies van vreemde, vlieënde voorwerpe (VVV).
  • 1974: Watergate-skandaal, Nixon bedank.
  • 1974: Supergroep Queen maak die eerste rockvideo – Bohemian Rhapsody.
  • 1975: Die Viëtnamoorlog kom tot ’n einde.
  • 1976: Jaws van Steven Spielberg het die wêreld in rep en roer.
  • Star Wars, Saturday Night Fever, Kramer vs. Kramer en Apocalypse Now is dié dekade se grootste rolprenttreffers.
  • 1976: Televisie arriveer in Suid-Afrika.
  • 1976: Soweto-opstande oor Afrikaans.
  • 1977: Elvis Presley sterf.
  • 1977: Biko-saak in Suid-Afrika kom voor.
  • 1978: Eerste toetsbuisbaba, Louise Brown, word gebore.
  • 1979: Massaselfmoord van Jim Jones-sekte, 913 mense sterf.
  • 1979: Die Margaret Thatcher-era begin in Brittanje.

 


[Previous page][Top]


 

Quick links

ATKV Resorts > ATKV Resorts
See what our seven lovely resorts offer you!
 
ATKV Members > ATKV Members
Change your members details!
 
Membership Application Form > Membership Application Form
 
Mission and Values > Mission and Values
 
Resort Reservation Request > Resort Reservation Request
 
Cyber Friends > Cyber Friends
Have a look at other Afrikaans websites!
 
ATKV Branches > ATKV Branches
Find a branch in your area
 
ATKV in the media! > ATKV in the media!
Where did you here about us?
 
Friends of the ATKV > Friends of the ATKV
 
ATKV Newsletter > ATKV Newsletter
 


Designed, developed & hosted by eliance