CHRIS - Raak liries oor die tagtigerjare
06/01/2006
Van Boo! tot boeretroos met sy verwerkings van Ingrid Jonker se gedigte. Met die Rubik-kubus as simbool van die tagtigerjare was die veelkleurige Chris Chameleon nét die regte man om hierdie tydperk uit te beeld. Deur MARLIZE LEYDEN.
Soos die sestigerjare sinoniem is met absurde psigedeliese kleure kan die tagtigerjare in ’n sekere mate ook met kleure geassosieer word. “Pastelkleurige Instinct-broeke is vir my sinoniem met die jare tagtig. Ek wou so graag ’n pienk hemp en broek soos die ander seuns op skool dra, maar my ma sou dit oor haar dooie liggaam nie koop nie,” onthou sanger en akteur Chris Chameleon. En Chris behoort te weet waarvan hy praat. Saam met ander baanbrekers soos Charlize Theron en Mark Shuttleworth is hy ’n kind uit daardie tydperk. In 1989 het hy immers saam met die val van die Berlynse Muur gematrikuleer.
“In 1987 het Buck Rogers in die ruimte gegaan. Dit is ook vir my die tyd van televisiereekse soos Man van staal, Man van intersek, Knight Rider, The A-team en Rich man, poor man. Ek was in ’n koshuis in ’n landbouskool gewees, maar soveel as wat ek toegelaat is om televisie te kyk, het ek gekyk,” onthou Chris.
Die tagtigerjare was egter ook ’n kleurryke tydperk vir Taalgenoot. Deur die loop van hierdie dekade is eenkleurige sketse met volkleurfoto’s as voorblaaie vervang. Teen die einde van die tagtigers was die Taalgenoot ’n volkleur-glanspublikasie in eie reg.
“Nou is my nuwe stryd die taal”
Nie net is Chris veelkleurig en veelfasettig nie, maar hy erken ook dat hy nog altyd ’n probleem met gesag het, dat hy van ’n ongeroetineerde bestaan met ’n onreëlmatige patroon hou. “Ek is soos ’n vis wat altyd moet stroom-op swem. En selfs al word visse ouer, hou hulle nie op nie. Elke jaar moet ek maar weer die stryd stroom-op aandurf.”
Hy blameer dan ook sy stryd met die stelsel as die rede hoekom hy nie reeds op skool deur Ingrid Jonker se intensiteit getref is nie. “Ek het nog altyd ’n belangstelling in Afrikaans gehad, maar nie op een spesifieke skrywer gefokus nie. Hoewel ek goed gedoen het in Afrikaans, het ek in daardie stadium ander prioriteite gehad. Toe het ek my daarop toegespits om die stelsel van destyds te breek. Deesdae is my nuwe stryd die taal. Daar is so baie bedreigde tale in die wêreld en dit is vir my verkeerd dat ’n taal sterf. ’n Groep mense se kultuur en geskiedenis verdwyn dan saam met daardie taal.”
Sy fassinasie met Ingrid het gekom toe hy drie jaar gelede ’n dokumentêr oor haar in Nederland gesien het. In daardie stadium was hy besig om die werk van Sylvia Plath te lees en toe hy die program sien, het hy besef Afrikaans het ook so ’n skrywer. “Ek het verdiep geraak in haar werk en toe 7de Laan my ’n ruk terug vra om ’n digter se werk te toonset, was sy die logiese keuse.”
Volgens Chris het hy dadelik geweet haar werk is reg vir hom. “Ek identifiseer selfs ’n bietjie met haar. Miskien het sy in die see geloop omdat sy moeg was, moeg vir haarself en moeg vir haar eie ongelukkigheid. Daar is baie mense soos Ingrid – mense wat nie genoeg kan kry nie, wat net nie tevrede gestel kan word nie.
“En ja, mans het ’n negatiewe invloed op haar gehad, maar sy het ook maar mans ingesluk en uitgespoeg. Sy was ’n baie slim vrou. Moontlik die intellektuele meerdere van die meeste van haar minnaars, maar hul emosionele mindere. Dit is ’n gevaarlike kombinasie. Hartbreekstories.”
“Moenie ’n man op sy rok takseer”
Ten spyte van sy liefde vir Afrikaans voel Chris dat dit nie ’n taal is om in te rock nie. “Ek sê dit met inagneming van die taal waarin die genre ontstaan het. Rock is ’n uitvindsel van die Engelse taal en hoewel jy dit in enige taal kán doen, gaan dit nie noodwendig so goed klink soos in Engels nie. Dit is soos om opera in Engels te wil sing,” verklaar hy met ’n skouerophaling.
Een van die positiewe gevolge van sy sololoopbaan is dat hy heelwat nuwe Afrikaanse aanhangers bygekry het. Afrikaanse mense wat hom ondersteun het toe hy nog deel was van die popgroep Boo!, luister ook na sy Afrikaanse musiek. Oor sy voorheen Engelse aanhangers is hy nie so seker nie. “Die ding van ’n Engelse gehoor is dat hulle dikwels linguisties xenofobies is. Daar word selde na ’n ander taal as Engels geluister.”
Vandag meen Chris dat Boo! mense miskien te veel op een slag gegee het om oor te dink. “Daar was eers die rok, visnetkouse en hoëhakskoene. Die samestelling van die orkes was ietwat ongewoon aangesien daar nie die tradisionele kitaar was nie, maar dromme, baskitaar en ’n koperblaasinstrument. Om dinge nog meer verwarrend te maak, was daar die vreemde musiek met die monky punk-klanke.”
Tog was hierdie banale beeld deel nodig, voel Chris. “Die grimering en kleredrag het baie nou saamgehang met die les van Boo!, wat daaroor gaan dat jy ’n man nie op sy baadjie, of in dié geval, ’n rok, moet takseer nie. Die lirieke was baie ernstig en ’n mens moes deur al die vreemde verskynsels kyk om by die kern van die woorde te kom. Jy was óf mal oor die musiek van Boo! óf jy het dit gehaat. Diegene wat dit gesnap het, het hulle saam met ons verkneukel in die verspottigheid en die onderliggende erns daarvan.”
“Opleiding kan ’n skeppende siel onderdruk”
“Ek het in my lewe nog nooit ’n sang-, drama- of instrumentles gehad nie,” verklaar Chris. Sy eerste kennismaking met die toneelwêreld was toe hy as matriekleerling in 1989 die nasionale Dalro-toneelkompetisie gewen het. “Ek het dit gewen, maar nog nie rigting gehad nie. Na skool is ek weermag toe waar die skrywer Louise van Niekerk my op wonderbaarlike wyse binne vyf weke uitgetoor het. Ek is my eerste televisierol in Meester aangebied. Het nog die rol van so ’n dom, sterk ou vertolk. Om een of ander rede speel ek altyd sulke afwykende rolle – as dit nie ’n psigopaat is nie, is dit ’n dom mens.”
Een van die voorwaardes waarop hy vrystelling van die weermag gekry het, was sodat hy tersiêre opleiding van een of ander aard sal ondergaan. Gou het hy besef dit is nie vir hom nie. “Ek het ’n onderwysbeurs by Goudstad-onderwyskollege gekry. Een van my klasse was statistiese metodes wat ek gehoor het so ’n moeilike vak is. Hierdie einste klas word toe aangebied deur ’n vrou met so ’n breë rug wat ’n hoop papiere een vir een aan 120 studente uitdeel. Daar aangekom, besef ek dat dit mos nou my kosbare tyd is wat hier gemors word. Ek veg toe my pad oop tot voor, tik haar op haar skouers en vra dat sy die helfte van die papiere aan my gee om uit te deel. Sy het my boos aangegluur en omgedraai. Ek staan toe daar met ’n enkele papiertjie in my hand en dink dat om die helfte van die pak uit te deel, klink vir my na ’n praktiese toepassing van die teorie van statistiese metodes. En as hierdie vrou weier om in die praktyk toe te pas wat ek wil hê sy vir my moet leer, kan sy my niks leer nie. Ek gee toe haar papiertjie terug en loop uit die klas. Sedertdien het ek nog nie weer teruggekeer na enige formele studies nie.”
Hy besef dat dit ’n gevaarlike stelling is om te maak, maar hy voel dat te veel formele opleiding oorspronklikheid kan beïnvloed. “Dit het regtig al met my gebeur dat ’n ingeligte persoon vir my sê ek kan iets nie doen nie en wanneer ek besluit om dit in elk geval te doen, kom dit as oorspronklik uit. Natuurlik wil ek hê die man wat my in die hof verteenwoordig of ’n brug bou, moet weet wat hy doen, maar in die geval van die kunste is ek nie seker of iemand jou regtig kan leer nie.”
Sy eie skeppingsproses onderstreep Chris se informele benadering. “Daar is gewoonlik drie maniere waarop ek musiek maak: die een is as iets verskriklik met my gebeur en my hart word gebreek. Die ander is as ek besig is om ’n album op te neem en sperdatums my skeppingsproses aanjaag en die derde manier is wanneer ek ’n opdragwerk soos nou in die geval van 7de Laan kry.”
Sy kenmerkende, kreatiewe gebruik van sy stem is nie vir Chris so besonders nie. “Baie van die goed wat ek doen, kan ander mense ook doen, maar daar is min wat waansinnig genoeg is om dit te doen.”
“Ek glo in Montreal”
Een van die skrikwekkende goed wat in sy lewe gebeur het, is toe ’n groep rowers hom aan die begin van 2004 in sy woonstel in Johannesburg oorval het. In Chris se geval het hy egter nie enige emosionele traumaletsels oorgehou nie. “Hulle het twee selfone en hardloopskoene gekry. Ek het net my vuiste gehad, maar ek is gesteek, orals – op my skouers, my arms, bene. Ek het hulle lank besig gehou tot die bure gebel en die polisie gekom het.”
Nadat hy ongeveer sestig steke gekry het en twee dae geneem het om van die wonde te herstel, is hy terug huis toe. “My sussie het gekom om die bloed van die mure af te was, maar toe was ek reg. Minder as twee weke later was ek op ’n verhoog in Den Haag voor 1 000 mense vir die eerste van 55 optredes in 75 dae in 10 lande. Miskien was ek te besig gewees om deur enige trauma te gaan.”
Die een ding wat hy van homself na hierdie insident geleer het, is dat hy nie besef het die liefde binne hom is so groot nie. “Op daardie oomblik was ek baie kwaad vir hulle, maar die mag van liefde en vergifnis is geweldig. Om jou vyand dood te maak, is die genadigste wraak, want daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Hy word nie daarna deur skuldgevoelens geteister nie. Mense wat ander al doodgemaak het, en ek ken sulkes, sê dit is nie die moeite werd nie. Dit gee nie die bevrediging wat jy soek nie. Maar met genade kan ’n mens vergewe.
“Ek glo nie in God nie, ek wéét dit. Om te glo is vir die ongelowiges. Hoe weet ek dit? Ek het Hom raakgeloop. En glo ek in die hemel? Ek glo in Montreal. Ek was nog nie daar nie, maar ek glo dit.”
Kubusfeite
Suid-Afrikaners is in die tagtigerjare nie net geruk deur die kubus-skandaal van Adriaan Nieuwoudt nie, maar die Rubik-kubus het ook hier aan die suidpunt van Afrika ’n draai kom maak. Hier is ’n paar feite oor hierdie 26 stuk-kopkrapper:
- Die Rubik’s Cube is ’n meganiese kopkrapper wat in 1974 deur ’n Hongaarse beeldhouer en argitek Ernö Rubik ontwikkel is. Dit het in 1980 sy buiging by internasionale speelgoedskoue in Londen, New York en Parys gemaak.
- Hierdie driedimensionele legkaart met sy 54 geplakte kleurblokkies het een van die wêreld se gewildste speelgoed geword met meer as 100 miljoen eenhede wat tussen 1980 en 1982 verkoop is.
- In 1981 het Patrick Bossert, ’n twaalfjarige skoolseun van Engeland, ’n boek met die titel You can do the cube, gepubliseer. Die boek het 1,5 miljoen kopieë verkoop en is as die topverkoper van The Times en New York Times vir daardie jaar aangewys.
- In ’n stadium is ’n vel gekleurde plakkers saam met die Rubik’s Cube verkoop sodat gefrustreerde mense hul kubusse na hul oorspronklike voorkoms kon verander.
- In 1983 en 1984 het Hanna-Barbera ’n strokiesprent op televisie genaamd Rubik, the Amazing Cube vertoon.
- Die Rubik’s Cube was finansieel so suksesvol dat Ernö Rubik die eerste selfgemaakte miljoenêr in ’n kommunistiese land was.
- ’n Rubik-kubus kan in 29 of minder skuiwe opgelos word.
- Op 14 Januarie vanjaar het Leyan Lo, ’n twintigjarige student van Amerika, ’n nuwe wêreldrekord opgestel toe hy die Rubik’s Cube in 11,3 sekondes opgelos het.
|