General
    ATKV Members
    ATKV Projects
    ATKV-DAMES
    ATKV Branches
    TG (Taalgenoot)
    ATKV Taaldiens
    LAPA Publishers
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

JAK & JOHN-HENRY se paryse dagboek

10/01/2006

Hoewel Jan Rabie die stad oorkant die see in sy boek, Paryse dagboek, bedoel het, het die dorp duskant die Vaalrivier bewys dat dit ook kunstenaars van Jak de Priester en John-Henry Opperman se formaat kan oplewer. GIELIE HOFFMANN het vroeg op ’n Maandagoggend saam met dié twee gekuier.

Die een is lank en donker, bebaard en gebril. Die ander een korter en lig – ’n mooi, oop skoon gesig, soos die oumense sou sê. Dít is die verskille wat ek dadelik tydens die fotosessie opmerk.Vinnig kom ek egter agter dit is hul ooreenkomste wat kleur aan ’n storie gee. Die twee hang nie uit in elke tydskrif en koerant nie en daar is nie ’n skandaal wat bo hul koppe hang nie. Beide neem op besondere wyses waar. Hulle kyk is koersvas, wyd. Hulle is skerp en ingelig, die kwinkslae waai soos stofstorms in die ateljee rond, verander kort-kort van rigting en gedaante. Met MK89-beelde wat op die ateljee se televisieskerm in die agtergrond flits, merk ek video’s van albei Parysenaars binne ’n halfuur op. Eerlike, pretensielose kunstenaars, gereed om legendes te word.

’n Gedeelde mentor
Jak de Priester en John-Henry Opperman. Name wat al hoe meer in gesprekke regoor die land opduik. In Pretoria is hulle byna kultusfigure, maar hulle wys nie bewonderaars weg nie. Deel graag handtekeninge uit. Dis ’n lewe wat hulle nie eens kleintyd oor sou kon droom nie.

Kom ons begin by die begin. Hul gedeelde grootwordjare in die Vrystaatse dorp Parys. ’n Dorp wat vandag byna as ’n buitewyk van Johannesburg beskou word, maar in die 80’s en 90’s het hulle wêrelde van die stad verwyder gevoel. ’n Loopbaan in die kunste was byna ondenkbaar en Afrikaanse musiek was nog glad nie so hip en cool soos vandag nie. John-Henry onthou nog die woorde van die eerste Koos Kombuis-liedjie wat hy laatnag in graad tien in die koshuis skelm geluister het. Teen daardie tyd was Jak al ’n student.
Nie een wou hul grootwordjare anders hê nie. Die intensiteit op die platteland het hulle alle skakerings van die lewe leer waardeer. Die grense wat die mensdom oprig vir gemak en gewete het nie destyds bestaan nie; ryk en arm het saamgeleef. Albei is blootgestel aan die mooi en die lelik van die lewe.

Hulle wonder of dit ook so in die stad is. Jak, ’n oud-onderwyser, glo die kinders in die stad is meer wêreldwys, en hulle word min deur iets bekoor. “Alles is gekompakteer. Alles wat ek ervaar het, het ek intens ervaar,” som John-Henry sy kindertyd op.
Op skool het hulle deelgeneem aan elke aktiwiteit. Jak was ’n gerekende tennis- en rugbyspeler en albei het van kleins af aan kunswedstryde deelgeneem. Om te demonstreer, haal elkeen kleintydgediggies aan wat hulle moes voordra. Selfs die gepaardgaande bewegings en die jaar waarin dit plaasgevind het.

Maar die poppe het begin dans toe hulle paaie gekruis het met ’n onderwyser, Johan van der Walt. Hy en sy vrou, Toni (dogter van Dalene Matthee), het die wêreld van kuns en kultuur vir hulle oopgemaak. “Daai ou het goed vir my gesê wat ek nog elke dag aan dink,” onthou John-Henry, en trek los met Johan se raad wat sy mantra geword het: “Talent is ’n gawe, maar dis net ’n gawe van God af om iets te wil doen.”
“Jy moet altyd gereed wees vir wanneer die kans kom,” is raad van Johan af wat Jak weer bybly. Elkeen glo vandag nog in harde werk, om voorbereid te wees vir die groot geleentheid. Of sommer self daai geleentheid te skep.

En toe Jak na vele probeerslae ’n toneelstuk skryf waarmee hy en Johan tevrede is, kon niks hulle keer nie. Hy was in matriek, John-Henry graad nege. Die toneelstuk, Nommer 10, het gehandel oor die lewe in ’n plakkerskamp. Nogal gewaagd in 1994 vir hoërskoolkinders... Johan het die kinderklappe van hul oë verwyder, niks pretensie is in die teks of op verhoog geduld nie. Eerlikheid en eenvoud was die doelwit. Daardie jaar wen hulle toe die landswye ATKV-tienertoneelkompetisie. Jak en John-Henry het iets geproe waarvan hulle gehou het.

’n Strewe na kwaliteit
Vandag, twaalf jaar later, het albei gevestigde loopbane. Hulle glo in geleidelike groei in ’n loopbaan sodat hulle oor twintig jaar nog steeds kan doen wat hulle so oneindig geniet. Jak en die groep Klopjag het drie CD’s agter hulle naam. Jak met groot treffers soos Sally Williams Nougat, Binnelanders en B. Com. Liefdesbestuur; John-Henry met Stof, Dalk ’n Boerseun en 24 uur.

Jak bring binnekort sy tweede digbundel uit, Agter palissades. Sy eerste een, Heuning in die mond, verkoop soos soetkoek. Hy glo vas mense sal ’n produk koop mits dit goed is.
John-Henry het deel uitgemaak van Anton Goosen se Groenblommeprojek. Waar Klopjag aanvanklik as ’n studentegroep begin het, spreek hulle ook vandag tot ’n ouer gehoor sonder om die jonges agter te laat. En met vier lede van die groep wat skryf, sing en verskeie instrumente kan bespeel, bring hulle ’n unieke klank voort wat kritici en gehore gaande het.

Vir Jak en John-Henry is die volgende doelwit nie noodwendig meer CD-verkope of vertonings nie, maar om werk van nog ’n hoër kwaliteit te lewer.

Albei wil weer ’n terugkeer na toneelspel maak. John-Henry hoop sy eerste stuk, Jesus op die Airwaves, word gekeur vir volgende jaar se KKNK. Jak se spesiale projek vir volgende jaar, De Priester en Een Kerkorrel, is ’n stuk wat die musiek van Johannes Kerkorrel bevat, maar dis nie ’n huldeblyk-konsert nie. Die musiek is bloot die agtergrond vir ’n groter storie wat hy self skryf. “En sonder enige twyfel sal ons weer saam werk op die verhoog, dis net die tyd wat pla,” verseker albei.

Nuwe volksliedere
Want besig is hulle besig. In die laaste ses weke was daar net een dag waar beide vir die onderhoud beskikbaar was. Klopjag het gemiddeld drie vertonings ’n week; Jak maklik vyf. Een week Londen, twee weke in die Kaap, die week daarna die Vrystaat en intussen Gauteng. Kunstefeeste word tussenin gepas. Albei het die afgelope maand oorsee getoer en vir Suid-Afrikaners oorsee musiek van die huis af gebring.

Hul musiek is die nuwe volksliedere, word woord-vir-woord saamgesing. En hulle is dankbaar daarvoor. “Ek het nooit gedink jong mense sal na my musiek luister nie,” verklap Jak. Daar word gesels oor hul vrese en die liefde, hoe Johan hulle geleer het om ’n onderwerp van elke liewe hoek te benader.

As kunstenaar is dit hul verantwoordelikheid. ’n Gedagte word weke later ’n liedjie. Nie op die rekenaar getik nie, maar met die hand geskryf. Altyd ’n boekie byderhand vir as ’n idee sy opwagting maak. Geen klinkklaar resepte nie – eerlikheid en eenvoud bly die maatstaf.

Op pad terug van Johannesburg na Pretoria ry ons verby ’n gesin wat met al hul besittings by die stopstraat sit. Onsigbaar. Niemand sien hulle nie, behalwe hierdie twee boerseuns, wat wonder oor die gesin se lot. Hulle wat nog opgewonde raak oor elke dorpie waar hulle moet gaan sing.

Toe ons die N1 uiteindelik aandurf, met Janis Joplin kliphard aan die gil, kan ek nie anderster as om te dink hulle is miskien net reg oor die lewe in die stad nie. Dat ons ooreenkomste eintlik baie belangriker is as ons verskille. As ons net eers agter ons palissades kan uitbeweeg...

Laurika Rauch oor John-Henry
“Hy is, wat my betref, ’n baie groter kunstenaar as wat hyself besef. Ek vermoed hy onderskat homself heeltemal. Hy is in staat tot werklik gedefinieerde werk. Hy het ’n unieke stem en aanslag, ’n uitstekende verhoogteenwoordigheid en sy liedjies is buitengewoon. As mens is hy altyd waarderend, pittig en betrokke. Hy het ’n blink toekoms voor hom.”

Nataniël oor Jak de Priester
“Sy groot bydrae tot hierdie aardbol en mense se lewens is die ongelooflike vreugde wat hy ronddra. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat soveel plesier uit die lewe put nie. Hy is baie doelgerig in sy besluite en keuses wat hy maak. Hy weet presies wat hy wil hê en dus is enige verbintenis met hom totaal sonder komplikasies. Ek dink ook hy is ’n slim liriekskrywer wat presies weet hoe om sy spesifieke gehoor aan te spreek. Hy is besig om vir hom ’n sterk loopbaan te bou. Agter daai glimlag sit ’n duidelike plan.”


 


[Previous page][Top]


 

Quick links

ATKV Resorts > ATKV Resorts
See what our seven lovely resorts offer you!
 
ATKV Members > ATKV Members
Change your members details!
 
Membership Application Form > Membership Application Form
 
Mission and Values > Mission and Values
 
Resort Reservation Request > Resort Reservation Request
 
Cyber Friends > Cyber Friends
Have a look at other Afrikaans websites!
 
ATKV Branches > ATKV Branches
Find a branch in your area
 
ATKV in the media! > ATKV in the media!
Where did you here about us?
 
Friends of the ATKV > Friends of the ATKV
 
ATKV Newsletter > ATKV Newsletter
 


Designed, developed & hosted by eliance