General
    ATKV Members
    ATKV Projects
    ATKV-DAMES
    ATKV Branches
    TG (Taalgenoot)
    ATKV Taaldiens
    LAPA Publishers
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

Taalgenoot deur 8 dekades

11/01/2006

Die 30’s

Behalwe dat die Taalgenoot in Desember 1931 die eerste keer verskyn het, was daar ’n hele reeks ander hoogte- en laagtepunte in die dertigerjare van die vorige eeu:

  • Die Groot Depressie.
  • Die bordspel Monopoly word ontwikkel as ’n direkte gevolg van die Depressie.
  • Verskeie oorloë, die Spaanse Burgeroorlog, sowel as die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, kenmerk dié periode.
  • Die konsep van ’n inryteater ontstaan.
  • Mikroskope word bekendgestel.
  • Films: Wizard of Oz, Tarzan, Gone with the Wind.
  • Babakos. Drie dokters patenteer in 1931 babakos.
  • Nylon word in gebruik geneem.
  • In 1934 het Percy Shawe die gawe uitvindsel van kat-ogies oftewel padreflektors gepatenteer.
  • Die eerste swart-en-wit televisieproduksie is deur John Logie Baird in 1936 vervaardig.
  • In 1938 het ene Chester Carlson die eerste fotokopieërder ontwerp. Dit is egter nie in gebruik geneem tot en met die sestigerjare nie.
  • In 1930 is die planeet Pluto deur Cloyed Tombaugh ontdek.
  • Amelia Earhart word die eerste vrou om oor die Atlantiese Oseaan in 1932 en 1933 te vlieg.
  • Bonnie en Clyde word die bekendste roofpaartjie in 1934.
  • Porche word bekendgestel in 1936.
  • 1939 – die Hindenburg (’n waterstof-zeppelin) ontplof.

Fassinasie van die 40’s

Die veertigerjare van die twintigste eeu het darem nie net uit die gruwel van die Tweede Wêreldoorlog bestaan nie. Daar was ook ’n paar ander interessante gebeurtenisse wat in die wêreld gebeur het...

  • Daar was nie baie vermaak in die oorlogsjare nie. Mense het nie baie tyd of geld gehad om rolprente te gaan kyk of boeke te lees nie. Tóg het daar wel uitstekende flieks en boeke in daardie tyd verskyn. Casablanca was ’n tydlose treffer met ’n akteur soos Humphrey Bogart in die hoofrol.
  • Die Disney-animasiefliek, Bambi, is in 1942 aan teaters bekend gestel.
  • Die bikini maak in 1946 sy verskyning.
  • Die 1940’s is die tyd van die jitterbug – ’n dans met vreemde bewegings en avontuurlustige passies.
  • Igor Sikorsky het die eerste moderne helikopter in hierdie eeu ontwikkel.
  • Transistors, wat vandag in radio’s gebruik word, is deur William Shockley ontwerp.
  • In 1943 bou Alan Turning die eerste rekenaar, wat hoofsaaklik vir militêre doeleindes ingespan is.
  • In 1945 word die wêreld se eerste atoombomme op Hiroshima en Nagasaki in Japan gegooi. Dié gebeurtenis verander oorlovoering vir altyd daarna.
  • Percy Spencer stel in 1946 die mikrogolf aan die wêreld bekend.
  • Die lugredery Pan Am stel die eerste vlug in 1947 rondom die wêreld in.

En Taalgenoot?

  • “Ons maak geen verskoning vir die verskyning van Die Taalgenoot (dit is eers baie later wat daar besluit is om die benaming na Taalgenoot te verander) in ongetwyfeld die moeilikste tydperk in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens nie.” Dit is die woorde waarmee die eerste uitgawe in Desember 1931 verskyn.
  • Die tydskrif se hoofdoel was om ’n mondstuk vir die verskillende afdelings van die organisasie te wees.
  • Selfs deur hierdie tyd van oorlog en depressie het Taalgenoot steeds ononderbroke verskyn. Hierdie faktore het wel ’n invloed op papierkoste gehad – drukkoste verhoog in November 1939 van R6,40 ’n bladsy na R11,25 per bladsy.
  • Chris Neethling was redakteur van 1931 tot 1935, en later ere-redakteur tot 1939. Dirk Mostert is in 1939 as hoofamptenaar van die ATKV en redakteur van Taalgenoot aangestel.

Nuut in die 50’s

Behalwe vir eendsterte, inryteaters, blêrkaste en die hoela-hoep, sal die vyftigerjare ook onthou word vir ander eerstes:

  • 1950 – die eerste vollengte Afrikaanse film, Daar doer in die Bosveld, deur Jamie Uys, sien die lig.
  • Charles Schultz se Peanuts lei ’n nuwe tekenprentera in 1950 in.
  • In 1950 word die eerste nieroorplanting in Chicago gedoen.
  • 1951 – die geboorte van Suid-Afrikaanse tuislande.
  • In 1952 vind die eerste geskeduleerde passasiersvlug in ’n straler tussen Londen en Johannesburg plaas.
  • Koningin Elizabeth word in 1953 as Brittanje se koningin gekroon na haar pa, koning George, se afsterwe.
  • Op 29 Mei 1953, vier dae voor die kroning, bereik ’n ekspedisie wat deur ’n Brit, Edmund Hillary, gelei is, die kruin van Everest.
  • DNS, die belangrike genetiese molekule, word in 1953 deur James Watson en Francis Chick omskryf.
  • Goedkoop Bic-balpuntpenne verskyn in 1953 op die mark in Frankryk.
  • In 1954 stel Elvis Presley sy eerste solo sewe-plaat, That’s all right, Mamma, vry.
  • Die eerste van J.R. Tolkien se Lord of the rings-trilogie verskyn in 1954.
  • Op 6 Mei 1954 slaag Roger Bannister daarin om die eerste persoon te word wat die myl in minder as vier minute aflê.
  • In 1955 word blou jeans die topverkoper onder vroueklere.
  • In 1956 word Kleurlinge van die kieserslyste in Suid-Afrika verwyder.
  • Op 5 Desember 1956 arresteer die polisie 156 mense weens verraad waaronder Nelson Mandela, Walter Sisulu en Helen Joseph.
  • Die eerste videokassetopnemer word in 1956 in Chicago gedemonstreer.
  • Die 21-jarige Elvis Presley, ’n voormalige vragmotorbestuurder, maak in 1957 sy verskyning op ’n televisieprogram en betower tieners met sy Hound Dog en Love me Tender. Sy Heartbreak Hotel was toe reeds ’n paar maande lank op die treffersparade.
  • In 1958 word ongeveer 7 000 babas met ernstige liggaamsgebreke gebore. Die rede vir die misvorming is Talidomide, ’n middel teen oggendnaarheid.
  • 25 miljoen hoela-hoepels word in 1958 verkoop voordat die kortstondige gier oorwaai.
  • In 1958 hou die 23-jarige Yves Saint Laurent sy eerste modevertoning in Parys.
  • Lego maak in 1958 sy buiging in die speelgoedmark en Barbie-poppe een jaar later.
  • In 1959 word H.F. Verwoerd die premier van Suid-Afrika na J.G. Strijdom se afsterwe.

Die sensasionele 60’s

Die sestigerjare is sinoniem met Cadillacs, Marilyn Monroe, John F. Kennedy se dood, die Beatles en die maanlanding. In Suid-Afrika was daar apartheid en opstande soos Sharpeville en die Sebokeng-konflik. Maar Suid-Afrikaners het ook in eie reg presteer. Dink maar aan prof. Chris Barnard, wat die eerste hartoorplanting uitgevoer het, en sportstaatmakers soos Mannetjies Roux. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor en Suid-Afrika word aangaande meer uit die internasionale politieke arena verban. Mense wat in hierdie tyd tieners is beleef die volgende in hulle leeftyd:

  • Sien as kinders foto’s van die aarde en die ruimte.
  • Is deel van ’n groot globale middelklas.
  • Kan na enige plek in die wêreld reis.
  • Beskou supersoniese vlugte as normaal.
  • Leef in ontwikkelde lande waar meer as die helfte van hul generasie tersiêre kwalifikasies het.
  • Sien wêreldgebeure op televisie.
  • Het ’n telefoon in die meeste privaat wonings.
  • Sien die opkoms en val van ’n politieke ideologie (kommunisme) in een leeftyd.
  • Trou en skei in een generasie.
  • Het kleurfoto’s van hul kinderjare.

En Taalgenoot?

  • In die Desember-uitgawe van 1956 is dit niemand anders as die digter Totius wat aan Taalgenoot-lesers ’n geseënde Kersfees toewens nie.
  • Met die konstitusionele verwikkelings van 1960 en 1961 spoor Taalgenoot sy lesers aan “om hulle kultuurplig na te kom en toe te sien dat Suid-Afrika sy regmatige plek as volwaardige nasie in die ry van volkere inneem”.
  • Victor Horne is van 1966 tot 1981 redakteur van Taalgenoot. Terselfdertyd beklee hy ook die pos van Hoof- uitvoerende amptenaar van die ATKV.

Flits-geskiedenis van die 70’s

  • Die sewentigs was die begin van tegnologie: rekenaars, rekenaarspeletjies en die elektriese tikmasjien.
  • 1970: Apollo 13 bereik nie die maan nie, maar kom veilig terug.
  • 1971: Vroue in Switserland kry stemreg vyftig jaar na vroue in Suid-Afrika.
  • Familie-musiekgroepe soos die Jackson 5, Osmond Brothers, The Carpenters is groot. Abba kraai koning.
  • 1972: 11 Israelse atlete word tydens die Olimpiese Spele in Munich vermoor.
  • 1972: CAT-scan word vir die eerste keer gebruik.
  • 1972: Oorlewendes van ’n vliegtuigongeluk in die Andes eet hul oorlede reisgenote.
  • 1973: Verskeie ooggetuies van vreemde, vlieënde voorwerpe (VVV).
  • 1974: Watergate-skandaal, Nixon bedank.
  • 1974: Supergroep Queen maak die eerste rockvideo – Bohemian Rhapsody.
  • 1975: Die Viëtnamoorlog kom tot ’n einde.
  • 1976: Jaws van Steven Spielberg het die wêreld in rep en roer.
  • Star Wars, Saturday Night Fever, Kramer vs. Kramer en Apocalypse Now is dié dekade se grootste filmtreffers.
  • 1976: Televisie arriveer in Suid-Afrika.
  • 1976: Soweto-opstande oor Afrikaans.
  • 1977: Elvis Presley sterf.
  • 1977: Biko-saak in Suid-Afrika kom voor.
  • 1978: Eerste toetsbuisbaba, Louise Brown, word gebore.
  • 1979: Massaselfmoord van Jim Jones-sekte, 913 mense sterf.
  • 1979: Die Margaret Thatcher-era in Brittanje neem ’n aanvang.

Die 80's

  • Die geselskoningin Oprah Winfrey se eerste uitsending vind plaas, en sy spreek onderwerpe aan wat voorheen taboe was.
  • Rubik-blokkies, Cabbage Patch Kids-poppe, “Baby on Board”-plakkers en Trivial Pursuit is hoogmode.
  • John Lennon word in ’n sluipmoordaanval vermoor.
  • Die Berlynse muur word afgebreek.
  • Van die gewildste TV-reekse ooit word in die tagtigs gemaak, onder andere Dallas, Dynasty en The Cosby Show.
  • Mode-neigings en kleredrag word deur Hollywood beïnvloed –Ray Ban-sonbrille soos dié wat Tom Cruise in Top Gun gedra het, is byvoorbeeld baie gewild.
  • In Suid-Afrika bereik die politieke situasie kookpunt: sanksies, politieke geweld en opstande is aan die orde van die dag.
  • Suid-Afrika word een van die eerste lande ter wêreld wat ’n betaaltelevisiekanaal kry – M-Net het in 1986 begin uitsaai.
  • Vigs word geïdentifiseer en kry ’n naam, en ook in Suid-Afrika word die eerste vigs-verwante dood in 1982 opgeteken.
  • Anton Goosen en Bles Bridges is gewilde Afrikaanse sangers, en in die laat tagtigerjare maak die Voëlvry-beweging met Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis se Gereformeerde Blues Band groot opgang.

En Taalgenoot?

  • In Desember 1971 vier Taalgenoot sy veertigste bestaansjaar. Van die destydse Vrou-en-Moeder-beweging se voorsitter die volgende gelukwensing: “Wanneer ’n mens die ouderdom van veertig bereik, het wispelturigheid, ooroptimisme, opvlieëndheid en al die dergelike eienskappe wat nie mooi is nie, plek gemaak vir standvastigheid, gesonde perspektief, besadigheid en koersvastheid. So het Taalgenoot ook op die pad van grootmensword sedert sy geboorte veertig jaar gelede gevorder tot ’n mooi en gewaardeerde kultuurblad.”
  • Gelukwensings word ook van Die Huisgenoot, Die Transvaler, Die Volksblad en Die Burger ontvang.

90’s: Waar was jy toe...

  • ... pres. F.W. de Klerk op 2 Februarie 1990 in ’n toespraak onder meer die ontbanning van die bevrydingsorganisasies en die vrylating van die ANC-leier, mnr. Nelson Mandela, aankondig het?
  • ... Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 sy eerste tree na vryheid gee toe die seldeure van die Victor Verster-gevangenis agter hom toeklap?
  • ... die eerste episode van Franz Marx se Egoli op 6 April 1992 op M-Net uitgesaai is?
  • ... minstens 45 mense op 17 Junie 1992 in Boipatong in ’n slagting vermoor is, vermoedelik deur ’n groep IVP-lede van die Kwa-Madala-hostel?
  • ... Elana Meyer in Augustus 1992 die eerste Suid-Afrikaner in 23 jaar word om ’n medalje by die Olimpiese Spele te wen? Dit was ’n silwermedalje in die 10 000 meter.
  • ... pres. Nelson Mandela en oudpres. F.W. de Klerk in 1993 gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang het?
  • ... Suid-Afrika in 1994 na ’n afwesigheid van meer as 23 jaar weer lid word van die Statebond?
  • ... lang toue kiesers op 27 April 1994 na die stembusse stroom vir die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika?
  • ... Ayrton Senna op 1 Mei 1994 op Imola teen ’n muur vasjaag en vier uur later sterf?
  • ... die Springbokke op 3 Junie 1995 die All Blacks se hand in die as slaan en die houers van die Wêreldbeker-rugbytrofee word?
  • ... Josiah Thugwane in Augustus 1996 die eerste swart Suid-Afrikaner word om ’n goue medalje tydens die Olimpiese Spele in Atlanta vir sy oorwinning in die marathon te wen?
  • ... Cathy O’Dowd op 29 Mei 1996 die eerste Suid-Afrikaner word om die kruin van berg Everest te bereik?
  • ... prinses Diana op 31 Augustus 1997 saam met haar Egiptiese minnaar, Dodi al-Fayed, in ’n motorongeluk in Parys sterf?
  • ... wetenskaplikes in 1997 by die Roslin Instituut in Skotland daarin slaag om ’n gekloonde skaap, Dolly, die lewenslig te laat aanskou?
  • ... die gorilla, Max, as die Johannesburgse Persklub se Nuusmaker van 1997 aangewys word nadat hy ’n gewapende verdagte in sy dieretuinhok aankeer?
  • ... twee skoliere op 20 April 1999 met gewere op medeskoliere by die Columbine High School in Littleton, Colorado, losbrand? Hulle maak twaalf skoliere en een onderwyser dood voordat hulle hulself om die lewe bring.
  • ... Suid-Afrika in Junie 1999 op ’n hartverskeurende wyse uitgeskakel word in die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland? Allan Donald het bly staan toe hy moes hol.
  • ... die geliefde sanger Gé Korsten op 29 September 1999 selfmoord pleeg?
  • ... almal op 31 Desember 1999 asem ophou om te sien of die Y2K-gogga die hele wêreld gaan lamlê?

Tegnologiese 2000’s

  • Sekerlik een van die belangrikste gebeurtenisse van die splinternuwe millennium vind op 11 September 2001 plaas toe terroriste in Amerika se Wêreldhandelsentrum en die Pentagon vasvlieg en duisende mense doodmaak.
  • Digitale kameras word baie gewild.
  • Realiteitstelevisie word algemeen en ’n magdom van hierdie tipe reekse soos Survivor, Big Brother, The Amazing Race en Idols word wêreldwyd vervaardig.
  • Pous John Paul II sterf op 2 April 2005, en word opgevolg deur Pous Benedict XVI.
  • Die eerste SARS-epidemie tref die wêreld in 2002.
  • Internetsoekenjins soos Google en Yahoo word so dikwels gebruik dat “google” selfs as ’n werkwoord erken word.
  • Die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling word in 2002 in Johannesburg aangebied.
  • Die misdaadsituasie in Suid-Afrika is sekerlik die grootste onderwerp van bespreking, en al hoe meer stemme vir die herinstelling van die doodstraf word gehoor.
  • Korrupsieskandale soos dié van Tony Yengeni en Shabir Shaik word oopgevlek.
  • Jacob Zuma se verhoor oorheers die nuus in 2006.
  • Mark Shuttleworth word die eerste Afrikaan ooit wat die ruimte betree.
  • J.M. Coetzee wen in 2003 die Nobelprys vir Letterkunde.

En Taalgenoot?

  • In 2005 word daar ’n groot verbetering in die produksiekwaliteit van die tydskrif gemaak deur die gekramde voorkoms met ’n gebinde rugkant te vervang.
  • In Augustus 2006 word die oplaagsyfer van Taalgenoot amptelik deur die ABC (Audited Bureau of Circulation) van Suid-Afrika as 61 000 aangedui. Dit maak Taalgenoot amptelik die grootste Afrikaanse kliëntetydskrif in Suid-Afrika.

 


[Previous page][Top]


 

Quick links

ATKV Resorts > ATKV Resorts
See what our seven lovely resorts offer you!
 
ATKV Members > ATKV Members
Change your members details!
 
Membership Application Form > Membership Application Form
 
Mission and Values > Mission and Values
 
Resort Reservation Request > Resort Reservation Request
 
Cyber Friends > Cyber Friends
Have a look at other Afrikaans websites!
 
ATKV Branches > ATKV Branches
Find a branch in your area
 
ATKV in the media! > ATKV in the media!
Where did you here about us?
 
Friends of the ATKV > Friends of the ATKV
 
ATKV Newsletter > ATKV Newsletter
 


Designed, developed & hosted by eliance