General
    ATKV Members
    ATKV Projects
    ATKV-DAMES
    ATKV Branches
    TG (Taalgenoot)
    ATKV Taaldiens
    LAPA Publishers
 
ATKV-nuusbrief subskripsie
Naam :
E- Pos :
Opsioneel:
Lidnommer :
 

COENIE ONDER KRUISVERHOOR

01/01/2007

Veelsydigheid is sinoniem met Coenie de Villiers. Radio-omroeper, televisieaanbieder, joernalis, mediastudiedosent, bemarker, musikant... En nou ook ATKV se uitvoerende direkteur: kultuur. MARLIZE LEYDEN het met hom gesels.

Jy het in die Vrystaat grootgeword. Vertel ons van jou kinderjare.
Ja, ek kom van Cheetah-wêreld. Die res van my familie is skaapboere, maar ek het in Bloemfontein grootgeword. My kinderjare was op ’n manier baie onskuldig. Ek was ’n enigste kind en ek het geleef in die seepbel wat die sestigs en sewentigs destyds was. Dit was nog voor die televisie-era, ’n bietjie soos wat Trompie en sy boksombende geleef. Hoewel ek ontsaglik onskuldig grootgeword het, het ek so ’n bietjie met oogklappe deur die lewe gegaan.

Dit is hoekom ek vandag se kinders so jammer kry. ’n Mens is so gou om die jeug te kritiseer, maar hulle moet op ’n daaglikse basis etiese besluite neem waarmee ek of my ouers nooit gekonfronteer is nie. Die dualiteit van vandag se gemeenskap is baie hartseer.

Waar kom jou belangstelling in musiek vandaan?
My ma, Isabel, was ’n musiekonderwyseres en sy het my leer klavier speel. Ek het egter onder geweldige protes, met ’n pistool teen my kop, eksamens geskryf. Vandag sou ek my linkervoet gee om tjello en fluit te kan speel, maar destyds was ek te hardekwas. Op skool was ander goed belangrik.

Anders as wat baie mense glo, is ML de Villiers, die komponis van Die stem, en Dirkie de Villiers geensins familie van my nie. ’n Bekende Sondagkoerant het destyds aangeneem dat ek en Dirkie de Villiers pa en seun is. Dit het aan my ’n soort legendariese status gegee. Hy het altyd gespot dat hy ’n ekstra kind het. My pa en oom Dirkie het saam gholf gespeel, ek het hom goed geken, maar ons is nie familie nie.

Jy slaag baie goed daarin om jou gesin uit die openbare oog te hou. Vertel ons so ’n ietsie van hulle.
Ek voel ek is dit aan my gesin verskuldig om hulle weg van die media te hou. Dit is nie hulle wat ’n loopbaan in die openbare oog gekies het nie. So een of twee keer het ek die fout gemaak om die media naby aan my gesin toe te laat. Dit is sleg vir die kinders. Kinders moet hul eie lewe leef, anders is hulle vir ewig net die kind van ’n bekende.

My seun, Nicholas, is in die Kaap; Simone werk in Gauteng en Lara het verlede jaar gematrikuleer. Baie verspreid en disfunksioneel, maar ek is lief vir hulle.
My vrou Ria is ’n linguis van opleiding. Sy praat vlot Grieks, Afrikaans, Engels, Frans en Sesotho. Sy is ’n formidabele vrou. Ons ken mekaar al 28 jaar lank, is 26 jaar getroud, sy is steeds my beste vriend en ons het nog steeds nie opgehou praat nie.

Hoewel ek in die week meestal in Johannesburg en Pretoria is, gaan ek die meeste naweke Bloemfontein toe. Dit is moeilik om so ’n pendelhuwelik te hê, maar ’n mens kan dit maak werk deur ordentlik te beplan.

Eintlik het ons ’n baie gewone bestaan. Naweke loop ek in my pantoffels rond, gaan stap met die kinders, speel met die honde – ons het ’n Rottweiler en iets wat ’n skaaphond veronderstel is om te wees, maar nou groei in ’n kruising tussen ’n pantoffel, ’n tekkie en ’n donderstorm. Ons braai vleis, drink wyn, lees die Sondagkoerant...

Julle gesin het die kans gehad om vir twee jaar in Siprus te bly. Wat het Suid-Afrika wat Siprus nie het nie?
Suid-Afrika het passie. Die Grieke het ook passie, maar niks in Suid-Afrika is half nie. Ons skiet mekaar óf dood óf ons vergewe mekaar met n voetewas. Ons het nie ’n see nie, ons het oseane; ons het nie koppies nie, ons het berge; ons het nie argumente nie, ons het vreedsame revolusies. Ek is ook kwaad en ontsteld oor misdaad, ek is ook bang, maar ek is ’n Suid-Afrikaner. Ek hou daarvan om te reis, maar ek kom altyd met vreugde terug. Dit duur wel so tien minute voor ek my humeur verloor, maar ek kom altyd weer terug.

Hoekom wil jy deel word van die ATKV?
Ek moet erken ek is op ’n lekker plek in my loopbaan op die oomblik. Dit gaan goed, maar ek is op ’n stadium in my lewe waar ek regtig iets wil doen wat iets beteken. Oor twee jaar sal ek graag wil sê dat ek ’n aandeel daarin het dat daar 10% minder voorbehoud jeens Afrikaans is, 8% meer lesers van Afrikaans is en 12% meer praters van Afrikaans is, selfs al is dit skeef en krom. Ek wil graag deel van so n proses wees.

Wat dink jy kan jy die ATKV bied?
Ek dink ek is ’n relatiewe goeie uit-die-boks-denker. Ek dink nie ek dink burokraties nie. Ek dink nie ek is bang om nuwe goed te dink nie, maar ek is ook vertroud met ouer gebruike. Ek dra nie baie bagasie saam met my nie en ek werk relatief hard, soos al die ander mense in die maatskappy, maar ten minste is daar ’n ekstra paar hande om die werk minder te maak.

In die tyd wat jy meer met die ATKV te doen het; hoe het jou persepsie van die organisasie verander?
Dit is vir my lekker om nader aan die ATKV te beweeg en meer van die binnewerke van die organisasie te verstaan. Dit is ’n organisasie wat iets doen. Daar is so baie praters, maar minder doeners. Ek sê nie alles wat die ATKV doen, is noodwendig reg nie, maar die fantastiese is dat die ATKV wel iets doen. Die hart waarmee die ATKV werk, is reg.

Kan ’n mens geld uit kultuur maak?
Verseker kan ’n mens geld uit kultuuraktiwiteite maak. Destyds toe die kunsterade toegemaak het, het hulle gesê dit is die einde van Afrikaans. Daar was groot debatte en almal het sestien eiers daaroor te lê gehad. Vandag is daar soveel mense met tuisteaters. Dit is fantasties! Al wat moet gebeur, is dat mense moet opstaan en dinge doen. Afrikaans is sterker as ooit.

Ek is ’n groot voorstander van inklusiwiteit. As jy ’n liefde vir Afrikaans het en jy praat dit, al is dit krom en skeef, kom aan boord. Ek dink daar was nog nooit ’n beter tyd as nou om dit te doen nie.

Hoe die ATKV meer inklusief gaan wees, is ’n antwoord wat ek saam met die res van die span sal moet vind. Ek het ’n probleem met mense wat op suiwer Afrikaans aandring. Die taal wat Taliep Peterson op Idols gepraat het, is miskien nie standaard-Afrikaans nie, maar dit is Afrikaans – die mooi, soet mengsel van wat Afrikaans in die Kaap is. So ’n verskeidenheid maak ’n taal sterk en viriel. Dit maak ’n taal dat hy oorleef. ’n Taal luister, dit steel, hy groei, hy rek, hy trek, hy transformeer. As ons Afrikaans in watte toedraai en in ’n akademiese ivoortoring gaan sit, dit is belangrik om dit te bestudeer, maar as ons dit daar gaan hokslaan, gaan Afrikaans nie oorleef nie. As jy hom gaan praat, as jy hom gaan sing, as jy grappe daarin vertel, as jy dit in ’n winkel praat, sal dit oorleef. As jy wil Afrikaans praat, as jy lief is daarvoor, en dit is vir jou mooi, kom aan boord.

Watter visie het jy vir die ATKV binne die volgende tien jaar?
Dit is vir my moeilik om nou te antwoord, want dit is nie net my visie nie, maar die ATKV s’n. Ek vereenselwig my geheel en al met die wenstrategie van die ATKV. Ek dink dit is ’n strategie wat sal veroorsaak dat die ATKV relevant sal bly. En as die ATKV nie relevant is nie, kan jou intensie so goed wees soos wat jy wil. Jy kan op jou kop staan en ’n riel dans, jy sal nie oorleef nie.

Verandering is al ding in die lewe wat konstant is. As kinders anders dink, as jongmense anders doen, as hul probleme verander, as Afrikaans verander, hoe bly ons relevant sonder om uit te verkoop? Hoe gaan ons ons waardes steeds behou?

Ek is net een van daardie mense wat glo dat as jy iets kan dink, kan jy dit doen. Ek dink nie dit gaan maklik wees nie; ek het nie illusies daaroor nie. Al die lede wat al donkiejare lede is, wil ons behou. Jy is meer welkom as ooit. Lede wat nog nooit lid was nie, is ook meer welkom as ooit. Die vraag is nou hoe om ’n relevante huis vir almal te skep. Dit sal ’n spanpoging wees en ons sal kollektiewe wysheid moet vind.

Inspirerende mense met wie jy al onderhoude gevoer het...
Ek sou graag eendag ’n beskuitjie met Madiba wou breek. Jy weet, koffie en my ouma se anysresep. Maar van die mense met wie ek al gesels het en wat die grootste indruk op my gemaak het se name kan ek nie onthou nie. Daar is soveel doodgewone mense om ons wat verbysterende dinge doen. Soos ’n bergie wat haar uit ellende reggeruk het en ’n diploma in Maatskaplike Werk gedoen het om ’n groep te stig vir mense met kinders wat fetale alkoholsindroom het. ’n Polisieman wat met sy karige salaris ’n boksklub vir straatkinders op die Kaapse vlakte stig. ’n Vrou wat vloere politoer en twee kinders op universiteit hou. Ons het soveel rolmodelle onder ons neus as ons net ons visiere wil skuif.

As jy nou ’n antwoord kan kry, wat sal jy vir God wil vra?
Ek sou by Hom wou hoor of hy my nie net ’n bietjie meer wysheid kon gegee nie. Ek is partykeer so dom. Die wysste mense wat ek al ontmoet het, is die wat nie noodwendig tersiêre opleiding gehad het nie.

Ek sien daarna uit om n reikhalsende en indringende gesprek met God te hê. En ek bedoel dit nie ligweg nie; ek dink regtig dit gaan ’n wonderlike samekoms wees. Ek het ’n liedjie met die naam Solo geskryf wat gaan oor die konsert wat ons eendag in die hemel gaan speel as alles verby is. ’n Baie klein gehoor, baie belangrike konsert. Dan het jy jou kwaaiste Kritikus, maar ook die Een met die meeste deernis. Ek dink dit gaan wonderlik wees.


 


[Previous page][Top]


 

Quick links

ATKV Resorts > ATKV Resorts
See what our seven lovely resorts offer you!
 
ATKV Members > ATKV Members
Change your members details!
 
Membership Application Form > Membership Application Form
 
Mission and Values > Mission and Values
 
Resort Reservation Request > Resort Reservation Request
 
Cyber Friends > Cyber Friends
Have a look at other Afrikaans websites!
 
ATKV Branches > ATKV Branches
Find a branch in your area
 
ATKV in the media! > ATKV in the media!
Where did you here about us?
 
Friends of the ATKV > Friends of the ATKV
 
ATKV Newsletter > ATKV Newsletter
 


Designed, developed & hosted by eliance