ONTMOET DIE LAAN SE NASIEBOUERS
02/01/2007
Sy het diep in Afrikaanse televisiekykers se harte gekruip met haar skaterlag. Hy weer, kan nie brandstof ingooi sonder dat hy deur petroljoggies herken word nie. Ja, die Laan se Marko en Aggie het waarskynlik al meer vir multikulturele verhoudings gedoen as enige politikus. ILSE SALZWEDEL het nader kennis gemaak.
Dit borrel en bruis tussen Francois Lensley en Mimi Mahlasela. Dit lyk of hulle net so goed klaarkom in die regte lewe as hulle 7de Laan-karakters, Marko Greyling en Aggie Ngwenya. Dis ’n Maandagoggend op die stel in Lonehill, Johannesburg. Ons kuier om ’n houttafel in die deel waar almal – akteurs, tegnici en ander personeel – daagliks saam eet of oor ’n koppie koffie en beskuit kuier. Dit klink soos ’n cliché, maar ’n mens hoor dit herhaaldelik by verskillende 7de Laan-akteurs: “Ons is soos een groot familie.”
Ook Francois en Mimi onderstreep hierdie gevoel. “Ek werk heerlik saam met almal. En spesifiek met Francois. Daar’s ’n lekker gee-en-neem-verhouding tussen ons op stel. I can feed off him, soos ons in die bedryf sê. Weg van die stel kom ons ook goed klaar. En hy praat regtig Zoeloe – dis nie net vir sy rol as Marko nie!”
“Aggie is die sonskyn in die Laan,” beduie Francois met groot, wye handgebare. “Sy sorg altyd vir ’n bietjie lag iewers. Boonop is sy hardwerkend en gedrewe – ek sou sê dis nogal eienskappe wat ek met haar in gemeen het.
“Mimi is soos ’n Soda Stream. Ek moet elke oggend vir haar sê om ’n bietjie te kalmeer. Om af te koel na ’n stadige prut, eerder as om so te borrel,” lag hy. Hulle is albei oggendmense, erken Francois. “Soggens is ek ’n bodemlose put van energie.” “Ja, as die ander nog brom-brom hier rondstap vroeg in die oggend is ons al volstoom en vrolik aan die gang,” bevestig Mimi. En as hulle die dag regtig moeg is? “Dan is ons eers energiek – al is jy moeg, is jou brein al so geprogrammeer dat jy jou eenvoudig nie daaraan steur nie,” verduidelik Francois.
Swoeg en sweet in sepieland Om in ’n daaglikse sepie te speel, is harde werk, verseker die twee my gou. “Ons skiet ’n episode per dag. Dis soos ’n worsmasjien van tonele, en ’n mens wil niemand se tyd mors nie. Daarom moet jy heeltyd op jou tone wees. Daar’s soveel energie op stel – dit kan dalk vir buitestanders lyk of almal van ons een of ander geheime opkikkermiddel gebruik,” spot Francois.
“Ja, maar net so vol energie soos jy soggens voel, net so pap voel jy ná ’n dag se werk,” vertel Mimi. ’n Sepie soos 7de Laan word volgens die multicam-metode verfilm. Dit beteken dat akteurs tydens elke toneel uit drie verskillende hoeke deur drie kameras verfilm word. Elke kamera verfilm ’n spesifieke deel van die toneel en sekere sleutelwoorde in die teks bepaal wanneer watter kamera gebruik word.
Almal se posisies word vooraf presies uitgewerk tydens ’n vroegoggend-proeflopie. “Dis nou sodat hulle presies kan sien waar’s die lig en skaduwees en watter kamera moet wat opneem,” beduie Francois. “Dis baie tegnies. Sekere tegniese dinge gebeur op sekere sleutelwoorde in die teks. Daarom mag ons nie eers ’n woord afwyk van die voorgeskrewe teks nie, want anders is alles deurmekaar en mors ’n mens baie tyd.” Hul werksure begin soggens om 06:30 en hou aan tot die laaste toneel vir die dag verfilm is. Soms is hulle tot 19:00 of 20:00 saans op stel. “Gelukkig is daar ’n lekker gees. Juis daarom wil ’n mens nie jou kollegas se tyd mors deur nie jou woorde of bewegings presies te ken nie.”
Beroemdes wat taxi ry? Ek soek hard na ’n woord behalwe oulik om die vrolike Mimi mee te beskryf. “Net nie oulik nie. Asseblief! Ek is só moeg vir oulik,” laat sy gemaak-dramaties hoor. “Ek’s 24 jaar oud! Wanneer gaan mense my as sexy begin beskryf?” sê sy en lag lekker vir haarself. Sy skater gereeld tydens ons onderhoud – beslis nie iemand wat haarself te ernstig opneem nie. En wat gou verduidelik dat die celebrity-deel van haar werk regtig nie so glansryk is as wat mense dink nie.
“Mense vind dit byvoorbeeld verstommend as hulle sien dat ek ’n taxi gebruik. Om die een of ander rede bestaan daar die wanindruk onder Suid-Afrikaners dat akteurs sakke vol geld verdien.” Ook Francois vertel hoe ’n vrou onlangs haar tienerseun probeer oortuig het dat dit wel Marko was wat voor hulle in die ry by ’n winkelbetaalpunt gestaan het. “Hulle was agter my toe ek uitstap na my motor toe. Toe hoor ek die seun vir sy ma sê: ‘Nee Ma, dit kan nie hy wees nie. Hy ry dan ’n Golf!’
“Mense sien ons nie as net gewone mense nie. Party dink ons is gode,” lag Francois. Vervolg dan ernstiger: “Die gebrek aan privaatheid is soms vir my sleg, maar Bertha le Roux, wat die rol van Emma speel, het dit eendag reg aan die begin mooi vir my opgesom. Sy’t gesê dat dit aanvanklik nogal cool is om bekend te wees. Later word dit ietwat van ’n irritasie, en dan raak jy uiteindelik gewoond daaraan dat mense dink jy’s hulle eiendom.” “Maar daar is darem baie oulike bewonderaars ook,” skerm Mimi vinnig. “Ja, jy’s nogal reg! As ek petrol ingooi, lyk dit of iemand ’n advertensie vir ’n nuwe soort brandstof verfilm. Daar’s omtrent sewe ouens om my motor – twee was vensters, een gooi petrol in, nog twee pomp die wiele ... Dis lekker om te weet dat ons bewonderaars oor kultuurgrense heen strek.”
Mimi lag lekker as sy vertel dat haar ma nou die dag in ’n winkelsentrum opgemerk het dat meeste van Aggie se bewonderaars wit is. “Dis een van die lekker dinge van Aggie – sy breek grense tussen mense af.”
Maar skielik is albei ernstig. “Ongelukkig is daar nog baie grense wat Suid-Afrikaners sal moet oorsteek. In hierdie een week alleen is vier van ons kollegas persoonlik geraak deur ernstige misdaad,” vertel Francois. En Mimi laat driftig hoor: “Baie mense sal nog hulle siening van ons land moet verander. Dit maak my baie kwaad dat sekere mense meen hulle kan vat net wat hulle wil hê. Hulle dink nie eers daaraan dat almal van ons hard werk om ons bietjie bymekaar te maak nie.”
Maksi-Mimi Mimi het grootgeword in Alexandra, Johannesburg, en is gewoond daaraan om haar moue op te rol. “Ek wou al van laerskooldae af toneelspeel en mense laat lag,” vertel sy. Sy het matriek geskryf aan Waverley High, met drama as een van haar eksamenvakke. “Daarna het ek gaan drama swot by die Technikon Pretoria, deesdae die Tshwane Universiteit van Tegnologie.”
In haar tweede jaar het sy ’n baie dapper ding gedoen. “Ek het besluit om al my vakke in Afrikaans te doen. Ek het besef dat dit soveel meer loopbaandeure vir my kan oopmaak as ek ook in Afrikaans kan werk,” verduidelik sy. Aan die einde van haar derde jaar het ’n agent van 7de Laan haar raakgesien en genooi vir ’n enkele verskyning as Aggie. “En toe moes iemand van my gehou het, want hulle het Aggie kort daarna ’n permanente karakter gemaak,” lag sy.
“Ek onthou my eerste dag op stel so twee jaar gelede nog baie goed,” vertel sy. “Dit was ongelooflik! Almal het kom kennis maak en uitgevra oor my. Niemand het gedink hulle is belangriker as die res nie.” Mimi kan heel goed met Aggie identifiseer. “Ons albei glo aan eerlikheid en respek. En ek weet Aggie sal daarop aandring dat mense vir haar lief is oor wie sy is – ek voel net so!” En as die Goeie Fee vir haar een wens kan bewaarheid, sal sy vra vir haar eie produksiemaatskappy. “Ek wil films maak oor al die stories in Suid-Afrika!”
Toeval het soms ’n rede Ook Francois sou net een maal voor die 7de Laan-kameras verskyn het as Marko. “Eintlik het ek ’n paar jaar gelede ’n oudisie kom doen vir die rol van Sandra se eerste man. Gavin van den Bergh het toe dié rol gekry. Dit was nogal lekker toe hulle besluit het om die karakter van Marko deel te maak van die reeks,” vertel hy oor sy drie jaar en ses maande as inwoner van die Laan.
Francois het eintlik so half per ongeluk akteur geword. “Ek het B.Sc. Konstruksiebestuur by Tukkies studeer toe my pa in my derde jaar oorlede is. Ek moes ongelukkig opskop omdat daar nie meer geld was vir my om verder te studeer nie.” Daar was darem geluk by die ongeluk. Iewers in sy tweede jaar is hy raakgesien en genooi vir modelwerk. Ook hier en daar ’n televisie-advertensie. Modelwerk, werk as kroegman en soms ’n werkie in die konstruksiebedryf het die eerste drie jaar ná universiteit gesorg vir sy daaglikse brood voordat hy as Marko deel van die 7de Laan-span geword het.
Hy verstaan sy karakter baie goed. “Marko is eintlik ’n baie vredeliewende ou. Hy het baie empatie en instink om ander te wil help. En mense hou van sy eerlike, oopgesig-seuntjievoorkoms. Dis net jammer hy leer so moeilik. Hy stamp sy kop oor en oor, veral as dit by meisies kom.” Hy dink ’n oomblik. “Dis seker maar omdat hy so baie hou van pronkgoed en meisies met geld. Hy is ’n harde werker, maar as hy speel, speel hy hard.”
Dié benadering tot werk en speel is iets wat hy en sy karakter in gemeen het, meen Francois. “Maar ek hou van gewone meisies wat hulle voete plat op moederaarde het. En ek hou van alledaagse goed. Daar’s niks so lekker soos om saans huis toe te gaan en met my hond te speel nie. Ek is op my gelukkigste iewers in die bos.” Daarom droom hy daarvan om eendag sy eie stukkie Bosveld te besit en ’n Land Rover om dit te verken. Vra ’n mens waaroor hulle sterk voel, het Mimi en Francois drie dinge in gemeen: eerlikheid, geregtigheid en nederigheid. Mimi wil almal met wie sy in aanraking kom se lewe positief beïnvloed. “Selfs diegene wat net vir ’n kort rukkie in my lewe is.” Francois voel sterk oor die natuur. “Ek glo in heilsame, eerlike ervarings. En natuurlik in die liefde.” Op hierdie amper filosofiese noot, neem ek afskeid van twee staatmakers in die Laan. En dis duidelik: hul vriendskap is geen seepstorie nie!
Vyf verrassende feite oor Mimi
Sy’s versot op kaaskrulle en appelsap.
Haar idee van ’n volmaakte romantiese afspraak is ’n piekniek onder die sterre.
Haar ma is haar rolmodel. “Sy is die sterkste, mees inspirerende vrou wat ek ken.”
Sy hou van haarself nes sy is en wil niks verander nie.
As sy die Lotto wen, sal sy ’n deel van haar wengeld skenk aan instellings wat omsien na mishandelde vroue en kinders.
Vyf van Francois se hartsgeheime
Sy hond is sy kosbaarste besitting.
As hy ’n strokieskarakter kon wees, sou hy Johny Bravo of Samurai Jack wou wees.
Hy verjaar op 1 Desember, maar wil nie sê hoe oud hy is nie. “Sê maar ek voel sestien!”
Vleis is sy gunstelingkos. “En natuurlik my ma se Chicken à la King.”
Sy oorlede pa het die grootste invloed op sy lewe gehad.
|