NIANELL - wêreldklas
03/01/2007
Na jare se harde werk is die naam Nianell deesdae op almal se lippe. Maar sy glo haar unieke musiektalent is maar een manier waarop sy die wêreld ’n beter plek kan maak. Deur ILSE SALZWEDEL.
Dis nie aldag dat ’n Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer wêreldwyd naam maak nie. Maar dis presies wat Nianell reggekry het met haar debuutalbum Who Painted the Moon?, wat die speellyste gehaal het op verskeie radiostasies in die VSA en Kanada. Boonop is die titelsnit opgeneem deur ’n internasionale ster, Hayley Westerna, op ’n album wat al die 2 miljoen-verkoopkerf verbygesteek het. Én Nianell se weergawe van die liedjie, Isn’t it?, het die nr. 4-plek op ’n Washingtonse radiostasie se treffersparade gehaal. Miljoene mense wêreldwyd weet Nianell kan skryf, sing, die kitaar tokkel en meesterlik klavierspeel.
Plaaslik het die sukses ook nie weggebly nie. Liedjies van al drie haar albums (Who Painted the Moon, Angel Tongue en Life’s Gift) het al plaaslike treffersparades gehaal en Angel Tongue het haar twee Sama-toekennings in die sak gebring. Vir die wat nie weet nie: ’n toekenning deur Sama (die South African Music Association) is die Suid-Afrikaanse ekwivalent van ’n Oscar vir musiek, en Nianell het haar beeldjies huis toe geneem in die kategorieë Beste Vroulike Komponis en Beste Volwasse Kontemporêre Album in Engels.
Nie sleg vir ’n Afrikaanse meisie wat op die piepklein Namibiese dorpie, Omaruru, iewers tussen Swakopmund en Windhoek, gebore is nie. En veral baie goed as jy dink hoe moeilik dit is vir enige kunstenaar van Suid-Afrika om internasionaal ’n deurbraak te maak.
Van agtergrondmusiek na treffersparades Tog is Nianell skynbaar onaangeraak deur haar sukses. Na ’n oggend lange fotosessie om ons voorbladfoto’s te neem, gaan eet ons iets by ’n nabygeleë restaurant. Wat eerste opval, is dat sy nie, soos vroulike celebs gewoonlik doen, aan ’n paar slaaiblaartjies herkou nie. “Ek hou van kos,” verklaar sy prontuit toe sy ’n bord pasta bestel.
Sy glo daarin om voluit te leef, kom ek agter terwyl ons gesels. Maar sy glo ook in balans. Haar lewe bestaan nie net uit optredes nie. Haar man, Andrew Thompson, met wie sy op 27 April sewe jaar getroud sal wees, is boaan haar lys.
“Die getroude lewe is wonderlik. Andrew inspireer my. Al is hy in die sakewêreld, het hy ’n baie goeie oor vir musiek. En hy help soms met lirieke.”
Wat laat dinge tussen hulle werk terwyl so baie ander huwelike in die stof byt? “Hy glo in my. En hy’s gemaklik met homself en wie hy is. Hy voel nie bedreig deur my sukses nie, en ondersteun my ten volle.”
Sy moes eerste flikkers gooi om haar Engelsman se aandag te trek, onthou Nianell laggend. “Hy was ’n gereelde gas in die kuierplek waar ek destyds gereeld opgetree het. Maar mans kom mos nie na my toe nie – vroue sal, en ou omies van 80, maar nie jong mans nie.”
Toe stuur sy maar vir hom haar visitekaartjie, en wag vir reaksie. “Hy’t eers ’n week later gebel,” merk sy op. Vandag is sy bly dat sy hom ontmoet het nog voor sy bekend was. “Dit moet moeilik wees om eers bekend te wees en nie te weet of mense in jou belangstel oor wie jy is of wat jy bereik het nie.”
Haar pad boontoe was nie altyd maklik nie, maar sy het nooit ophou droom nie. Al was sy in 1987 Crescendo-finalis (met ’n toekenning vir haar toonsettings) moes sy al klavier speel en agtergrondmusiek sing in vyfsterhotelle om die rekeninge te betaal. Nie heeltemal waarvan sy gedroom het tydens haar musiekstudies aan TUT (destyds die Pretoria Technikon) nie.
“Daar was tye dat ek my juwele moes verkoop om my huur te betaal. Andrew het egter altyd in my en my drome geglo.”
Nuwe planne Dinge wat sy vir hierdie jaar beplan, is die vrystelling van haar splinternuwe DVD in April. “Ons het dit opgeneem met ’n 11-stuks orkes met ’n hele seksie snaarinstrumente,” borrel sy entoesiasties.
Dan kan aanhangers ook uitsien na ’n nuwe album met ’n hele paar Afrikaanse snitte. “Die Afrikaanse gehore is ongelooflik lojaal aan ons Suid-Afrikaanse kunstenaars.” Sy werk steeds baie hard aan ’n internasionale deurbraak, en sou baie graag die temamusiek vir ’n Disney-prent wou sing. “Ek is dol oor animasieflieks!”
Hoe skryf sy haar trefferliedjies, wil ek weet? “Ek moet inspirasie hê. Daar moet ’n storie in my kop wees. Ek hou van mooi eindes, en kry dikwels inspirasie uit ’n mooi fliek – dit wek sekere emosies op, en partykeer is die liedjie klaar geskryf teen die einde van die fliek.”
Sy skryf veral lekker by haar en Andrew se vakansiehuis op die Weskus. Dis nou as hulle nie ver ente gaan stap met die twee Staffie-kinders nie. “Ek is mal oor ons Kaapse huis. En oor my honde. Hulle laat my baie lag.”
En o ja, noem sy so half terloops, daar is ook ’n sterk moontlikheid dat sy ma-wees vanjaar by haar lysie van bedrywighede wil voeg...
Gesonde gees, gesonde vlees Behalwe musiek is sielkunde haar ander passie. Dis moeilik om nie aangesteek te word deur haar filosofiese ingesteldheid teenoor die lewe nie. “Ons moenie eers hulp soek as ons reeds probleme het nie – ek glo dis net so belangrik om jou brein te diens as wat dit is om jou lyf te oefen.”
Sy het ’n persoonlike afrigter wat haar help om haar lang, lenige lyf soepel en fiks te hou. Sy sien haar juis na vanmiddag se bord pasta...
Nianell lees graag sielkunde-boeke, selfhelp-boeke oor persoonlike ontwikkeling en geestelike boeke. Boaan haar lys van gunstelinge is Neal Donald Welsch se Conversations with God.
Sy beskryf haarself as godsdienstig, maar glo terselfdertyd nie daaraan om met haar geloof te koop te loop nie.
“Dis net nie wie ek is of hoe ek dit doen nie. Ek streef daarna om ’n perfekte balans te kry tussen liggaam, siel en gees. Ek glo mens moet jouself in ’n goddelike lig sien, jouself vergewe vir foute en kyk na jouself. Ek dink die hele wêreld kan verander as meer mense net hulself kan liefhê.”
Sy bly ’n oomblik stil. “Mens kan eintlik net verantwoordelikheid neem vir jou eie deel van die lewe. Maar hoe hard jy op jouself is, reflekteer jou verhouding met jouself.” Sy bieg dat dit iets is wat sy self in 2006 moes leer. “Ek moes leer om meer tyd vir myself te vat, meer pret te hê, dinge meer te geniet. Ek dink ons moet álmal probeer om die lewe meer te geniet.”
Min mense weet dat sy ook ’n motiveringspreker is. Waaroor praat sy? “Oor vrees. Dit steel soveel van ons almal! Veral die vrees dat jy nie suksesvol genoeg is nie, of dat mense nie van jou hou nie.”
Sy glo ons is almal een liggaam, en elke deel vervul ’n broodnodige funksie. “Maar soms skyn ons ster nie so helder as wat dit kan nie, omdat ons bang is ons stel iemand anders in die skadu. Ek het dit vir jare gedoen. Tot my lewensafrigter dit vir my met simboliek verduidelik het: in ’n liggaam klop die hart nooit stadiger net om die nier kans te gee om in die kollig te wees nie. Alle organe gee die hele tyd hul beste!” En daarom, as sy ’n lewensleuse moet uitsonder tussen alles waarin sy glo, sal dit wees dat ons almal ’n plig het om te skyn.
En skyn doen Nianell goed: Behalwe vir haar blink musiekloopbaan, is sy ook ’n welwillendheids-ambassadeur vir haar geboorteland Namibië. Plaaslik is sy een van vier direkteure vir die liefdadigheids-organisasie Proud Partners. Sy help om fondse in te samel vir die organisasie se gemeenskapswerk deur optredes, en is trots dat hulle reeds verskeie minderbevoorregte leerlinge in staat kon stel om onder andere musiekonderrig te kry.
“Ek is baie geseënd, en glo mens moet help waar jy kan. As jy mekaar verstaan, kan jy mekaar nie vrees nie.” Sy bly ’n oomblik stil, teug aan haar koffie. “Ons moet vrees verban, veral as dit ons terughou.”
“Ons moet mekaar help dra” Elke mens het ’n medium waardeur hy homself kan uitdruk. Nianell glo háár medium is musiek. “Ek is geseën met ’n stem waardeur ek boodskappe kan oordra.”
Sy glo baie van haar liedjies kom nie uit haarself nie. “Dis boodskappe wat ek móét deel – ek is bloot die medium waardeur dit tot ander kan spreek. As dit vir my soveel beteken, dan wéét ek dit moet ander mense help. Ek glo ons moet mekaar help dra as dinge swaar raak.”
Sy glo ons almal het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar. “Ons moet na mekaar luister en mekaar aanmoedig om die beste te wees wat ons kan. Ons is almal so breekbaar, en almal wil eintlik maar net liefgehê word.
“Ons is baie geneig om onsself te meet aan hoe ons lyk en wat ons doen. Ons besef nie altyd dat ons met volmaakte, mooi siele geskape is nie, en daarom is ons dikwels te hard op onsself.”
Sy is mal oor mense. “Mense is my besigheid, en daarom probeer ek maar gedurig om agter te kom wat hulle nou eintlik laat tiek.”
|