ELZETTE - meer as net ma
05/01/2007
Behalwe vir twee pragtige kinders van haar eie, is Elzette van kleins af die een wat koester en versorg. En as sy nie die rol van ’n matrone vertolk nie, is sy die vrou van ’n dokter, soos sy onlangs in Binnelanders gespeel het. ILSE SALZWEDEL het gaan uitvind wat sy deesdae doen.
Elzette Maarschalk is verfrissend anders as die meeste glansmense. Ons ontmoet vir ontbyt in ’n besige sentrum in Pretoria, en wat my eerste opval, is haar onopgesmuktheid. Sy dra die minimum grimering, maar lyk nog steeds veel jonger as haar 47 jaar. Haar oë blink, en die fyn plooitjies om haar oë en mond wys dat sy graag lag.
Haar klere is gemaklik en sonder fieterjasies. “Ek het besluit om iets aan my lyf te doen, en gaan na ons onderhoud vir my eerste Pilates-klas,” bieg sy oor ’n ekstragroot koffie met room. Nie dat ek dink haar lyf het werk nodig nie. Wat is haar geheim? “Ek eet baie rou groente en vrugte, en geen eiers of rooivleis. Ek was al heeltemal vegetaries toe ek jonk was! My soettand is my grootste swakheid, maar ek probeer om dit te beheer. O ja, en ek drink baie water.”
Elzette is ma van die 22-jarige Pierre-Henri en Zetske (19) uit haar eerste huwelik met die bekende akteur en regisseur Pierre van Pletzen. Die afgelope twaalf jaar deel sy haar lewe met haar sielsmaat, die akteur en sanger Joseph Clark.
“Ons het in 1995 op die stel van The Buddy Holly Story ontmoet. Ons is beslis sielsgenote.” Hulle is vanjaar tien jaar getroud, en woon in ’n ou huis teen ’n berghang in ’n boomryke Pretoriase voorstad. Joseph is deesdae veral bekend vir sy vertolking van Queen se musiek, en Elzette bestuur sy propvol dagboek. Tussendeur sommer ook die restourasie en bouwerk by die huis.
Dis juis daarom dat sy nie meer in Binnelanders te sien is nie. “Die daaglikse gependel tussen Pretoria en Johannesburg het eenvoudig te veel tyd in beslag geneem, en ek kon nie juis by Joseph of sy loopbaan uitkom nie.”
Vanjaar, spog sy, is juis nogal ’n belangrike jaar vir haar talentvolle man, want sy eerste CD sal later vanjaar op die rakke wees.Twee jong aanhangers staan skugter nader met notaboekies en penne. Elzette gesels spontaan en sonder aanstellerigheid met hulle. “Wat swot julle? Hoe lyk die werksgeleenthede?” Geen teken van aanstellerigheid, ongeduld of haas nie, bloot een mens wat met twee ander mense gesels. Baie moederlik, dink ek by myself.
’n Gebore ma Hou sy van ma-wees? “Ek dink ek is ’n gebore ma. Ek het op ’n plaas grootgeword, en het so ’n groot Elastoplast-blik vol pleisters en ontsmettingsmiddel en goed gehad. As enigiemand, selfs die plaaswerkers seergekry het, het hulle na my toe gekom dat ek hulle kan dokter. Om nie eens te praat van die duisende diertjies en beseerde voëltjies nie ...” Met produksies gebeur dieselfde ding, vertel sy laggend. “Al is ek ook die regisseur, word ek altyd die ma wat kyk dat almal gesond eet. Die een wat almal probeer koester.”
Op ’n ernstiger noot vertel sy dat sy haarself nie genoeg eerste stel in haar lewe nie. “Ek plaas altyd die produksie, of die mense om my, bo myself, al weet ek dis verkeerd. Dit het selfs erger geword nadat ek self ’n ma geword het. Almal berei jou voor op die fisieke veranderinge wat moederskap meebring, maar niemand vertel jou hoe jy emosioneel verander nie.”
Hoe het moederskap haar as mens verander? “Ek dink dit genees jou finaal van enige selfsug.” Sy speel selfs chronies sulke moederlike rolle, sug sy. Nie net onlangs as Karla Combrinck in Binnelanders nie. “My heel eerste filmrol was in Beloftes van môre – toe was ek ’n matrone. Op 21!”
Joseph, Zetske en Pierre-Henri se name duik oral in ons gesprek op. Dis duidelik dat Elzette versot is op haar gesin. Sy vertel dat hulle nie dae soos verjaarsdae en Moedersdag op tipiese maniere vier nie. “Ek weet ’n vrou is seker maar die tradisieskepper in ’n gesin, maar ek is maar vrot met tradisionele vierings. Ons wil dit nie benader soos iets wat gedoen móét word nie, en die vierings pas nie altyd in met almal se skedules nie, wat beteken ons sal sommer een van ons se verjaarsdag op ’n heel ander dag vier!”
Sy lag as sy vertel dat sy Pierre-Henri, PH of Peach soos hy ook bekend staan, nog ’n 21ste verjaarsdagpartytjie skuld. “Ek sal dit dalk eers vir hom kan gee noudat hy 22 word, want sy 21ste verjaarsdag het op ’n openingsaand van een van Joseph se shows geval.”
Wat doen sy graag saam met haar mense? “Ons gesin maak ’n punt daarvan om een maal per maand saam te gaan fliek en dalk te gaan eet. Ek en Joseph kies die flieks – gewoonlik iets kunserig, want anders kom Pierre-Henri en Zetske net by die blockbusters uit. Maar ons geniet ’n lekker aksiefliek net soveel.
O ja, hulle het darem een verjaardagtradisie, noudat sy mooi daaroor dink. “Ons het gewoonlik ’n waterglybaan met Zetske se verjaarsdae gehad waar almal sommer na hartelus gly. Sy was hierdie jaar in Frankryk met haar 19de verjaarsdag, maar ek dink volgende jaar hou ons weer so ’n skuim-en-gly-partytjie!”
Sy koop ook nie net met verjaarsdae spesiale geskenke nie. “As ek iewers is, en iets sien wat eenvoudig uitskreeu dat dit vir Joseph of Zetske of Pierre-Henri gekoop moet word, dan koop ek dit en gee dit so gou moontlik.”
Toneel in die are Haar kinders het albei toneelspeel saam met moedersmelk ingekry, en so te sê agter die verhoog of op stel grootgeword. G’n wonder dat albei aan ’n Pretoriase dramaskool gematrikuleer het nie.
“Pierre-Henri het op skool die toekenning as beste akteur gekry, en word baie genader vir rolle. Maar hy konsentreer tans op sy musiekloopbaan. Hy is ’n drommer van die orkes Shu.”
Zetske werk tans as au pair in Frankryk. Haar drie passies is toneelspeel, dans en sing. “Sy was te sien in Hart van staal en meer onlangs in Begeertes. “Nie een van ons het hulle aangemoedig om die toneelwêreld vir ’n loopbaan te kies nie. “Hulle het grootgeword met vier ouers wat almal akteurs is. Hulle het seker net aangeneem “dis wat jy doen wanneer jy groot is”.
“Ek het foto’s van Pierre-Henri wat op my kleedkamer se spieëltafel sit asook ’n medespeler wat met hom op die heup staan terwyl ek op die verhoog is.” Sy vertel laggend hoe Pierre-Henri op driejarige ouderdom baie geïnteresseerd was in wat agter die swaaideure by ’n restaurant aangegaan het. “Ek kom nou, ek gaan net gou gaan kyk wat doen hulle backstage,” het hy kordaat gesê toe hy in die rigting van die kombuis verdwyn.
“Teaterterme was deel van hulle spreektaal, en toneelspeel deel van hulle daaglikse lewe. Jy moet die lawwe video sien wat ek van hulle gemaak het op die oggend van Pierre en Sandra se troue.”
Sy skaterlag by die herinnering aan dié oggend se lawwighede. “Zetske was 7, en het aangedring op krulhare. Toe werk die krulle glad nie vir haar nie – sy het soos Shirley Temple gelyk, en summier ’n klopdansie uitgevoer vir die kamera toe sy my dit hoor sê. PH was 10 en het baie cool gelyk met gejelde hare en ’n onderbaadjie. Toe hulle besef ek neem hulle af, het hulle so ’n show opgesit dat al die krulle omtrent uit Zetske se hare was voordat hulle nog weg is troue toe. Hulle het tot ’n tango gedans!”
Die lewe is nie ’n kleedrepetisie nie Was daar dinge wat sy haar kinders probeer leer het? “Dat die lewe nie ’n kleedrepetisie is nie – this is it! Ons kry net een kans, en moet die beste daarvan maak. Dis my motto.” Sy het probeer om ’n oop verhouding met haar kinders van kleinsaf te hê. “Ek het nooit nodig gehad om vir hulle te sê hulle mag iets nie doen nie. Ek het bloot die implikasies van sekere besluite vir hulle verduidelik, en hulle moes dan self kies. So het ek hulle byvoorbeeld klein-klein al vertel hoe gevaarlik dwelms is.”
Elzette sê sy het haar kinders baie onafhanklik, selfstandig en verantwoordelik probeer grootmaak. “Hulle het byvoorbeeld altyd hulle eie tasse gepak as ons of hulle iewers heen moes gaan. Ek het nooit vir hulle goed gedoen wat hulle self kon doen nie. En ek het ook nooit met my kinders babataal gepraat nie – ek glo dit alles het hulle baie gehelp om te wees wie hulle vandag is.”
Presies hóé onafhanklik en selfversekerd haar spruite is, blyk duidelik uit staaltjies oor Zetske se kleintyd. “Op die eerste Maandag na haar sesde verjaarsdag het sy haarself in die skool gesit. Sy het haar tassie gepak, haar geleende skoolrokkie aangetrek en my besware eenvoudig geïgnoreer.”
“Ma het gesê as ek ses is kan ek skool toe gaan!” het sy ewe vernaam gesê. “Toe’s ons maar skool toe. Sy het nie by die skoolhekkie omgedraai soos ek gedink het sy sou doen nie. Die skoolhoof het ook nie later die dag gebel om te sê ek moet haar kom haal nie. Ons het gedink die nuwigheid van skoolgaan sal oorwaai, maar dit het nie, en Zetske het haar skoolloopbaan amptelik op 6 Maart begin.”
En die kleine juffer was besonder ernstig oor leer. Toe haar onderwyseres ’n paar dae weens siekte afwesig was, het die kleintjies se dag grotendeels uit teken en inkleur onder toesig van ’n hulpjuffrou bestaan.
“Toe die hulpjuffrou weer een oggend instap en sê hulle kan maar aangaan met tekenwerk, het Zetske summier haar arms voor haar op die tafel gevou. Doodernstig, kompleet met haar brilletjie op haar sproetneus, het sy gesê: ‘Ek is nou móég hiervoor! Ek wil 'n juffrou hê – my ma betáál vir hierdie klasse!"
En wat sou sy sê het haar kinders háár geleer? “Dat ek nie alles weet nie! En om nie net ’n ma te wees nie, en minder te stres en meer te ontspan!”
Vinnige feite oor Elzette
Gunstelingmusiek: Rockballades
Mooiste boek ooit gelees: Boys and Girls Together deur William Goldman
Lekkerste kos: Mediterreense kos, vrugte en boerekos.
Gunstelingbestemming: Plekke met woude, uitgestrekte vlaktes, of iewers waar die sneeu dik lê.
Fliekgunstelinge: Amelie, Life is Beautiful, Napoleon Dynamite en The Fugitive.
Eerste rol op die verhoog: In Die onpaar paar, ’n vertaling van Neil Simon se The odd couple.
Watter kwessie lê haar na aan die hart? Die ordentlike versorging van bejaardes.
Vier dinge wat sy nog eendag wil doen:
Ek wil die persoon laat arresteer wat daarvoor verantwoordelik is dat die volume van TV-advertensies outomaties harder is as die programme.
Ek wil vlieg – nie met ’n vliegtuig of ’n sweeftuig nie, ék wil self vliég!
Ek wil vir drie maande niks anders doen as net foto’s neem nie.
Ek wil ’n groentetuin hê waarin ek skemeraand kan gaan spit.
|