

Koop-‘n-Afrikaans-boek-dag 2010
Dis al weer tyd vir Koop-‘n-Afrikaanse-boek-dag op 14 Augustus! Hierdie jaar vra ons dat lesers, behalwe om vir hulself ‘n boek te koop, ook daaraan dink om ‘n boek te borg vir iemand wat dit nie self kan doen nie, of wat dalk nog nooit ‘n boek van sy eie besit het nie.
Saam met julle hoop ons om op dié manier te help om ‘n leeskultuur aan te wakker en ook om mense aan te moedig om van die wye verskeidenheid Afrikaanse boeke wat op die mark is, te koop.
Almal kan baat by hierdie dag: lesers, skrywers, boekwinkels en uitgewers! So versprei hierdie nuus asseblief so wyd as moontlik!
Deelnemende boekwinkels gee op 14 Augustus (of die hele week) afslag op hulle Afrikaanse boeke, en dit gaan baie goed met verkope. Boekwinkels wat al vantevore deelgeneem het is PNA, Protea Boekhuis, Boek Hoekie (Paarl), Fascination Books, Bukhuki (Somerset-Wes en Pretoria), Die Klein Karoo Boekwinkel (Montagu), Griffelhoekie (Kokanje), Cum Boeke en Gospel Direct (Somerset-Wes), Wordsworth (Strand, Knysna en Willowbridge) ens. Lapa Uitgewers het verlede jaar selfs ‘n verdere afslag aan boekwinkels gegee. En as die boekwinkel in jou omgewing dit nie doen nie, praat hulle sommer om om ook deel te neem!
Eerste dag van die Postmatriek fietstoer
Uit die studente se "monde" - Noord toer
13 Julie 2010 en ATKV-Postmatriek fietstoer skop af met ‘n "bang" met die Drakensberge spierwit gesneeu in die agtergrond. Nog voor ons by ATKV-Drakensville se hek uit is val die eerste fietstrap af maar gelukkig het ons die beste "mechanics" in die land en is die probleem vinnig opgelos. Met die skoot wat klap, gevuur deur Pieter du Toit (oordbestuurder), het ons die pad begin aandurf en het niemand opgeklim vir die eerste 38 km nie. Die bene het begin seer raak en die asem min, maar steeds was daar 3 van die fietse op die pad. Die laaste 10km tot in Ladysmith het al 11 studente weer gery en met ‘n hartlike ontvangs in Ladysmith deur die plaaslike media en ons gasouers vir die aand, kom die eerste 90km van die 2010 fietstoer vir eers tot ‘n halt.
Vir meer foto's en inligting oor die Postmatriek Fietstoer, besoek www.atkvprojekte.co.za of klik hier
Postmatriek se fietstoer spring weg op ATKV-Drakensville
ATKV-postmatrieks pak lang fietstoer
Die ATKV-Jeuginstituut bied eersdaags ‘n uitdagende fietstoer aan.
Die ATKV-Jeuginstituut se jaarlikse postmatriekjaar, wat aan leerders na skool die geleentheid bied om eers perspektief op hul lewe en vir hul toekomsplanne te kry, is die groot dryfveer agter hierdie inisiatief. [Lees meer]
 |
Volg die fietstoer op Twitter |
 |
Volg die fietstoer op Facebook |
Taalgenoot kry 'n nuwe baadjie!

Op 15 Julie 2010 word die nuwe Taalgenoot bekend gestel. Taalgenoot is die ATKV se leefstyltydskrif met ’n tikkie korporatiewe glans wat reeds die afgelope 79 jaar aan alle ATKV-lede gestuur word.
As die tweede oudste tydskrif in Suid-Afrika, moet die publikasie jonk en modern bly. Waar Taalgenoot voorheen tien keer ’n jaar verskyn het, word dit nou kwartaalliks uitgegee: dikker, mooier en nog meer interessant. Die uitleg lyk anders, die inhoud lees anders en lesers kan dit gerus op hul koffietafels uitstal!
In die nuwe Taalgenoot is alles en nog wat oor die ATKV dadelik te lese. Blaai net na die afdeling vir ATKV-sake en al jou vrae oor die ATKV se projekte, oorde, lidmaatskap, takke en jeugontwikkeling word gou beantwoord. Boonop is daar artikels met ’n taal- en kultuurfokus, nes dit enige produk van die ATKV betaam. Die inhoud het buiten die korporatiewe fokus ook ’n sterker leefstylfokus. Artikels oor motors, tegnologie, gesondheid, huwelikskwessies, die gesin en ook lekker resepte verseker dat elkeen van 18 tot 80 iets sal kry waarmee hulle kan identifiseer. Artikels oor ons eie bekendes verskaf ook die nodige glans wat enige tydskrif laat uitblink.
Taalgenoot word tans kwartaalliks aan ATKV-lede gestuur as ’n gratis ledevoordeel. Hierdie tydskrif spog met ’n sirkulasiesyfer van 65 000 en ongeveer 300 000 lesers – almal natuurlik Afrikaans! Taalgenoot is die ideale publikasie vir die Afrikaanse mark – van speenoud tot beenoud! Vir meer inligting, skakel die redaksie by 011 919 9000 of stuur ’n e-pos na taalgenoot@atkv.org.za.
Kliek op die banier vir meer winskopies!

|