DIE ATKV: Kom uit vir Afrikaanse kultuur
Jy dink dalk dat ATKV staan vir Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging. Dit is wel so, maar deesdae staan dit ook vir:
-
Aktief in my gemeenskap
-
Takke
-
Kwaliteit-takprojekte
-
Vet pret
Sien, by die ATKV se takke-afdeling beleef ons nie net ons kultuur nie. Ons LEEF dit – van die oggend tot die aand, van biltong tot beskuit, van Ingrid Jonker tot Koos Kombuis, van Langlaagte tot Londen, van Secunda tot Sydney. Want vir ons is dit nie bloot net ’n werk nie; dis ’n passie.
En dié passie bly nie net by ’n gevoel nie. Elke dag voeg ATKV-takke die daad by die woord met ’n propvol program landwye aktiwiteite en projekte. Uiteraard doen ons dit vir die pure tonekrul-lekkerte. Maar ewe belangrik is ons toewyding om kultuur te gebruik om mense wyd en syd in ons land toe te rus met die vaardighede en kultuurdiepte om die land van rugby en sonskyn verder uit te bou tot die land van hoop en geleenthede!
Kortom: In alles wat ons doen, wil ons seker maak dat die Afrikaanse kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel is van ’n suksesvolle Suid-Afrika.
WAT IS KULTUUR?
Kultuur, sê die woordeboek, is alles wat ’n mens doen om by jou omgewing aan te pas. Hierdie “alles” is dan ook dit waarop ons onder andere ons aktiwiteite fokus: Taal, kunste, juridiese, sosiaal-maatskaplike, ekonomiese en staatkundige kwessies, godsdiens, sport en ontspanning, en selfs nog wyer. Verder sorg die ATKV se meer as 220 000 lede en meer as 270 takke landwyd dat kultuurbeoefening op alle vlakke van die samelewing vrye teuels geniet.
ATKV-TAKKE LAAT DIE KULTUURVAANDEL WAPPER IN GEMEENSKAPPE!
Ons weet dat Afrikaanssprekendes plesierig is en daarvan hou om te kuier en dinge saam te doen – nie net binne gesinsverband nie, maar ook as vriende. Ons nooi jou daarom hartlik uit om by ’n ATKV-tak in jou omgewing aan te sluit om te kuier, skoene uit te skop, te dink en te doen saam met mense wat soos jy voel.
Met ons takke wil ons alle Afrikaanssprekendes oplaai sodat ons saam, met grasie en sonder konsternasie, op die blink kultuurpad kan ry!
Die ATKV-takke bestaan uit vrywillige ATKV-lede vir wie kultuurbeoefening so lekker is soos ’n yskoue gemmerbier op ’n snikhete dag! Terwyl jy in Afrikaans kuier, leef en sommer alles doen, ontmoet jy boonop wonderlike mense wat ’n positiewe verskil in jou lewe en in gemeenskappe kan maak.
Jy kan besluit watter tak se fokusse die beste aanklank vind by jou persoonlikheid en passie. Jy kan kies uit ’n hele aantal fokusse, wat elkeen by die ATKV se visie en missie aansluit, nl. die jeug, ’n sosiaal-maatskaplike fokus, vrouebelang, taalbevordering, bevordering van die kunste, die versterking van gesinswaardes, bewaring van ons kulturele erfenis, bewaring en bestuur van die omgewing, en die onderwys. Deur deel te wees van ’n tak help jy dus trap aan die Afrikaanse se voetspoor oral deur Suid-Afrika.
Ons takaktiwiteite is letterlik so wyd soos die gemeenskappe in Suid-Afrika. Hier is net ’n paar voorbeelde:
Haal uit en wys vir Afrikaans Op leerders wat uithaal en wys in Afrikaans wag daar boekpryse, trofeë en sertifikate. Daar is ook opstel-, vasvra- en spelkompetisies!
Haal uit en lees vir Afrikaans Danksy ’n skenking van LAPA, die ATKV se uitgewery, skenk ATKV-takke duisende boeke aan skoolbiblioteke. Takke in landelike gemeenskappe versprei ook Afrikaanse tydskrifte en leesboeke aan plaasskole om die lees van Afrikaans aan te moedig.
Haal uit en help in Afrikaans Ons projekte het iets vir almal; van jonk tot oud, van voorlopers tot agterosse. Leerders sal baat vind by ons lesings oor temas soos leierskapontwikkeling en gesinsverryking, terwyl ATKV-takke ook omsien na spesifieke gemeenskapsbehoeftes vir ouetehuise en kinderhuise.
Haal uit en wys met kultuurdeling Dit is nie net ons eie taal en kultuur wat ons momentum gee nie. Ons word tot groter hoogtes geïnspireer deur ons betrokkenheid by ander kultuurgroepe. Daar is redenaarskompetisies vir leerders wie se moedertaal nie Afrikaans is nie en uitreikaksies soos interkulturele proe-aande en besoeke aan ander kultuurgemeenskappe saam met Afrikaanse kunstenaars. Daar is ook ’n magdom kreatiewe projekte om sterk bande tussen verskillende kultuurgroepe te bou en in stand te hou.
Haal uit en geniet in Afrikaans Die louter plesier van al die variante van die Afrikaanse kultuur is uiteraard dit wat ons in elke tak uitleef met projekte soos uitstappies, prettreinritte, kuieraande en karavaanpret.
DIE TAKTOETS Nog steeds ’n bietjie onseker? Voer dan ’n taktoets uit deur ’n ATKV-takbyeenkoms by te woon. Jy sal gou ontdek dat al die takaktiwiteite geskoei is op ’n Christelik-Bybelse grondslag en dat almal se menswaardigheid gerespekteer word. Alle takaktiwiteite word natuurlik ook, soos alle ander ATKV-projekte, volgens gesonde sakebeginsels bedryf en takbesture word deur bekwame personeel opgelei in effektiewe projekbeplanning en -bestuur.
HOE DOEN ’N ATKV-TAK SY DING? Deur ’n magdom innoverende en sigbare gemeenskapsgerigte inisiatiewe, projekte en veldtogte.
Lek solank jou lippe af vir plesierige musiek- en pretaande, boekprys- en merietetoekenningsgeleenthede, die aanbied en bywoon van kursusse, deelname aan feeste en uitstappies, en die bekroning van gemeenskapsleiers. Kom luister na kundige sprekers wat oor aspekte gesels wat ’n ieder en ’n elk in die gesin raak.
Elke takbyeenkoms is eintlik ’n sosiale byeenkoms in gesinsverband vir almal van speenoud tot beenoud. Daar word ook deurgaans met takprojekte gepoog om die gesindheid van trots Suid-Afrikaans in Afrikaans te laat blyk.
Jou tak se projekte en aktiwiteite word bepaal deur die inisiatief van die taklede en hulle sowel as die gemeenskap se behoeftes.
DAAR IS NIE ’N ATKV-TAK IN MY OMGEWING NIE! Klim op die ATKV se 4x4 en stig een! Hoe word dit gedoen? Die ATKV se Afdeling: Takke, met ons hoofkantoor in Randburg, sal jou met raad en daad bystaan. Skakel gerus 011 919-9062 en ons sal jou op die regte spoor bring.
Die ATKV het boonop, benewens die twee streekkantore wat die hoofkantoor as standplaas het, ook streekkantore in Bloemfontein, Stellenbosch, Pietermaritzburg, Port Elizabeth en Potchefstroom. Die streekorganiseerder, wat ’n professionele kultuurfasiliteerder is, wag op jou navraag ten einde jou met die beste kliëntediens op ’n opwindende 4x4-kultuurroete te help.
DIE LAASTE WOORD... Vir Afrikaans en sy mense is die tyd verby om langs die kantlyn te sit en toekyk terwyl ander die kultuurdrieë druk. Nou kan jy ook uitdraf en self ’n drie druk, want by ons sal jy so tuis wees soos ’n snoek in die waters van die Weskus!
Trek saam met mede-Afrikaanses jou kultuursokkies op en laat die Afrikaanse taal en kultuur in jou gemeenskap, in jou hart en op jou tong leef! Word so deel van die ATKV se Afrikaanse voetspoor landwyd!
Om in te skakel by die werksaamhede van jou plaaslike ATKv-tak kan jy gerus met ons Afdeling: Takke (by 011 919 9000) of jou naaste streekverteenwoordiger in verbinding tree.
Die nege fokusse wat geïdentifiseer is, is die volgende:
-
BEHOEFTEGEDREWE FOKUS VOLGENS ONTSTAANSREDE: Takke wat 'n spesifieke belangstelling het wat hulle wil waardeer en uitbou, bv. 'n tak wat die redenaarskursus wil bevorder of 'n tak wat oor sake van die dag ingelig wil wees en daaroor wil redeneer om sodoende meer perspektief op 'n saak te kry.
-
BEVORDERING VAN DIE KUNSTE: Dit sluit die uitvoerende (bv. sang, toneel, voordrag), beeldende (bv. beeldhoukuns) en die skeppende kuns (bv. die skryf- en skilderkuns) in.
-
BEWARING VAN DIE KULTURELE ERFENIS: Takke wat historiese terreine of monumente wil help bewaar en onderhou of takke wat kultuurgoedere soos volkspele, die rieldans, Afrikaanse volksliedere, tradisionele resepte ens. wil bewaar. ( www.atkvprojekte.co.za)
-
DAMES: Takke wat die eiesoortige belangstellings van vrouens wil koester asook die vrou se onvervangbare plek in die samelewing wil erken en uitbou. Dit geld onder andere ook vir die vrou as gelyke vennoot in die werkplek asook erkenning van die kundigheid en leierskap van die vrou op vele terreine. (AbbAsorg)
-
DIE WAARDEGEDREWE GESIN: Takke wat die gesin koester deur saam dinge te doen en terselfdertyd Christelike waardes asook waardes wat daarmee geassosieer word, te versterk en aan die volgende geslag oor te dra.
-
JEUG: Hier word spesifiek op tipiese jeugbelangstellings gefokus. Die eiesoortige belangstellings van die jeug word bevredig deurdat daar gekonsentreer word op projekte wat eietyds en jeugdig van aard is.
-
KULTUURBELEWING OOR 'N BREë SPEKTRUM: Dit tak bied 'n verskeidenheid van projekte aan wat van verskillende aard is. 'n Groot spektrum van mense se kultuurbehoeftes word dus binne die plaaslike gemeenskap bevredig deurdat daar iets vir elkeen is.
-
SOSIAAL-MAATSKAPLIK: Takke wat deur middel van praktiese betrokkenheid die fokus laat val op die daaglikse brood-en-botter behoeftes van mense en gemeenskappe en der middel van hul aksies iets daadwerkliks doen om die nood te verlig. (AbbAsorg)
-
TAALBEVORDERING: Projekte wat die rykheid en sprankeling van Afrikaans as jong taal beklemtoon en deur middel van kreatiewe projekte bou aan 'n taal wat uit soveel variante bestaan en wat 'n samebindende faktor vir alle Afrikaanses is.
|