Die ATKV-leierakademies is vir enige leerder van graad 8 tot 11 en klasse word weekliks van Februarie tot Oktober by die skool aangebied. Onderwerpe soos selfontdekking, tydsbestuur, projekbestuur, konflikhantering en toekomsbeplanning maak deel uit van die program.
Vanjaar word die leierakademies aangebied by Hoërskool Bastion, Hoërskool Jeugland en Hoërskool Florida.
In die eerste twee kwartale het die leerders meer oor hulself geleer, funksionering binne ’n span, uitbranding en ook hoe om verandering te bestuur.
Leerders moes ook hul eie maatskappye stig waar elkeen in die groep ’n verantwoordelikheid het om spesifieke aspekte van ’n projek of diens te laat realiseer.
Teen die einde van die jaar moet elke maatskappy terugvoer gee oor die diens of projek wat hulle gelewer het. Sodoende kry die leerders die geleentheid om dit wat hulle geleer het ook prakties uit te voer.
Vir meer inligting, skakel Annemarie Alberts by 011 919 9038 of stuur ’n e-pos na annemariea@atkv.org.za