Nuusvrystellings

2011

ATKV-postmatriek: Breek weg en skep jou toekoms

Vir die meeste jongmense is graad twaalf ʼn mylpaal, maar nie almal is ewe seker oor wat om met hulle toekoms te doen nie. In ʼn tyd van negatiewe koerantopskrifte, ekonomiese onsekerheid en regstellende aksie, is dit belangrik om seker te maak van jou toekomsplanne en studierigting. 

Die ATKV se postmatriekjaar is seker die beste besluit wat ʼn onseker matrikulant ooit kan neem. So sê tientalle jongmense wat sedert 2009 die ATKV-Postmatriek voltooi het. Die program behels ʼn verskeidenheid aktiwiteite van buitelug-avontuur tot ernstiger sake. Dit sluit in loopbaantoetsing, kenners wat help met loopbaankeuses, besoeke aan verskillende tersiêre inrigtings en skaduwerk in die beroep waarvan jy droom.

Die organiseerder, Lizette Odendaal van die ATKV-Jeuginstituut, het rede om trots te wees op die baie interessante program wat onder meer daarop gemik is om studente straatskerp (streetwise) te maak deur verskeie kursusse. “Ons fokus op algemene lewensvaardighede, persoonlikheidsont-leding, die ontwikkeling van emosionele intelligensie, leierskapsontwikkeling en groepsdinamika-aktiwiteite. Studente kry opleiding in die belangrikheid van kommunikasie, probleemoplossing en konflikbestuur.”

Die program is daarop gemik om ʼn gebalanseerde en uitgesorteerde jongmens die grootmenswêreld in te stuur.

Die program fokus ook baie sterk op die buitelug. ʼn Bergfietskursus, skubaduik, stap- en wildernis-ekspedisies, perdehantering en ruiterkuns, waterski, witwaterroei, abseil en rotsklim en ʼn avontuurresies en -oriënteringsprogram is maar enkele van die aktiwiteite. Studente word ook opgelei in oorlewing in die veld en kursusse in lewensredding en noodhulp (vlak 1 en 2).

Alhoewel ATKV-Drakensville as basis dien, word tot soveel as vyf van die ATKV se spogoorde met hul verskeidenheid ontspanningsfasiliteite, geleë in van die mooiste dele van Suid-Afrika, deur die loop van die jaar besoek.

Francois Lombard van Springbok vertel na vyf minute in die geselskap van ʼn sielkundige besef het sy keuse is glad nie wat hy wil wees nie. “Skaduwerk het gekeer dat ek die grootste fout van my lewe maak. Ek is nog nie seker presies wat ek wil word nie, en besluit nog of ek ʼn radioloog wil word of B.Sc. Wiskundige Wetenskappe wil gaan studeer.”

Chantelle Morgan wat reeds gewerk het voor sy vir Postmatriek ingeskryf het sê, “Ek voel soos ’n blommetjie wat oopgaan. Dis asof die lewe nou vir my begin sin maak en ek die regte keuses kan maak.”

“Ons by die Jeuginstituut se leuse is dat jy nie kan word wat jy kan wees as jy bly soos jy is nie,” verduidelik Odendaal. “Met die ATKV-Postmatriek wil ons jongmense help om hul potensiaal te ontdek, seker te maak van hul toekoms en as mense te groei.”

Lus vir die ervaring van ’n leeftyd? Kliek dan vandag nog op www.atkv.org.za, of skakel vir Lizette by 011 919 9114. Haar e-posadres is lizetteo@atkv.org.za.