AbbAsorg

Alle kinders het die behoefte aan ‘n ma, kos en stimulasie – nie alle kinders in Suid-Afrika het hierdie voorreg nie, daarom het die ATKV begin met ‘n sosiaal-maatskaplike program, AbbAsorg, om op ‘n manier in die behoefte van kinders te voorsien.

* * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * *

ATKV AbbAsorg-Ooshoek se deure word amptelik geopen

Op 20 Maart 2013 is die AbbAsorg-sentrum in die NG Kerk Ooshoek-gemeente in Lakeview in Bloemfontein se deure amptelik geopen. Die sentrum het in Januarie vanjaar met 25 kinders uit die onmiddellike omgewing begin.

AbbAsorg is die sosiaal maatskaplike-projek van die ATKV waardeur die organisasie hoop om armoede te verlig. Dit fokus op voorskoolse kinders in die ouderdomsgroep 3 tot 6 jaar, en enige kind wat deur armoede geraak word, kwalifiseer om deel te wees van die projek. Me. Connie Rampai , onderburgermeester van Mangaung, het in haar toespraak gesê die Suid-Afrikaanse reënboognasie word in die projek weerspieël, en bygevoeg dat sy die projek heelhartig ondersteun.

“ ‘n Kind moet beskerm en geleenthede gebied word.”

ATKV AbbAsorg gee ‘n kind vlerke deur ‘n holistiese benadering. Die kinders kry nie net daagliks ten minste twee gebalanseerde maaltye en versnaperinge nie, maar kry ook broodnodige sosiale blootstelling en ‘n voorskoolse opvoedkundige program wat hulle skoolgereed maak.

Daar is tans ses AbbAsorgsentrums landswyd. Mnr. Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV, sê dit is die organisasie se droom om ‘n AbbAsorgsentrum in elke dorp of stad in die land te vestig. Die projek word grootliks deur die ATKV gefinansier.

Mnr. Ben Ferreira, senior bestuurder by die ATKV, het borge bedank vir hul bydrae tot die suksesvolle uitbreiding van hierdie projek. Alle skenkings word ten volle vir die projek aangewend en maak dit moontlik om ‘n volgende sentrum te kan begin.

Die ATKV is ‘n onbeskaamde Christelike organisasie en wil met projekte soos hierdie ook gesonde waardes vestig. Ds. Pikkie Maritz van NGK Ooshoek-gemeente het sy sëen oor die projek uitgespreek, en gesê hy beleef reeds veranderinge in die gemeente en gemeenskap wat direk aan die projek toegeskryf kan word.  “Dié sentrum hef mense op.”

Tydens die geleentheid het twee ATKV Abbasorg-kleuterskole, ATKV AbbAsorg Estoire en ATKV AbbAsorg Ooshoek  die gehoor vermaak met ‘n paar items en daardeur geïllustreer wat die personeel met die kinders uitrig. Dit was duidelik dat die program ‘n verskil aan die kinders se lewe maak.

Smullekker versnapering is voorberei deur ons eie spyseniers, almal opgelei tydens kooklesse wat aangebied is deur Cheryldene Lee, ‘n dienswerker by ATKV AbbAsorg Ooshoek.

Die program deur ATKV AbbAsorg aangebied volg ‘n holistiese benadering, en is die rede dat so baie bereik is in die twee  maande dat die kleuters by die sentrum is.

ATKV AbbAsorg gee ‘n kind vlerke!