NUUS

VERSLAG OOR DIE INKLUSIEWE ROL VAN AFRIKAANS, ASOOK ERFENIS, IN NASIEBOU EN VERSOENING IN DIE ATKV

  1. INLEIDING

Die direksie het versoek dat die ATKV bestuur na vore kom met 'n strategiese onderbou vir inklusiewe Afrikaans. Daarmee saam is die versoek ook dat die onlangse debat oor monumente binne die konteks van nasiebou en versoening verder beslag kry binne die ATKV.

Die ATKV het 'n duidelike beleid oor inklusiwiteit. Dit is om teen die jaar 2020 'n 50% wit uitstraling te hê teenoor 50% swart, bruin en Indiër. In kort kom dit daarop neer dat die ATKV as maatskappy die eksklusiewe benadering van die verlede bewustelik vervang met 'n beleid van inklusiwiteit. Dit sê dat ons die Afrikaanse leefwêreld van verskeidenheid en diversiteit wil nastreef om daardeur die rykheid van hierdie verskeidenheid deel te maak van die maatskappy.

Kyk mens na die Afrikaanse huistaalsprekers dan bly die sensussyfers van 2011 hieroor mense oor die spektrum van ons land steeds verras:

  • 3,4 miljoen bruin Afrikaanse huistaalsprekers       - 50%
  • 2,7 miljoen wit                                                      - 40%
  • 602 100 swart                                                       - 9%
  • 58 7000 Indiër                                                       - 1%.

Wanneer daar dus gepraat word van inklusiewe Afrikaans spreek die syfers vanself.

Verplaas mens dit na die terrein van die Afrikaanse kultuur in die breë, is dit vir ons duidelik dat nasiebou en versoening nie net talle uitdagings bied nie, maar juis dat die talryke geleenthede hiervoor ons in die gesig staar. Die ATKV het oor die jare 'n praktyk opgebou wat konkreet aan ons Afrikaanse verskeidenheid gestalte gee. Tog bly die vrae haper, die debatte voortgaan en duur onbegrip en polarisasie voort. Dit geld vir die land in geheel, en ook op die Afrikaanse terrein.

Afrikaanse koerantartikels[1] spreek voortdurend die kwessies aan, om van die kommentaar op die artikels nie eers te praat nie. Ook in die Engelse koerante word die problematiek van Afrikaans uitgelig.[2] Die standpunte en verstaan van Afrikaans se inklusiwiteit loop nog taamlik uiteen. Daarom dat hierdie dieper kyk van die ATKV op 'n goeie tyd kom.

[1] Die Ghoemas se spierwit probleem, Michael le Cordeur, Netwerk, Donderdag 16 April 2015.
Hoekom is net wit Afrikaanses hier? Caryn-Ann Nel, Netwerk, Dinsdag 28 April 2015.
Waar is die bruinmense se stem? Wannie Carstens, Netwerk, Dinsdag 21 Julie 2015.
'n Taal is bevry, Michael le Cordeur, Die Burger, Julie 2015.
Op pad van 'n verdeelde na 'n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening, Wannie Carstens, Litnet Akademies Jaargang 10(1), 15 Maart 2013.
[2] "Afrikaans is not entirely African - time to rebrand", Bo Mbindwane, News24 Voices, Sondag 7 Junie 2015.
"Protest for the taal - but is it really at risk?" Jan-Jan Joubert, Sunday Times, 7 Junie 2015.
"War talk won't end language row", Mary Metcalfe Mail and Guardian, 5 Junie 2015.

 

  1. DIE ATKV SE BENADERING TOT INKLUSIEWE AFRIKAANS

Die twee standpunte wat die spektrum van Afrikaans se inklusiwiteit goed verwoord, is dié van Proff. Hein Willemse en Danie Goosen.
Prof. Hein Willemse[3] stel die volgende:

  • Ons land se kulturele toekoms berus op 'n onomkeerbare proses van kreolisering. Anders as in die vorige periodes van hierdie land se ontwikkeling vermoed ek dat daar nou en in die toekoms toenemend minder statutêre en morele hindernisse op die weg van toekomstige kreolisering sal wees.
  • Op 'n mees basiese vlak was apartheid met sy geweld en sy stringe wetgewing die uiterlike demonstrasie van die vrees vir mélange, die vrees vir die historiese gang van sake en op die lange duur was dit futiel.
  • Kreolisering is in die verlede dikwels gesien as afwyking, as gebrekkigheid, as besoedeling; en in Suid-Afrika, waar ons erg gely het onder dominante opvattings oor suiwerheid en kulturele en talige essensies, moet ons opnuut kyk.
  • Hierdie land se grootste bate is dat hy kultureel divers is en dat mense van uiteenlopende agtergronde in hierdie land leef. Ons moet aanvaar dat daardie diversiteit alles in ons land gaan beïnvloed - ook ons tale. Maar kreolisering is meer as net vermenging van tale. In wese behels dit die vorming van nuwe kulture.

Prof. Danie Goosen[4] huldig 'n ander standpunt.

  • Willemse se toestand van kreolisering verteenwoordig egter nie bevryding nie, maar ten diepste 'n totalitêre benadering jeens verskille. In die naam van sy idee van veelheid (kreolisering) word juis 'n verstikkende eenheid op almal afgedwing.
  • Dit is 'n eenheid waarin daar geen ruimte vir die kultuurgemeenskappe gelaat word om hulle te bevestig of maar net gewoon te wees nie. "Kreolisering"  word nou 'n hoogste plig. Enigeen wat nie aan sy eise voldoen nie, sal met die dodelike oordeel van "rassis" en "etnosentris" getref word.
  • Willemse en sy geesgenote lewer deurgaans 'n apologie vir 'n sogenaamde "oper, ruimer" Afrikaans. Hierdie apologie het egter niks met werklike openheid uit te waai nie.
  • 'n Oop en skeppende Afrikaans kan slegs binne die ruimte van omskrewe grense bestaan, net soos wat 'n skaakspel slegs binne die ruimte van bepaalde reëls gespeel kan word. Willemse se kreoolse voorspraak beteken nie groter openheid nie, maar eerder die ongeldigmaking van Afrikaans.'
  • Die kreoolse afkeer van vorm en begrensing gaan  (in weerwil van heftige gebare tot die teendeel) gepaard met 'n afkeer van enige vorm van taalpolitiek. Taalpolitiek wêreldwyd beteken immers om grense te bepaal of tussen verskillende grense te bemiddel. In die mate waarin Willemse hom egter van enige vorm van begrensing wil losmaak, in daardie mate stel hy hom juis buite die taalpolitiek.

Die ATKV se praktyk is een waar taaldiversiteit erken en prakties uitgevoer word. Dit geld nie net vir moedertaalsprekers nie, maar juis ook die erkenning van 'n groeiende tweede en ook derde taalsprekers. Tussen die twee punte op die spektrum sal die ATKV se strategie verder begrond behoort te word.

[3] Verandering en toekoms: om 'n kreoolse Afrikaans te bedink, Hein Willemse, Litnet, 8 Oktober 2009.
[4] Kreolisering dwing 'n verstikkende eenheid af, Danie Goosen, Rapport, 18 Oktober 2009.

  1. VERSOENING

Wannie Carstens[5] trek die Afrikaanse gesprek in by versoening in ons land. Hoe raak hierdie stappe versoening vandag in Suid-Afrika, veral versoening tussen swart, wit en bruin sprekers in Afrikaans?

  • Weereens is die proses wat gevolg moet word, van groot belang, sê hy.
  • Die luister met 'n oop gemoed, die aanhoor van slegte ervarings, die oopstel vir en die skep van oop kommunikasie tussen swart, wit en bruin sprekers, die luister na mekaar se persepsies en ervarings van en oor die verlede, die gelyke behandeling van mense (die menswaardigheid waarvan die Grondwet melding maak), erkenning van onreg wat gepleeg is en ook boetedoening deur bemagtigende optredes by die voorheen benadeeldes.

Hy haal Leon Wessels[6] aan waar hy sê:

"Versoening is 'n duur woord. Dit word goedkoop gemaak wanneer dit as politiek korrekte woord oor ons lippe rol. Indien dit nie gepaard gaan met 'n begrip (of ten minste 'n ernstige poging om te begryp) van die pyn wat die verlede veroorsaak het nie, rol versoening soos water van 'n eend se rug."

Carstens haal ook DA-politikus Wilmot James[7] oor versoening aan",

"As a nation, we don't really understand each other. We might think we do, or we may presume that it doesn't matter if we don't, but it regularly leads to situations where, when we engage with each other in important conversations, we end up talking past each other in mutual incomprehension. Because we don't grasp the historical or cultural foundations upon which others speak, we try to communicate with only our own perspective in mind, never that of the neighbour we interact with."

James vra meer as net 'n emosionele belewing. Meer as dit is nodig: daar moet iets meer blywend wees, iets sterkers:

"We need knowledge of each other. We need insight into one another's circumstances. We need understanding. We need empathy. We need to be able to see the world through each other's eyes. It will not be easy. It will take time. It requires hard work. It requires commitment and real investment. We need to take an interest in the histories, languages, experiences and cultures of the people around us...To achieve reconciliation's objectives, why not ask your neighbour to tell their stories so that everyone can begin to give a damn about one another's welfare."

Ons kan nasiebou byvoeg by hierdie benaderings tot versoening. Dit is ook 'n werkbare maatstaf vir die ATKV uitstraling op al haar terreine. Ons verskillende projekte in ons vier fokusse kan substantief hieraan gemeet word. Verder kan dit ook as onderbou vir die kultuurmatriks dien.

Nasiebou en versoening is kernelemente in ons visie. Met hierdie uiteensetting kan ons begin werk aan 'n konkrete strategie vir die ATKV.

[5] Carstens, Die rol van die ATR in die proses van versoening...,op 25.
[6] Leon Wessels, My voete loop na Worcester, waar versoening lewe kry, Beeld, BY, 20 Oktober 2012.
[7] Wilmot James, "We so easily talk past each other," The Star, 14 Julie 2012.

  1. KULTUURERFENIS

"Wie moet ons kultuurerfenis bewaar?" Mediaverklaring, Erfenisstigting 8 April 2015.

“Volgens me. Sonja Lombard, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, is die aanslag van studente, sogenaamde politici, opportuniste en gewone vandale op ons openbare gedenktekens en standbeelde die afgelope paar weke, eerder verdelend as versoenend en vernietig dit enige vorm van nasiebou waarop ons nog enigsins kon hoop.

Sy was van mening dat indien hierdie optredes sou voortduur daar binnekort geen sprake van 'n unieke en onhernubare erfenis gaan wees waarop die bewaringswet (Wet 25 van 1999) aanspraak maak nie.

Die bewaring van bedreigde erfenishulpbronne wat veral (maar nie eksklusief nie) vir die Afrikaner en Afrikaanssprekendes van kultuurhistoriese waarde is, is die hoofdoel vir die onstaan van die Erfenisstigting. Volgens Lombard is dit dus hierdie organisasie se morele plig om nou toe te sien dat daadwerklike debat met wetstoepassers gevoer word en 'n oplossing gevind word."

Die Nasionale Erfenisraad (National Heritage Council -NHC) is die implementeringsagentskap van die regering deur die Departement Kuns en Kultuur. Hulle strategieë en programme word belyn met die Nasionale Agenda van die regering.

Die omgewingsanalise op die NHC se webwerf meld die volgende:

  • "As a country with a myriad of racial and cultural groups, South Africa is still struggling to find a cultural and social identity of its own.
  • To a certain extent, the South African cultural landscape is a blend of both East and Western cultures hence the country is referred to by others as three countries in one.
  • A section of the population whose lifestyle reflects that of a first world economy is prone to reflect values associated with the West while those that can be defined as living as third world country, their lifestyle would reflect traditions and practices that rely more on Indigenous Knowledge Systems.
  • Those that live a lifestyle of a second or developing country reflect social practices of both the First and the Third worlds. Of importance is that with this convoluted social system, government advocates for tolerance and appreciation of diversity of cultures among all citizens of the country."

Dis van belang om kennis van te neem in ons konteks van nasiebou en versoening.

Die analise konkludeer:

  • “The NHC is better placed to position heritage as a tool for socio-economic transformation of South Africans in support of the national development plan stated below:
  • The aim is not to create a melting pot where individual, religious, cultural and other differences disappear, but rather a society where a shared South African identity, without detracting from our diverse multiple identity” (National Planning Commission (2011), p 413).
  • National heritage will be taken from the periphery and placed in the mainstream of the transformation agenda of government and thereby effectively responding to national priorities of government and more particularly the National Development Plan.”

Dit is belowend vir die ATKV om in pas te bly met die NHC oor kultuurerfenis. Twee aspekte wat perspektief bied hieroor is:

4.1 Die visie van die NHC: "To build a nation proud of its African heritage."

"We will know that we are achieving this when South Africans experience the following:

  • Knowledge about heritage
  • Have access to their heritage
  • Benefit from heritage
  • Utilise heritage in their lives
  • Behave in a way that demonstrates their pride in heritage."

4.2 Die Erfenisstigting kry nie befondsing van die NHC nie en skakel nie eintlik met die NHC nie.

Die "African" erfenis kan 'n stewige basis wees, maar hier is konkrete gesprek met die regering sowel as die NHC nodig. Die ANC se algemene benadering wat ook deur die regering verwoord word, is: "Blacks in general, and Africans in particular." Die eng definisie van "African" moet aangespreek word.

Ons sal die Erfenisstigting se ervaring met die NHC ernstig moet opneem en ons beleid sal die twee partye bymekaar kan bring. Dit sal heelwat verg, maar die ATKV se betrokkenheid hierby behoort 'n goeie bydrae te kan maak. Die Erfenisstigting se beplanning vir 2015/1016 stel dit so:

"Die Erfenisstigting (ES) moet homself binne die volgende 2-3 jaar posisioneer as die hoofrolspeler in die volhoubare bewaring van tasbare kultuurhistoriese erfenisse wat veral vir die Afrikaanssprekende deel van die bevolking van belang is. 

Die ES is die enigste bewaringsliggaam van sy soort in die land en vervul ʼn kritiese rol en gaping in die bewaringswêreld van die Afrikaner en Afrikaanse kultuur."

Hier word konkreet by die ATKV se benadering van inklusiewe Afrikaanse taal en kultuur aangesluit.

  1. KONKLUSIE

Terwyl die drie fokuspunte baie nou bymekaar aansluit, is dit gewens om hulle afsonderlik te behandel binne die konteks van hul samehangendheid. Die onderlinge invloede op mekaar is 'n direkte uitvloeisel van die ATKV se visie, missie en strategieë.

Die direksie het die volgende riglyne aanvaar as fasette wat deel kan uitmaak van die ATKV se 2016/2017 strategieë.

Die ATKV staan in diens van die totale Afrikaanse gemeenskap en die breë Suid-Afrikaanse samelewing. Die Afrikaanse mark dien as die ATKV se primêre mark.

Die ATKV funksioneer binne die multikulturele samelewing van Suid-Afrika en om daaraan gestalte te gee, gaan die ATKV voort om as fasiliteerder op te tree met ander kulture in Suid-Afrika. Daar moet ruimte geskep word om multikulturele gesprekvoering en handevat binne die Suid-Afrikaanse samelewing te fasiliteer.

Die erfenisaspekte in die taal- en kultuurhooffokusse van die ATKV moet geposisioneer word om die erfenisstrategie te inkorporeer.

ʼn Veelvoudige erfenisstrategie moet bevorder word om menings te verander, meer konkreet te wees en volkome deel van die debat uit te maak.

ʼn Beleidstandpunt wat die direksie stel, is dat die ATKV Afrikaanse belange bevorder binne die konteks dat Afrikaans deel van die breër Suid-Afrikaanse samelewing is en met ondersteuning van en beywering vir die belange en aspirasies van ander taal-en kultuurgroepe.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF