NUUS

Megan-Geoffrey Prins wen ATKV-Muziq

Medium-1644

            Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, oorhandig Megan-Geoffrey Prins se prys aan hom.

Megan-Geoffrey Prins (26), die algehele wenner van die nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie  ATKV-Muziq, was ses jaar oud toe hy van sy ma se Unisa-klavierboeke nader getrek het en begin het om klavier te speel.

Deesdae sal jy hom vind agter ’n klavier in die Instituut van Musiek in Cleveland, Amerika, waar hy besig is met sy doktorsgraad onder die wakende oog van Antonio Pompa-Baldi.

Megan het Saterdagaand in Potchefstroom met R68 500 weggestap toe hy nie net as die algehele wenner aangewys is nie, maar ook die beste vertolking van ’n barok of klassieke werk gelewer het.

“Ek is baie opgewonde,” sê die oud-student van die Universiteit Stellenbosch.

Vir Megan maak dit nie saak hoe groot of klein die kompetisie is waaraan hy deelneem nie – hy is altyd op sy senuwees.

“Maar ’n mens het dit gevoel nodig. Stres veroorsaak darem nie dat ek kramp nie.”

En wat gaan Megan met sy prysgeld doen? “Dit gaan vir my studies,” sê hy sonder om te aarsel.

Die ander musici wat na die eindronde deurgedring het, was Tatiana Thaele (fluit),  Sulayman Human (klavier), Feroll-Jon Davids (klarinet) en Marnus Greyling (orrel).

Tatiana het die tweede plek en Sulayman die derde plek verower.  

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.  

Medium-1613

                    Megan-Geoffrey Prins se vingers hardloop Saterdagaand tydens die ATKV-Muziq-finale oor die note.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF