NUUS

Filmverse 2 nou op DVD beskikbaar

filmverse2Filmverse 2, die tweede aflewering van die digkuns-animasieprojek wat die ATKV aangepak het in samewerking met Diek Grobler, se première is op Vrydag 26 Augustus om 13:00 by die kykNET-Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad.

Altesaam 12 Afrikaanse gedigte is deur 12 animasiekunstenaars, of groepe kunstenaars, geanimeer en daarna is dié 12 gedigte ook vertaal en die klankbane van die animasiefilms oorgeklank in Engels, Zoeloe en Sesotho. Diek Grobler is die kreatiewe regisseur en die uitvoerende vervaardiger vir die ATKV is Nita Cronjé. 

Die 12 gedigte is:

Jeanne Goosen se My mamma is bossies, geanimeer deur Naomi van Niekerk; 

Nathan Trantraal se Geel walvis, geanimeer deur Alida Bothma; 

DJ Opperman se Stad in die mis, geanimeer deur Jac en Wessel Hamman; 

Elisabeth Eybers se Busrit in die aand, geanimeer deur Arnaud van Vliet: 

Andries Bezuidenhout se Perron, geanimeer Marinda du Toit en Tessa Louw; 

Boerneef se Die berggans het ʼn veer laat val, geanimeer deur Erentia Bedeker; 

Heilna du Plooy se Afrikaan in Nederland, geanimeer deur Hanno, Dewald en Roger van der Merwe; 

Martjie Bosman se Nagte in die tuine van Spanje, geanimeer deur Theresa Jo Wessels; 

Joan Hambidge se Smoke gets in your eyes, geanimeer deur katty vandenberghe en Anni Snyman; 

Marlise Joubert se Groet, geanimeer deur Charles Badenhorst; 

Johann de Lange se Wisseling, geanimeer deur Michéle Nigrini; 

Ronelda S Kamfer se Vir die voëls, geanimeer deur Diek Grobler. 

Soos met Filmverse verlede jaar is die oogmerk met dié projek om ʼn forum te skep vir onafhanklike animasie in Suid-Afrika; om Afrikaanse poësie meer sigbaar en toeganklik te maak; en om animasiefilms van internasionale gehalte te maak. 

Die 2015-weergawe van Filmverse het nie net aan dié vereistes voldoen nie, maar is plaaslik op drie kunstefeeste benoem in die kategorie beste bydrae tot die visuele kunste. Op internasionale vlak het dié eerste projek ook uitstekend gevaar: Naomi van Niekerk, een van die animeerders, het op die 2016 Annecy-animasiefees, die grootste internasionale animasiefees ter wêreld, die prys ontvang vir “beste eerste film” vir haar animasie van Ronelda Kamfer se ʼn Gewone blou Maandagoggend.

Charles Badenhorst was met Adam Small se What abou’ de lô die wenner van die Weimar-poësie-filmprys in Duitsland en het ook ʼn spesiale jurieprys vir dié animasie gekry op die Festival Silêncio in Portugal. Boonop is Filmverse op animasiefeeste in Rusland, Nederland, Frankryk en Portugal vertoon. 

Filmverse 2 is ook te sien op die Aardklop- Nasionale Kunstefees van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom, en daarna op al die nasionale kunstefeeste tydens 2017. 

Die Filmverse 2-DVD kos R120 en kan bestel word by Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of hanneliev@atkv.org.za

Vir meer inligting kontak Nita Cronjé by 011 919 9087 of nitac@atkv.org.za.

Kyk die lokprent hier

 


 

| Terug

SOEK

KATEGORIES

ARGIEF