NUUS

Internasionale Moedertaaldag: Wen met #MyTaal

My taal help my om flink te dink. My taal laat my presteer. My taal laat my tuis voel. Met my taal kan ek wen.

Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier en die ATKV wil weet: Wat beteken jóú moedertaal vir jou?

Gebruik #MyTaal en skryf ‘n kort sin of slagspreuk op een van ons sosialemediaplatforms oor wat jou taal vir jou beteken en jy kan een van drie #MyTaal-pryse wen:

• 1ste plek: R500 kontantprys, boekpryse ter waarde van R350 en 'n #MyTaal-geskenkpak

• 2de plek: R300 kontantprys, boekpryse ter waarde van R250 en 'n #MyTaal-geskenkpak

• 3de plek: R200 kontantprys, boekpryse ter waarde van R150 en 'n #MyTaal-geskenkpak

Vanjaar wil die ATKV oudergewoonte weer die gesprek oor moedertale en moedertaalonderrig op die agenda plaas om die belangrikheid van moedertaalonderrig by almal, veral ouers en voornemende ouers, tuis te bring.

Die ATKV vier elke jaar Internasionale Moedertaaldag deur die bewusmaking en viering van alle moedertale. Daar word gesing, gedans, gelees en gedeel in verskeie tale. Gesprekke word ook gevoer oor temas soos Insluiting in en deur opvoeding: tale tel (2015) en Kwaliteitopvoeding, onderrigtaal (of -tale) en leeruitkomste (2016). Klem word nie net gelê op die belangrikheid van die bewaring van moedertale nie, maar ook op die kardinale belang van moedertaalonderrig vir kinders.

Op 17 November 1999 het Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) die heel eerste Internasionale Moedertaaldag aangekondig. Sedertdien word Moedertaaltag elke jaar op 21 Februarie gevier. Die datum is nie om dowe neute gekies nie, maar verteenwoordig die gebeure op 21 Februarie 1952 toe vier jong studente in Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, dood is weens konflik tussen Bengali- en Urdu-sprekers. Die studente het geveg vir die reg om in hul moedertaal gehoor te word, en die datum is ook tot openbare vakansiedag verklaar in Bangladesj.

Soos Unesco inderdaad sê: “Tale is die kragtigste manier om kultuur te bewaar en te ontwikkel en om dit regoor die wêreld te bevorder.” Internasionale Moedertaaldag is ook ʼn manier om die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld te beklemtoon, mense aan te moedig om ingelig te wees oor hul moedertaal en die fokus te laat val op die bewaring van kultuur en erfenis. 

Die kompetisie begin op 14 Februarie en wenners sal op 21 Februarie aangekondig word.

Kontak Rozeldi Trollip by 011 919 9006 of stuur 'n e-pos aan RozeldiT@atkv.org.za vir meer inligting.

* Stel jy belang om jou by die ATKV aan te sluit? Jou R76.50 ’n maand stel ons in staat om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder deur middel van ons projekte. Vir meer oor lidmaatskapvoordele en om aan te sluit klik hier

 

| Terug

SOEK

KATEGORIES

ARGIEF