NUUS

ATKV-Handevat: Kreatiwiteit uit ’n rommeltrommel

Harte uit leë koeldrankblikke. Krale en nagemaakte oliebolle uit herwonne eierhouers. Badsout uit laventel. Dit is maar net van die produkte wat die makers daarvan ’n tweede plek in die ATKV-Handevatkompetisie besorg het.

Die leerders van die Hoërskool Vaalharts in Jan Kempdorp het in 2016 onder leiding van Annatjie von Below tien rommeltrommelprojekte aangebied by die Vaalharts- Gekombineerde Skool. Daar is gewoeker met rommel om produkte te maak en uiteindelik is daar ook “iets van entrepreneurskap in die kinders wakker gemaak”.

“Ons is so bly oor die geleentheid,” vertel ’n opgewonde mnr. Gerrie Erasmus, skoolhoof van die Hoërskool Vaalharts.

Juffrou Annatjie wat as die rots van die projek beskryf word, sê self sy kan niks weggooi nie en die projek was volgens haar skoolhoof “reg in haar kraal”.

Die leerders van die twee skole het een keer elke twee weke bymekaargekom en dan is daar vir die vale gespoeg en geplak. Buikbare, gesogte artikels is tydens werksessies deur vrywillige leerders van albei skole geskep en die flukse leerders het dan hierdie artikels verkoop.

Volgens mnr. Gerrie was dié projek een wat brûe tussen die onderwysers van die twee skole gebou het. “Dit was ’n natuurlike uitreik en die personeel het behoorlik geskrop om van die projek ’n sukses te maak.”

Daar is egter nie net mooi artikels uit rommel gemaak nie. Laventelplantjies en spekbome is by die Vaalharts Gekombineerde Skool in ou buitebande geplant om die leerders te leer hoe om steggies te kweek en hoe om produkte soos badsout uit laventel te maak. Spekbome is baie suurstofryk en dra positief by tot die probleem van lugbesoedeling in die gemeenskap en op die koop toe kan dele van die boom in kosdisse gebruik word.

“Dit was vir die kinders ’n belewenis. Hulle het ’n vermoë in hulself ontdek en so saam met die kreatiwiteit is daar ook verhoudings gebou,” spog juffrou Annatjie.

Die Hoërskool Vaalharts het aanvanklik R3 000 as aanvangskapitaal van die ATKV ontvang om die projek ’n hupstoot te gee. Dié geld is gebruik om onder meer toerusting en benodigdhede soos gom, kwaste, verf, hamers, spykers, tou te koop.

Die twee beoordelaars wat die land vol gereis het en 12 Handevat-projekte moes evalueer, was dr. Charles Viljoen (senior lektor aan die Skool vir Opvoedkunde by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit) en JJ van Niekerk (handelsmerkbestuurder by Forever Friday).

JJ meen dat die vaardigheid wat tydens hierdie projek aangeleer is, die leerders vir ewig sal bybly en bemagtig om entrepreneuriese vaardighede as oplossing te bied tot sosio-ekonomiese vraagstukke.

“Julle passie is aansteeklik en jul leef die skool se leuse voluit: Arbeid oorwin alles!”

Die Hoërskool Vaalharts en Vaalharts Gekombineerde Skool ontvang elk R20 000 as prysgeld om terug te ploeg in die gemeenskap. Die pryse word op Maandag 27 Februarie by Hoërskool Vaalharts oorhandig.

Die kriteria waarvolgens die ATKV-Handevatprojekte beoordeel word, is soos volg:

•    Albei skole moet verantwoordelik wees, help met die beplanning en ook betrokke wees by die uitvoer van die projek.

•    Die projek moet in die minder bevoorregte gemeenskap uitgevoer word.

•    Die projek moet tot voordeel van die hele minder bevoorregte gemeenskap wees, en nie net voordelig wees vir ’n gefokusde groepie nie.

•    Dit moet ’n volhoubare projek wees.

Die sluitingsdatum vir 2017 se ATKV-Handevatkompetisie is 31 Maart. Besoek gerus die webwerf vir meer inligting oor ATKV-Handevat. Kontak vir Lizané Basson by 011 919 9078 of stuur vir haar ’n e-pos. – Reza van Rooyen

| Terug

SOEK

KATEGORIES

ARGIEF