NUUS

ATKV-Handevatwenners se lig skyn helder

Te danke aan ’n goeie skoot deursettingsvermoë, spanwerk, ’n duidelike visie en padkaart is Ripple Reading en Blair Atholl Primary Farm School as die wenners van die ATKV-Handevatkompetisie van 2016 aangewys.

Die twee vennote het reeds in 2014 na mekaar hande uitgesteek om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Dié vennootskap se tema is Thuto ke Lesedi/Education is light! En een ding is seker hul lig skyn helder.

Riana Robinson van Ripple Reading vertel dat dié nie-winsgewende organisasie ’n passie vir kinders en vir lees het. “Ek het ná jare uit die onderwys teruggegaan en was geskok oor hoe sleg die begrip van die meeste kinders was en dat daar so baie was wat uiters swak of glad nie kon lees nie.”

Ripple Reading se program is deur Joan de Beer, ’n onderwyser en opvoedkundige sielkundige met dekades se ervaring, ontwikkel.

Blair Atholl Primary Farm School in Kromdraai naby die Lanseria-lughawe bedien ’n gemeenskap met uiters karige inkomste en die leerders is verteenwoordigend van verskillende kulture en tale met lae geletterdheidsvlakke en ’n permanente oorlewingstryd.

In 2015 is dié twee instansies met die derde plek in ATKV-Handevat beloon en hulle het toe behoorlik skouer aan die wiel gesit en hul werk het duidelik vrugte afgewerp.

“Ons program is innoverend en die kinders geniet dit vreeslik. Die sukses wat ons reeds behaal het, maak ons opgewonde oor die moontlikhede.”

Die Ripple Reading-leessentrum en -program by Blair Atholl is verbeter en funksioneer nou op sy beste. Elke leerder word voor en ná die program geëvalueer en daar word spesifiek op lees met begrip gelet. Kgadi Mogai, ’n oudleerder, ouer en deel van die onmiddellike gemeenskap, is die opvoeder by die sentrum en studeer vir haar onderwysgraad deur Unisa. 

Die ontwikkeling van geletterdheid word verder uitgebrei deur te fokus op die begripsvaardighede van Engels deur middel van dramalesse. 

Onderwysers word ook in die toepassing van die 6 bricks-lesse met ses Lego-blokkies opgelei.

Daar is ook die eerste keer in die skool se geskiedenis skoolkonsert gehou! Vrywilligers uit die gemeenskap het die opvoeders en leerders gehelp en die konsert het oor ’n biblioteek gegaan.

“Almal wat kan, moet ’n verskil maak. Ek glo dat dit meer doeltreffend is om in samewerking met die gemeenskap ’n verskil te maak. Albei partye het baie om te leer en te gee. Samewerking maak die las ligter.”

Die twee beoordelaars wat die land vol gereis het en 12 Handevat-projekte moes evalueer, was dr. Charles Viljoen (senior lektor aan die Skool vir Opvoedkunde by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit) en JJ van Niekerk (handelsmerkbestuurder by Forever Friday).

“Julle projek is prakties en word uitgeleef. Dit is meetbaar en word baie kreatief met soveel ander vaardighede en aktiwiteite geïntegreer dat ek werklik stomgeslaan is hierdeur,” sê JJ.

Ripple Reading en Blair Atholl Primary Farm School ontvang elk R30 000 as prysgeld om terug te ploeg in die gemeenskap.

 Die kriteria waarvolgens ATKV-Handevatprojekte beoordeel word:

  • Albei skole moet verantwoordelik wees, help met die beplanning en ook betrokke wees by die uitvoer van die projek.
  • Die projek moet in die minder bevoorregte gemeenskap uitgevoer word.
  • Die projek moet tot voordeel van die hele minder bevoorregte gemeenskap wees, en nie net voordelig wees vir ’n gefokusde groepie nie.
  • Dit moet ’n volhoubare projek wees.

Die Hoërskool Vaalharts en die Vaalharts- Gekombineerde Skool was tweede met hul projek Kreatiwiteit uit ’n rommeltrommel.

Alexander Road High School en die Republiek Primêre Skool is as die derdeplekwenners aangewys.

Die sluitingsdatum vir 2017 se ATKV-Handevatkompetisie is 31 Maart. Besoek gerus die webwerf vir meer inligting oor ATKV-Handevat. Kontak vir Lizané Basson by 011 919 9078 of stuur vir haar ’n e-pos. – Reza van Rooyen

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF