NUUS

Christia Visser maak rolprent oor sekswerker haar eie

Christia Visser vertolk die hoofrol in Tess, ’n rolprent gegrond op Tracey Farren se boek WhiplashTaalgenoot het met haar gesels:

Hoe sal jy Tess opsom?
Dis ’n rolprent oor ’n sekswerker wat met die spoke van haar verlede moet vrede maak sodat sy ’n beter toekoms kan hê...

Watter soort voorbereiding het jy vir jou rol in Tess gedoen? 
Ek het die voorreg gehad om met sekswerkers te gesels en na hul stories te luister om beter te verstaan waar hierdie vroue hulself bevind en hoekom. Ons het ’n maand lank gerepeteer in die spasie waar Tess leef, wat my al hoe nader aan haar gebring het. Verder het ek tyd geneem om stil te raak en haar hart binne myne te probeer vind...

Hoe groot verskil maak dit in ander mense se lewens om stories soos die van Tess en Alison te vertel? Wat dink jy is die impak van dié rolprente?
Ek dink dit herinner ’n mens aan wat werklik om jou gebeur. Dat jy nie moet oordeel nie, want jy weet nooit wat iemand deurgemaak het nie. Dit herinner ons dat ons moet help waar ons kan. Ons probeer almal van die kwaad in die lewe wegbly en ek verstaan hoekom, maar as ’n mens stories vertel waar mense uit onmoontlike situasies ontsnap en steeds sterker daaruit opstaan, herinner dit jou aan die lig aan die einde van die tonnel. Ek dink in baie maniere maak dit ons las ligter en gee ons hoop.

Tess en Alison was gewigtige rolle. As akteur ervaar jy baie verskillende emosies in ’n kort periode. Hoe oorkom jy die hartseer, woede en angs nadat ’n rolprent klaar verfilm is? 
Ek is baie gelukkig dat ek ’n ongelooflike familie en vriende het wat my deur alles bystaan en herinner aan wie ek werklik is. Dit vat tyd om deur so iets te werk en ’n mens kan dit nie alleen doen nie... Ek probeer elke nuwe emosie ten volle voel voordat ek dit in ’n boksie vir toekomstige gebruik pak. Ek glo dis nodig om deur dinge te werk eerder as om dit te ignoreer.

Tydens die Durbanse Internasionale Filmfees en by die kykNET-Silwerskermfees, het Tess ’n rits toekennings ontvang, onder andere vir beste aktrise. Wat beteken dié toekenning vir jou? 
Dit is altyd lekker om erkenning te kry as jy jou hart en siel in ’n projek ingesit het. Dis lekker om te weet dat mense dit raaksien en dat hulle ook daardeur geraak is. Dit maak al die moeilike tye die moeite werd.

Wat wag vir Christia Visser? Waarna kan fliekvrate en aanhangers uitsien?
In hierdie stadium natuurlik Tess, wat 24 Februarie in teaters begin draai en dan net ’n paar maande daarna, The Recce op 16 Junie. Daarna sien ek ook vreeslik uit.

Hoe voel jy oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf in hierdie stadium?
“Ek is ongelooflik opgewonde oor die bedryf. Ons groei in styl en storie, ons raak vreesloos en ek is trots en geëerd om deel van so ’n inspirerende tyd te kan wees.”

Tess begin 24 Februarie in teaters wys. Koop vandag vir jou ’n kaartjie!
 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF