NUUS

Deidre Le Hanie aangestel as nuwe besturende direkteur


Die ATKV het bekend gemaak dat Deidre Le Hanie vanaf 1 Junie 2017 die nuwe besturende direkteur van die ATKV is. Sy sluit reeds op 1 April 2017 by die maatskappy aan.

Sy volg Japie Gouws, wat aan die einde van Mei 2017 die tuig neerlê, op.

Deidre Le Hanie was sedert 1998 verbonde aan Bytes Managed Solutions, deel van die Altron-groep. Sy was tot Desember 2004 die finansiële direkteur van die maatskappy en sedert Januarie 2005 tot Februarie 2016 die besturende direkteur.

Bytes Managed Solutions lewer inligtingstegnologie-oplossings en -dienste aan hoofstroom kleinhandelaars, banke, brandstofmaatskappye en die gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika en in Afrika.

Sy het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging en groei van die maatskappy tot ’n maatskappy met ’n omset van R1,5 miljard en ’n personeelkorps van meer as 1 300 personeellede. Sy het verskeie toekennings ontvang en was die eerste vrou wat die posisies as finansiële direkteur, sowel as besturende direkteur, in die Altron-groep beklee het. Sy was betrokke by die suksesvolle omkeer van drie maatskappye tydens haar termyn as besturende direkteur.

Deidre skryf haar sukses by Bytes Managed Solutions toe aan onder meer die toewyding en die belegging in die ontwikkeling van personeel, asook die implementering van meganismes om innovasie aan te moedig en uitnemendheid te beloon.

Sy het die belangrikheid in Suid-Afrika van dit wat die ATKV doen beklemtoon en gesê dat sy baie uitsien na haar bydrae tot die suksesse en die rol van die ATKV in die toekoms. Sy vind aanklank by die visie van die ATKV en is opreg dankbaar vir die geleentheid om deel van dié besonderse omgewing te kan wees. Sy het geen twyfel dat haar lewe hierdeur verryk gaan word nie.

Anton Redelinghuis, die voorsitter van die ATKV-direksie, het Deidre gelukgewens met haar aanstelling en haar sterkte toegewens.

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF