NUUS

Tertius Kapp gee raad aan aspirant-skrywers

Tertius Kapp het al diep spore in Suid-Afrika se kunstewêreld getrap. Bekroonde dramaturg. Skrywer. En uitgewer. Taalgenoot het met hom gaan gesels oor wat hy glo aspirant-skrywers moet doen om gepubliseer te word, vroulike misdaadskrywers en hoe om die jeug te kry om meer teater toe te gaan.

***

Misdaadverhale in Afrikaans is baie gewild – gaan daar ’n tyd kom waar die mark versadig word?

Nee. Daar is altyd nuwe lesers om te ontgin en altyd nuwe stories om te vertel. Ons vind ook dat baie mense wat die eerste keer begin boeke koop, verkies misdaadverhale. Dis ook waar dat lesers van misdaadverhale binge-readers is. As hulle een gelees het, kan hulle nie wag om die volgende een te lees nie.

Daar is deesdae baie vroulike misdaadskrywers, met verwysing na byvoorbeeld Chanette Paul en Irma Venter. Hoe verskil hulle van die manlike skrywers? Die temas, ens.? Fokus hulle meer op die vroulike mark? 

Daar is wel verskille – vroueskrywers fokus meer op die binnewerke van die karakters, met die uitsondering van ’n paar, byvoorbeeld Deon Meyer. Manlike skrywers fokus meer op die detail van die ondersoek. Daar is ook gereeld romanse in die boeke van vroulike misdaadskrywers. Die fokus verskil beslis. Vroulike lesers sal meer aanklank by vroulike misdaadskrywers vind.

Enige raad aan aspirant-skrywers wat gepubliseer wil word?

Die groot fout wat baie skrywers maak, is om nie genoeg te lees nie. Verder moet jy uit jou gemaksone kom. Reis. Besoek ander lande, besoek plekke in jou eie land waar jy nog nie was nie. Gaan kyk hoe lyk dit in ’n township. Bekyk jou land vanuit ’n nuwe perspektief. En doen genoeg navorsing oor jou onderwerp.

Hoe kry ’n mens die jeug om meer teater by te woon?

Wel, vertel vir hulle stories, dan sal hulle kom. Vertel stories waarby hulle aanklank sal vind. Die Uitkampteater is ’n fantastiese inisiatief. Baie van die vorige produksies wat daar begin het, is nou vollengte vertonings. Dis ’n goeie eksperiment. – Johan Jack Smith

* Johan Jack Smith is die redakteur van Taalgenoot.
* Foto: Izak de Vries

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF