NUUS

Wilhelm van der Walt oor 'Liewer' en Anna-Mart van der Merwe

Liewer is ’n debuuttoneelproduksie op die Klein Karoo- Nasionale Kunstefees wat mense aan die praat het. Die feeskoerant, Krit, meen “dit grens aan geniaal”. Closer, die Britse dramaturg Patrick Marber se drama – waarvan Mike Nichols ’n rolprent gemaak het met Clive Owen, Julia Roberts, Natalie Portman en Jude Law – word in Liewer ’n plaaslike hoek gegee. Die rolverdeling sluit in Brendon Daniels, Anna-Mart van der Merwe, Tarryn Wyngaard en Wilhelm van der Walt.
 
Na afloop van die vertoning het Taalgenoot met Wilhelm, wat die rol van Zander vertolk, gesels.
 
Vertel ons ’n bietjie meer oor jouself: Vanwaar is jy, waar het jy gestudeer en by watter produksies is jy betrokke?
 
Ek is ’n gebore Vrystater en het in Bloemfontein grootgeword. Ek het my honneursgraad in drama en toneel by Kovsies gedoen en toe my meestersgraad in spel aan die Universiteit Stellenbosch. Ek was hierdie jaar by drie produksies, Dop, Liewer en Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa, op KKNK betrokke.
 
Waar het jou liefde vir teater ontstaan?
 
Dit het aanvanklik by rolprente begin. Van kleins af was ek versot op rolprente en siende dat my ma se werkplek langs ’n videowinkel was, het ek weekliks, selfs daagliks, net video's uitgeneem. Ek was aangetrokke tot die fantasiewêreld waarheen ’n rolprent ’n mens kon vat. En nog meer aangetrokke tot die akteurs wat daardie fantasie moes eg maak. Ek het baie teaterproduksie in Bloemfontein bygewoon en gevolglik toe drama gaan studeer.
 
Die stelontwerp van Liewer word deur oudiovisuele skerms en kameras gekenmerk. Was dit ’n uitdaging om daarmee te werk?
 
Dit was hier en daar uitdagend, maar uiteindelik het dit ’n mens se eie spel en ook die produksie ondersteun. Maar ja, ’n mens moes nogal kophou.
 
Hoe verskil teaterwerk van televisie- en rolprentwerk in terme van voorbereiding? Wat beskou jy as meer bevredigend?
 
My grootste liefde bly teater. Dit is ook wat ek nog die meeste gedoen het. Ek benader al die mediums dieselfde: om die teks so eerlik as moontlik te speel en dit wat die skrywer wil sê so goed moontlik oor te dra. 
 
Die eerlikheid van die teks in Liewer, ten opsigte van die verhoudings, laat ’n mens soms ongemaklik voel – dit dwing ’n mens tot introspeksie – hoe het jy dit ervaar?
 
Vir seker. Dis die krag van die teks. Dit raak aan soveel sensitiewe punte in terme van verhoudings dat letterlik elkeen wat dit sien geen ander keuse het as om sy eie introspeksie te volg nie. As akteur kan ’n mens jou ongelooflik baie met die teks vereenselwig en dit help om die karakter vol lewe te blaas. Hoe ongemakliker die temas, hoe beter. 
 
Hoe was dit om saam met Anna-Mart van der Merwe en Brendon Daniels te werk?
 
Dis my tweede keer saam met Brendon en dit is altyd ’n eer. Ons het al ’n groot vertroue en rapport opgebou wat dit net ’n plesier maak. Anna-Mart is ons voorste aktrise. Sy gee so baie in ’n toneel dat ’n mens as akteur soveel meer kan teruggee. Dis ’n groot vreugde.
 
Planne vir die nabye toekoms?
 
Daar is volop teaterprojekte die res van die jaar. Ek beplan om ’n draaiboekskryfkursus te doen en om as akteur meer by rolprente betrokke te raak. – Johan Jack Smith

* Johan Jack Smith is die redakteur van Taalgenoot.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF