NUUS

Kom bars uit jou gemaksone tydens ATKV-Jeugberaad

Om ’n leier te wees is soos om ’n goudvis in ’n visbak te wees – almal kyk vir jou, het iemand een keer gesê. Daarom moet jy seker wees jy weet wie jy is.

Nicolaas van der Walt was nie net ’n deelnemer aan ATKV-Jeugberaad nie, maar het ook later as groepleier en programleier diens gedoen en skryf sy selfvertroue en selfkennis onder meer toe aan dit wat hy by die ATKV-Jeugberaad geleer het.

Dit is juis hierdie kennis wat Nicolaas en ander sprekers elke jaar kom oordra wat van die  ATKV-Jeugberaad ’n móét maak, want hulle (die sprekers) weet wie hulle is en wat nodig is om sukses in die lewe te behaal.

Vra maar vir Marnus Broodryk, ’n bekende entrepreneur wat al in sy twintigs met sy eerste miljoen in die bank gespog het. 

"As leerder, onthou ek die ATKV-Jeugberaad as een groot inspirasie. Om deur soveel mense omring te word wat beter en slimmer as jy is, inspireer jou om jouself te verbeter en ek het daar besef dat alles moontlik is. Om later ná soveel jaar terug te keer as spreker was ’n groot voorreg veral om die kinders te kon leer oor wat ek gewens het ek 14 jaar terug geweet het."

Marnus glo dat al hoe ons Suid-Afrika se toekoms sal kan verander is deur aan jongmense se denke te skaaf en dit is presies waar die ATKV-Jeugberaad inkom.  

Nicolaas, ’n televisievervaardiger, het in 2009 as graad 11-leerder die jeugberaad bygewoon en sê hy was maar skaam en onseker oor baie dinge. "Maar die platform wat die ATKV vir my geskep het, het my as mens verryk en ek het daar mense ontmoet wat my lewe sou verander, my sou help deur moeilike tye, my sou ondersteun in my drome en my sou help om my drome waar te maak.

Nicolaas glo dat die ATKV-Jeugberaad vir tieners die geleentheid gee om uit hul gemaksone te bars en lewensveranderende besluite te neem. 

Gielie Hoffman, ’n lewensafrigter en geestesbreier, stem saam. 

"Die jeugberaad was 'n kopoopmaakweek in my lewe. As 17-jarige is ek blootgestel aan onderwerpe en sprekers wat my horisonne verbreed het. Ek kon leerders ontmoet van ander skole wat soos ek dink wat bondgenote jare daarna sou bly en ek het deur dit 'n verbintenis met die ATKV gevorm wat my lewe, persoon en professioneel, baie verryk het.

"Ek kon deur die jare groei van leerder, na fasiliteerder, na kursusleier tot by spreker. Elke fase het my as mens ontwikkel."

Hoëprofieldenkers in graad 11 kan die ATKV-Jeugberaad bywoon en word deur hul skool benoem. As jy belang stel om net soos Gielie, Marnus en Nicolaas geïnspireer, gemotiveer en verryk wil word, laai die registrasievorm af en vra jou skoolhoof/onderwyser om jou in te skryf.

Die ATKV-Jeugberaad vind soos volg plaas:

  • ATKV-Jeugberaad by ATKV-Goudini Spa: 3 Julie tot 6 Julie 2017
  • ATKV-Jeugberaad by ATKV-Buffelspoort: 10 Julie tot 13 Julie 2017
  • ATKV-Jeugberaad by ATKV-Klein-Kariba: 17 Julie tot 20 Julie 2017

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF