NUUS

Taalgenoot-redakteur kies sy 10 gunsteling-boeke

Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, sê hy het vandag baie meer waardering vir boeke soos Kringe in ’n Bos, Fiela se kind en Die jaar toe my ma begin sing het.

Ek moet bely, op skool, gedurende die 80’s, het ek maar min vir ontspanning gelees. Die voorgeskrewe boeke op hoërskool was al wat ek (moes) gelees het.

Vandag kyk ek anders na Kringe in ’n Bos, Fiela se kind en Die jaar toe my ma begin sing het. Ek het meer waardering. Maar as tiener was ek keelvol vir tragiese verhale, diere wat uitsterf en die hartseer en foltering van die Afrikaner. Dit het my nie oortuig om vakansietye televisie, video’s en videospeletjies vir ’n boek op te gee nie.

Dit was eers later wat ek ’n boek in die Hennenman-biblioteek ontdek het wat my belangstelling geprikkel het. Beertjie en sy Boytjies is ’n dun boekie, geskryf deur R.R. Ryger. Daai boekie het my gewys dat Afrikaans ook vreemd, anders en cool kan wees. Alternatief. Beertjie was alternatief. Vreemde karakters. En andersheid. Niks plase wat brand nie. Boere wat dweep nie. En diere wat vrek nie.

En toe verskyn Tom Dreyer se Erdvarkfontein. En daarna, toe ek ’n naweek in ’n hospitaal moes deurbring, ontdek ek X-Ray Visagie en die Vingers van God wat iemand in die wagkamer vergeet het. En toe begin ek lees. Jaco Fouché, Jaco Botha, Marlene van Niekerk en vele meer. Ek het probeer opmaak vir die jare wat ek gemis het. Ek het die wonderwêreld van boeke deur Etienne van Heerden ontdek en lees Die swye van Mario Salviati drie keer.

Ek is spyt dat ek nie meer as kind en tiener gelees het nie. Vandag, probeer ek meer Engels lees. Maar ek maak steeds tyd vir goeie Afrikaanse boeke. Ek het reeds my peuter wat amper twee jaar oud is aan boeke voorgestel. Ek het ’n leeshoekie, met gedempte lig, by die eetkamertafel ingerig. En hoewel hy in dié stadium meer daarin belangstel om die blaaie te skeur as om na die stories te luister, sal hy hopelik, net soos ek, die towerwêreld van ’n goeie boek ontdek. Hopelik ’n bietjie vroeër. 

Dis moeilik om my gunsteling-boeke te kies. Daar was ’n boek vir elke fase van my lewe, wat dalk minder betekenis vandag sal hê. Maar hier is tien Afrikaanse boeke (waaraan ek nou kan dink, aangesien ek nie naby my boekrakke is nie) wat beslis ’n rol in my lewe gespeel het en my liefde vir boeke en stories:

Hansie Slim deur Paul C Venter
Beertjie en sy Boytjies deur R.R. Ryger
Die ryk van die rawe deur Jaco Fouché
Lem deur PJ Haasbroek
Die Jakkalsjagter deur Alexander Strachan
Triomf deur Marlene van Niekerk
Boetman en die Swanesang van die Verligtes deur Chris Louw
Sweisbril deur Jaco Botha
Sewe dae by die Silbersteins deur Ettienne le Roux
Bottelnek deur Piet Steyn

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF