NUUS

Maggies Gert, kyk daai tert!

Met 300 kg se joghurt, pakke en pakke tennisbeskuitjies en jellie en agt uur se handewerk het die ATKV-jeugtak Dinamika van die Hoërskool Brandwag in Uitenhage Donderdag daarin geslaag om ’n sjokoladebrokkie-joghurt-yskastert van 4m by 4m aanmekaar te slaan.

Die lugversorgers in die personeelkamer van dié skool, wat Vrydag 21 April sy 80ste verjaardag vier, het oortyd gewerk en die dapper bakkers ook.

Die beplanning en maak van die tert het aan ’n militêre operasie herinner. ’n Perspex-gietvorm is bestel om die tert in te maak. ’n Klomp klein tafeltjies is teenaan mekaar gepak om later die sny van dié tert te vergemaklik.

Dié bakkers beplan om tussen 3000 en 4000 snytjies uit die reuse-tert te kry. Al die leerlinge sal ’n snytjie tert kry en die res gaan in die dorp uitgedeel word.

Clover het die joghurt geborg en die kinders het almal bydraes gemaak. As dié tak al die bestanddele moes koop, sou dit hulle ongeveer R23 000 uit die sak gejaag het.

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF