NUUS

Die ATKV sê dit is lekker om te lees

“Die Wêreldboekedag bied die geleentheid om die ATKV en Vriende van Afrikaans se daaglikse betrokkenheid by leesbevordering te vier,” sê Amanda de Stadler, bestuurder: Vriende van Afrikaans by die ATKV. Wêreldboekedag word sedert 23 April 1995 deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) gevier en die doel is om lees, publikasies en kopiereg te bevorder. 

Vanjaar vier die ATKV Wêreldboekedag nie net op een dag nie, maar het die afgelope week VVA-boektrommels met storieboeke vir kleuters aan Pikanini-kleuterskole in East Lynne, Wolmer, Elandspoort, Benoni en Cloetesville (Wes-Kaap) oorhandig. Tydens die oorhandiging het die kleuters geleer hoe om hul boeke op te pas aan die hand van ’n storie, Die Nagbiblioteek, wat tydens die oorhandiging voorgelees is. 

Die kleuters het ook aan ’n #MyTaal-inkleurkompetisie in die skole deelgeneem as deel van die Wêreldboekedagvieringe. Die wenners van die inkleurkompetisies het elkeen ’n #MyTaal-geskenkpak propvol pret-pryse vir hulself, asook vir hul ouers, ontvang. Dr. Theuns Eloff, voorstander van moedertaalonderrig en gerekende outeur, sê: “Om kreatief te wees, te lees en pret te hê in jou moedertaal lei na beter kognitiewe ontwikkeling en beter akademiese prestasie”. So is moedertaalonderrig saam met Wêreldboekedag bevorder en gevier. 

Die ATKV is al 86 jaar besig om taal, lees en geletterdheid te bevorder. Dit strek van Afrikaanse olimpiades, spelkompetisies, leeskompetisies en leeskringe tot slypskole vir onderwysers – en dit word nie net vir moedertaalsprekers van Afrikaans aangebied nie, maar ook vir tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.

Ons vriende by LAPA Uitgewers het ’n heerlike promosie om Wêreldboekedag te vier. Gaan maak sommer nou ’n draai op hul webwerf.

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF