NUUS

Martin Steyn oor nagmerries en die skryfproses

Martin Steyn het die afgelope drie jaar sy plek in die Afrikaanse misdaadgenre oopgeskryf.
Hy het onlangs sy eerste roman, Donker Spoor, vertaal en Dark Traces kan nou deur almal wat Engels magtig is, selfs in Amerika, geniet word. Taalgenoot het by die Vrystaat Kunstefees met hom gesels.

Baie van die tonele in jou eerste drie boeke, Donker Spoor, Skuldig en Swartval is baie grieselrig en ontstellend met tye. Hoe skakel jy as skrywer af? Draal die tonele in jou kop en beïnvloed dit jou dag-tot-dag-bestaan?

Baie mense het my al gevra of ek nagmerries kry! Dit bekommer my egter glad nie. Ek sal eerder in die bed lê en wonder wat ek vorentoe met die verhaal gaan doen en waarheen dit my gaan lei. Ek het gelukkig die vermoë om af te skakel.

Die forensiese en patologie-dele in jou boeke word in die fynste detail beskryf – hoe het jy die kennis opgedoen?

Baie navorsing, asook deur die hulp van dr. Lorna Martin. Sy doseer op die vakgebied en sy kan haar kennis baie doeltreffend oordra. Dit was ook te danke aan haar dat ek my eerste lykskouing bygewoon het. Ek het baie geleer.

Jy het Donker Spoor self na Dark Traces vertaal. Wat was die uitdagings?

Dit was moeilik om die Engelse dialoog steeds eg-Suid-Afrikaans te hou, om dit nie soos ’n Hollywood-fliek te laat klink nie. Ander dele was weer makliker. Van die swart karakters sal, realisties gesproke in elk geval Engels praat; so dit was makliker. Self al skryf ek Afrikaans, sal ek karakters wat Engels praat se dialoog eers in Engels skryf en dan Afrikaans toe vertaal. Ek glo ek het wel die essensie van die Suid-Afrikaanse karakters behou sonder om die storie af te water, al moet hulle nou Engels praat.

Geweld teen vroue, speel ’n integrale rol in jou boeke. Is daar ’n rede daarvoor?

Die meeste reeksmoordenaars se slagoffers is vroue. Toe ek sielkunde studeer het, het ek baie nou saam met Rape Crisis gewerk. Dit het my geraak. Veral in ons land word vroue nie gerespekteer nie. Ek dink as skrywer, skryf ek oor goed wat my pla – dis my manier om dit te verwerk.

* Dark Traces is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers.
 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF