NUUS

Só het jy ’n sampioen nog nooit gesien nie

Dit het alles begin by navorsing oor sampioene in die departement voedselbiotegnologie aan die Universiteit van die Vrystaat en nou kan jy die allerheerlikste sampioenresepte by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein op die proef stel.

En moenie dink dat jou palet maar net tevrede gaan moet wees met knopiesampioene nie. Daar is sampioenhalloumi, sampioen-fritters en gourmet-sampioenskyfies – alles gemaak met eksotiese sampioene. Ruan Viljoen is die brein agter dié heerlike resepte.

Christopher Rothmann gesels passievol oor die Mushroom House wat begin het in ’n wetenskaplaboratorium. Hy ryg akademiese terme uit en vertel opgewonde dat sampioene nie net lekker is om te eet nie, maar ook medisinale eienskappe het.

"Sampioene is ’n dinamiese organisme en is die primêre ontbinders in die voedselketting," sê hy. Dié eksotiese sampioene gee bv. jou immuunsisteem ’n bietjie skop, is propvol proteïene en is ook ’n anti-oksidant.

Christopher vergelyk die sampioen-industrie met dié van boetiekbier. "Net soos bier het almal eers net een of twee soorte geken – bv. witknopiesampioene – deesdae duik name soos sjiitake-, enoki- en bruin sjimeji-sampioene in resepte op."

Die Mushroom House se stalletjie is twee jaar terug as die beste kosstalletjie op die Vrystaat Kunstefees aangewys en wanneer ’n mens daar sit en die geurige reuke jou neuse kom kielie, verstaan jy hoekom.

Daar word tot 4 ton sampioene per maand gekweek en die publiek kan vars sampioene bestel om by die huis in hul kosdisse te gebruik. 

"Wanneer mense by die stalletjie ’n draai maak, is hulle baie nuuskierig en wil dadelik weet hoe hulle dié eksotiese sampioene kan gebruik. 

"Almal moet dit net een keer probeer – hulle sal nooit weer iets anders gebruik nie."

Die geld wat die Mushroom House genereer, word weer in die navorsing oor sampioene teruggeploeg. 

Vir meer inligting oor die Mushroom House besoek hul Facebook-blad of bel vir Christopher Rothmann by 082 491 3245.

 

 

 

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF