NUUS

Die simfonie in my ma se lyf

Johan Jack Smith, redakteur van die Taalgenoot, dink met die oog op Vrouedag terug aan sy verhouding met sy ma.

Ek het haar soms aangespreek as “Moeder” as ek wou snaaks wees. Of “Moeder Raaf” as ek regtig avontuurlustig gevoel het en sy in ’n besonderse goeie bui was. Ek probeer onthou van die spesiale oomblikke saam met haar toe ek ’n kind was. Ongelukkig was ek die meeste van die tyd so selfsugtig en selfgesentreerd dat die meeste van dié herinneringe inmekaarvloei. Ek het haar as vanselfsprekend aanvaar. Sy het dit nie maklik tussen ons vier mans gehad nie. Ek was ’n laatlam  – my middelste broer was pas klaar met matriek toe ek Sub A toe is – en my ma in haar veertigs. Ek het kanse gevat. ’n Moeilike tiener was ek beslis – en ’n tiener is volgens my maar `n redelik simpel ding. Ondankbaar. Fyngevoelig. Deurmekaar. En die meeste van die tyd eintlik maar onmoontlik om mee saam te leef. 

Ek onthou wel hoe ek eendag my humeur verloor het en ’n krieketkolf deur die sitkamervenster gegooi het. Daai dag het ek die pak slae van my lewe gekry. My pa het my darem oorgesien toe hy van die werk afkom. Die aand het my ma so sleg gevoel, sy kon nie slaap nie. ’n Week later gooi ek dieselfde kolf deur die Jurgens-woonwa se venster. Toe my pa by die huis kom, vertel sy vir hom ek het per ongeluk die krieketbal deur die venster geslaan. Ek wou nie weet wat sou gebeur het as my pa uitgevind het nie.

Sy het altyd met my gepraat oor geloof en Jesus. Hoe dit haar lewe verander het toe sy tot bekering gekom het. En ek moet bieg, ek het maar die meeste van die tyd gemaak of ek luister net om haar gerus te stel.

My ma het toe ek in my twintigs was, baie vir my geskryf toe ek oorsee was. Daai briewe bewaar ek soos goud. Die meeste van die tyd maar oor alledaagse dinge – wat gebeur by die kerk, hoe is die weer en hoe dit met my ander broers gaan. En so af en toe klaagliedere oor my pa wat te veel bier drink. Maar daar was hierdie fantastiese konneksie tussen ons op papier. Die gekrulde handskrif het my rustig gemaak. Ek kon al sien hoe sit sy met haar koppie tee by die eetkamertafel, met haar pen en pienk Croxley-skryfblad. Hoe sy af en toe die agterkant van die pen byt terwyl sy nadink oor wat sy volgende moet skryf. Ek dink dis dalk die hoofrede hoekom ek briewe mis.

Dit was egter in my twintigs. My jare van storms (eerder verswelgende donderbuie en bliksem) en drange was in my tienerjare. Ek vra haar soms daaroor, maar sy onthou nie meer veel nie. Sy is al amper 80 jaar oud (en moet tog nie vir haar sê ek verklap haar ouderdom nie!) Sy onthou wel van die goeie dinge – soos ons vakansies, haar blombeddings vol Namakwalandse daisies en gesiggies.

Ek onthou egter steeds baie dinge waaroor ek vandag nog skaam is. Die woedeuitbarstings. Die uittarting as my pa nie by die huis was nie. Die snedige aanmerkings. Die tye dat ek so kwaad geword het dat ek gate in deure geslaan het en buite myself geraak het. Sy het my net gelos en rustig op die tweesitplekbank voor die televisie gesit. Dan – nadat ek gekalmeer het en die swart kolle voor my oë verdwyn het – het ek op haar skoot gaan lê.

Ek kon haar hart rustig hoor klop. Ons het niks gesê nie. Haar hand was op my rug. Daar was `n simfonie in daai vrou se lyf wat my kalmeer het. Naby aan my oor. Daar was `n konneksie wat `n mens nie kan verduidelik nie.  Daar was note in haar maag. Geen kalmeermiddel kon dit vervang nie. En vandag, as my tweejarige seuntjie, Rijger, skree en skop en gil en ek moedeloos raak, dink ek aan daai simfonie op my ma skoot. 

En dit gee my weer hoop.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF