NUUS

#ATKVinEUR: ’n Holte vir Afrikavoete in Amsterdam

Karien Brits en Suzie Matlhola van die ATKV het Woensdag na Amsterdam vertrek vir die Week van de Afrikaanse Roman. Karien en Suzie blog van daar om hul wedervaringe met ons te deel.

***

Ek en Suzie Matlhola neem aan die Week van de Afrikaanse Roman in die Lae Lande deel om oor die ATKV se Afrikaans-in-Sowetoprojek te gesels.

Ons werksreis voldoen aan al die vereistes vir ’n propperse avontuur – ons het met die Gautrein lughawe toe gery om die moontlike Cosatu-ontwrigting vry te spring, ons hardloop rond op Charles de Gaulle (in Parys, Frankryk) om betyds vir ons aansluitingsvlug na Amsterdam te wees en dan gaan kuier ons bagasie vir die Eiffeltoring om eers 12 uur later by ons in Amsterdam aan te sluit.

So tussendeur die Babelse verwarring van Frans, Nederlands en Double Dutch vind ek en Suzie 'n holte vir ons Afrikavoete in Amsterdam. Setswana, Nederlands en Duits verenig in Afrikaans om ’n tafel in die biblioteek van die Zuid-Afrikahuis.

 

Ek en Suzie het die Afrikaanse klas besoek wat deur Elize Zorgman by die Zuid-Afrikahuis aangebied word. Suzie het hulle van haar Afrikaans-in-Sowetoprojek vertel en ons het gehoor hoekom hulle Afrikaans leer. Die redes strek van kleinkinders en familie tot studiebelangstelling. Een van die kursusgangers is ’n Duitser wat al 11 jaar in Nederland woon en ook agt maande in Suid-Afrika deurgebring het.

ATKV-groete uit Amsterdam.
Suzie en Karien

 

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF