NUUS

#ATKVinEUR: Geseënd om met tale en mense te werk

Karien Brits en Suzie Matlhola van die ATKV het verlede Woensdag na Amsterdam vertrek vir die Week van die Afrikaanse Roman. Hulle blog van daar om hul wedervaringe met ons te deel.

Hoeveel mense kan sê dat ’n ambassadeur al vir hulle gekook het (behalwe as jy familie van ’n ambassadeur is)? Ek en Suzie is nie familie van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Den Haag nie, of nie waarvan ons weet nie... Ons het egter nie tyd gehad om familie uit te lê nie, want ons moes ná die spesiale ete in ons swart Mercedes-taxi’s na die Centrale Bibliotheek van Den Haag jaag om betyds vir die “Openingsavond” van die Week van de Afrikaanse Roman te wees.

Die Week van de Afrikaanse Roman is Vrydagaand (29 September) in samewerking met B-Unlimited (het Haags centrum voor literatuur, science en debat) geopen. Christine Otten, ’n bekende Nederlandse skrywer, het onderhoude met Rudie van Rensburg, Willem Anker en Ingrid Winterbach gevoer. Amy Jephta het die gehoor ’n kykie na Kaapse Afrikaans gegee en Andries Bezuidenhout het as gaskunstenaar die liedjies van onder andere Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel gesing. Ook ek en Suzie het ons buiging gemaak. Suzie het meer oor die Afrikaans-in-Sowetoprojek vertel en ons het ons gunstelingliedjie oor ’n skedonk in Sesotho gesing.

Die mense wat vir my en Suzie ken, weet dat ons graag in Setswana of Sesotho skinder. Ons het ons rieme amper styfgeloop, want ná ons optrede het een van die Nederlandse ooms na ons toe gekom en Sesotho met ons begin praat! Wys jou net, ’n mens moet maar versigtig skinder – ook in die buiteland!

Daar was ook nie ’n kans om ’n bietjie later op die Saterdagoggend te lê nie, want ons moes vroeg uit die vere wees vir die Drongo Talenfestival waar ek en Suzie ’n aanbieding oor meertaligheid as brugbouer in Suid-Afrika gedoen het. Die aanbieding is deur die Nederlandse Taalunie geborg.

Die naweek se aktiwiteit is Sondag afgesluit met ’n besoek aan die Evangelische Broedergemeente in die Surinaamse gemeenskap in Bijlmer. Die diens was tweetalig – in Nederlands en Sranantongo. Daar is nie woorde om te beskryf hoe hartlik ons by die gemeente ontvang is nie. Daar is net dankbaarheid in ons harte vir die liefde waarmee daar vir ons en die Afrikaans-in-Sowetoprojek gebid is. Ons is inderdaad geseënd om met tale en mense te mag werk.

Groete uit Amsterdam
Karien en Suzie

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF