NUUS

#ATKVinEUR: Verandering lê soms net in een mens se droom

Karien Brits en Suzie Matlhola van die ATKV het verlede Woensdag na Amsterdam vertrek vir die Week van die Afrikaanse Roman. Hulle blog van daar om hul wedervaringe met ons te deel.

Ons het Maandag by die Zuid-Afrikahuis gekuier. Dit is ongelooflik om te hoor en te sien wat Guido van den Berg en sy span alles vermag. Hul werksaamhede strek van Afrikaanse klasse vir Nederlanders, Nederlandse klasse vir Afrikaanssprekendes, ’n biblioteek met Afrikaanse en ander boeke, letterkundige gesprekke, die leerstoel vir Suid-Afrikaanse letterkunde en die tydskrif, Maandblad. En ek het steeds nie naastenby alles genoem wat hulle doen nie!

Ek en Suzie het weer geleer dat huis nader is wat ’n mens dink. Ons het by die Nieuwe Kerk op die Damplein in Amsterdam na die uitstalling, We have a dream, gaan kyk. Die uitstalling handel oor die menseregteaktiviste Ghandi, King en ons eie Madiba. Die uitstalling kon net die hoogtepunte van hierdie drie mense se lewens uitlig, maar dit is genoeg om gesprekke aan die gang te sit oor die onreg in hierdie wêreld. Dit vat egter soms net een mens om verandering teweeg te bring – en dit is ook Suzie se motto met die Afrikaans-in-Sowetoprojek.

Dinsdag het ons in die Biljmer*, ’n multikulturele woonbuurt, by ’n laerskool met die naam Crescendo gaan inloer en vir die leerders in Afrikaans oor Suid-Afrika vertel. Die leerders was mal oor die klapklanke van isiXhosa. Ons het saam met ’n leerder haar verjaardag gevier en ek en Suzie het vir haar ’n verjaardagliedjie in Afrikaans gesing.

Een van die kinders het tot die slotsom gekom dat daar baie Nederlandse woorde in die liedjie is!

Die dag is afgesluit deur ’n besoek aan die openbare biblioteek van Amsterdam. Ek en Suzie het ons verkyk aan die uitstallings vir kinders en ons kon nie help om te droom oor wat ons nog in Suid-Afrika kan doen nie ...

*Lees hier meer oor die Bijlmervlugramp.

Groete uit Amsterdam,

Suzie en Karien

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF