NUUS

ATKV-Tienertoneel: Benoude oomblikke toe akteur verdwyn

Die Hoërskool Zwartkop beleef ’n tienertoneeldroomjaar, maar dit was so hittete of hulle het een van hul akteurs verloor.

Twee van dié Centurionse skool se produksies, Hospitaal 224 en Min of Meer?, is vanaand (Woensdag 4 Oktober) in die finaal van ATKV-Tienertoneel in die Kunstekaapteater te sien. ’n Derde produksie speel tydens Aardklop as deel van die Pronkpodium-projek.

Dit was op pad na die ATKV-Tienertoneelstreeksfees wat Christof Grobbelaar soek was.

Christof vertolk die rol van ’n jong seun in Hospitaal 224. Dit was aanvanklik ’n uitdaging om ’n jong laaitie te kry wat saam met die hoërskoolkinders kon rondtoer en wat ook lig genoeg was om op te tel. 

Op pad na die streeksfees het die toneelgroep net buite Bloemfontein gestop om te eet. ’n Halfuur later was die mae vol en die paniekvlakke het ook sommer die hoogte ingeskiet. Christof was skoonveld.

’n Soekgeselskap het kruis en dwars gesoek, maar van Christof was daar geen teken nie. Totdat hy ’n halfuur later doodluiters aangestap kom en kom vra waaroor die bohaai gaan. Christof se palet is blykbaar aan meer gesofistikeerde smake gewoond en hy het soesji bo ’n hamburger verkies. Waarom sal ’n akteur met ’n blink toekoms nou in ’n ketting-wegneemeterestaurant eet as hy rou vis kan geniet?

Die ATKV-Tienertoneelfinaal strek van 4 tot 7 Oktober in die Kunstekaapteater. Kaartjies is by Computicket beskikbaar. 

ATKV-lede kry spesiale afslag op kaartjies en moet net hul ID-nommer by die bespreking op die Computicket-webwerf intik. Spesiale pryse vir blokbesprekings is ook beskikbaar.

Vir die program klik hier. – Izak de Vries

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF