NUUS

ATKV-Tienertoneel: Stuk van HMS Bloemhof draai nie doekies om

“Record jy nog? Wat sal ek doen om myself… uhm… soos… ek wens net soms geen ou wil vir my kyk nie.”

Dit is woorde uit die Hoër Meisieskool Bloemhof se inskrywing vir ATKV-Tienertoneel 2017 getiteld: Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed).

Dié Stellenbosse skool is nou al bekend vir sy verbatimteater, wat ’n vorm van dokumentêre teater is. Die toneelgeselskap begin deur onderhoude te voer en te luister na mense om hulle. Daardie woorde word dan verbatim binne ’n fyn uitgewerkte toneelstuk gebruik.

In 2015 het dié skool ATKV-Tienertoneel gewen met Vyf, ’n stuk wat gehandel het oor die lewe in ’n meisieskool. Hierdie keer kyk die groep veel breër en die temas wat hulle aanspreek, is meer universeel.

Die ATKV het met René Cloete oor hierdie stuk gesels. René is in graad 12 en is nou al ’n veteraan van ATKV-Tienertoneel. Sy speel ook ‘n sterk leidende rol in vanjaar se vertoning.

Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed)” is, onder leiding van André Gerber, deur die ensemble nagevors geskryf. Die regie word deur Gerber en Anél Joubert behartig.

Die stuk spreek harde werklikhede aan. Die stukkie monoloog hierbo handel oor meisies se vrese as mans hulle verkeerd aankyk. Die stuk draai nie doekies om nie, maar laat ook die gehoor lag, en dan word hulle weer saam met die spelers stil.

Die ATKV-Tienertoneelfinaal strek van 4 tot 7 Oktober in die Kunstekaapteater.

Vir die program klik hier. – Izak de Vries

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF