NUUS

ATKV-Tienertoneel: Bitter onderwerp met groot deernis aangepak

Die toneelgroep van die Hoërskool Tygerberg skram beslis nie weg van moeilike onderwerpe nie. Verlede jaar was hulle tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal op die planke met ’n stuk oor die mense van Distrik 6 wat Ravensmead toe geskuif is. In vanjaar se stuk probeer hulle verduidelik waarom van die mense van Ravensmead in die tronk beland.

Die stuk wat Innie selle heet en die lewe van bendelede in die tronk uitbeeld, is een van twee stukke van dié skool wat vanjaar sake gaan uitspook om as die wenner van ATKV-Tienertoneel gekroon te word.

Innie selle is ’n harde stuk, maar word uiters smaakvol aangepak en daar is deernis met selfs die mees geharde misdadigers. ’n Mens sien dit ook in die spelers se aanbieding van hul karakters.

Donderdag, net voor die groep se tegniese oefening, vra die ATKV vir ’n onderhoud. “Nee,” antwoord een van die spelers, “kyk eers die stuk, dan gesels ons”.

Waarom wou hulle nie vooraf praat nie?

“Jy moes die stuk sien om uit te vind waarom mense tronk toe gaan,” antwoord Zane Sauls onmiddellik.

Zane speel verskeie uitdagende rolle baie oortuigend. Hy en die ander jongmense is duidelik baie trots daarop dat hulle die méns agter die misdadiger mag belig.

“Daar is steeds sagtheid in die tronk. Elke mense het nog iets sag aan hom, selfs die gehate Groot 8,” sê ’n lid van die groep.

Groot 8 is ’n groot man met spiere wat bult. Hy speel die leiersrol met die soort gesag wat lyk of dit kom van jare se intimidasie. Om daardie rang te bereik moes hy immers verskeie misdade gepleeg het. Tog, Edja de Meyer, wat die rol van Groot 8 vertolk, is in wese ’n baie sagte seun wat hard moes werk om daardie houding aan te leer.

Groot 8 is boonop hierdie keer onskuldig in die tronk. Dit gebeur so: Hy help ’n antie wat aangeval word. Die antie is toe so deurmekaar geskrik, sy beskuldig sommer vir Groot 8 daarvan dat hy die aanvaller was. Die polisie? Hulle weet hy is ’n geharde misdadiger en aanvaar eenvoudig die tannie se storie. Die regstelsel glo dit ook en stuur hom selle toe.

Pieter Nel, wat die stuk geskryf het, sê die kyker leer die storie agter elke misdaad ken. Innie selle is nie vir sensasie geskryf nie. Die teendeel is eerder waar. Maar, die kyker moet weet hoe moeilik dit is om uit die moeilikheid te bly in gebiede wat deur die bendes beheer word.

Twee van die spelers woon in Ravensmead, en verskeie ander woon in gebiede waar bendes en geweld ’n deel van hul lewens is .

In hierdie stuk is daar ’n voorbeeld van iemand wat lukraak deur ’n koeël getref word. Dit is ingebou ná ’n voorval kort voor een van die toneelgroep se oefeninge. “Daar in die Ravies speel ons altyd so 16:00 sokker. Toe hoor ons net tat-tat-tat en die mense hardloop!”

’n Uur later was die speler op die verhoog.

Pieter Nel verduidelik dat hy fyn geluister het na die leerders se vertellings en hul stories. Toe het hy verder navorsing gedoen en gewoon koerante gelees. So het Groot 8 en die verskillende gangsters lewe op die verhoog gekry.

Die taalgebruik in die stuk is baie goed. Die verskillende variante van Kaaps en tronktaal word fyn hanteer en daar is ook heelwat sang en ritme in die stuk. 

Die gangsters word deur Jay-D Sanderson, Zinedine Manus, Zane Sauls, Kyle Esterhuysen, Alessandro Dirk en J.P. Matthee gespeel .

Hano Groenewald en Danté Barnard speel die tronkbewaarders. Hulle het baie hard daaraan gewerk om aggressief oor te kom wanneer dit nodig is, en tog ook ’n menslike sy te openbaar.

Maar hoe voel die seuns se ouers of voogde oor die stuk?

“Zane se pa is ons grootste fan,” sê een lid. “Die oom het ons orals gevolg! Ons is nou in graad 12, maar die oom sê volgende jaar gaan hy weer op ’n teatertoer, al is ons dan uit die skool uit!”

Zane lag maar net. Hy kom uit Ravies uit en is trots daarop dat sy pa so oor hul stuk voel.

Nog ’n speler sê sy boetie het die stuk onlangs gesien. “Hy kom vertel toe vir my ma-hulle alles. Alles van Groot 8 en alles van hoe dit is.”

Corleze de Bod, die verhoogbestuurder en beligtingsoperateur, is die enigste meisie in die geselskap. Hoe voel sy oor die stuk? “Ek het geweet daar gebeur slegte goed, maar dis anders om te hoor wat regtig gebeur.” Sy bly ’n oomblik stil en kyk na die pop (die pasgebore baba wat in ’n vullisdrom gegooi word) en sê: “Ek het dalk nou gewoond geraak, maar soms, as ek sien wat hulle speel, dan sien ek weer die onregverdigheid in die wêreld.”

Op ’n vroliker noot word daar gesels oor die uitstekende gebruik van die stel. Mure word beddens word storte word ’n huis... Sommer so. Alles is op wiele en die stel verwissel flink.

“Ek hou van wiele,” sê Pieter en lag.

“En ek hou daarvan om wiele te maak,” sê Frans Hamman, wat die hele stel gebou het.

Pieter en Frans het ook die regie behartig.

Handré Petzer was die klankoperateur.

Innie selle is uit die boks, maar innie kol. 

Die ATKV-Tienertoneelfinaal strek van 4 tot 7 Oktober in die Kunstekaapteater.

Vir die program klik hier– Izak de Vries

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF